Paulus se Toespraak

28 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus se Toespraak

Handelinge 21:37 tot 22:22

VIDEO | OUDIO

Wanneer Paulus die kommandant Klaudius Lisius in sy moedertaal, Grieks aanspreek is die soldaat baie verbaas. Hy was oortuig dat hy daardie Egiptenaar was wat so baie moeilikheid veroorsaak het.

Die Egiptenaar ter sprake het homself voorgedoen as 'n profeet, so vertel die Joodse historikus Flavius Josefus. Hy het 'n klomp Jode opgesweep en hulle na die Olyfberg geneem. Daar moes hulle saam met hom wag vir die regte oomblik. Op sy bevel sou die mure van Jerusalem ineenstort, soos destyds met Jerigo en dan sou hulle al die Romeine uit die stad uit verdryf. Daar was 'n reuse skare mense in groot afwagting saam met hom op die Olyfberg.

Voordat hy egter sy daad kon uitvoer, slaan die Romeinse garnisoen op hulle toe en maak 'n klomp van hulle dood. Die Egiptenaar het die woestyn van Judea ingevlug saam met vierduisend van sy volgelinge!

Nee, Paulus is nié daardie Egiptenaar nie, so lig hy die kommandant in. Hy is inderdaad 'n Jood maar nie sommer enige plaaslike Jood nie, hy is afkomstig uit die belangrike kultuurstad Tarsus in Silisië en hy is boonop 'n burger van daardie stad. Die kommandant moet dus besef dat Paulus Romeinse burgerskap het en dat hy dus voorregte het wat die gewone Jode nie het nie. “Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek,” versoek hy vir Klaudius.

Die kommandant staan sy versoek toe en Paulus gaan staan op die trap en draai na die rumoerige skare. Hy hou sy hande in die lug en die mense raak stil. In perfekte Aramees spreek Paulus die skare toe en skielik heers daar 'n doodse stilte dat jy 'n speld kan hoor val!

Dalk moet ek dit net hier noem, dat wanneer die Nuwe Testamentiese skrywers praat van Hebreeus, dan word daar eintlik verwys na die algemene spreektaal van die Jode, Aramees. As Lukas dus in Hand. 21:40 sê dat Paulus in Hebreeus met hulle praat, dan bedoel hy Aramees.

Broers en vaders, luister na wat ek nou tot my verdediging vir julle wil sê,” begin Paulus baie beleefd. Almal luister aandagtig wanneer Paulus vertel wie hy is en waar hy vandaan kom. Hy is 'n rasegte Jood uit Tarsus. Volgens sy afkoms móét hy 'n eerbare man wees. En dan het hy boonop onder die beroemde en gerespekteerde Gamaliël gestudeer, waar hy volgens die streng opvattings van die wet van Moses opgelei is. “Ek was net so 'n kampvegter vir God soos julle vandag is,” vertel hy en hulle respek vir hierdie groot man styg nóg hoër.

Paulus maak dit baie duidelik dat hy nie besig is om die een of ander vreemde godsdiens te verkondig nie en boonop is hy gladnie vyandig teenoor die Joodse tradisies nie. Hy respekteer dit en sy agtergrond getuig daarvan.

Dan vertel hy hoe hy destyds die Christene vervolg het en mans en vrouens in die tronk laat stop het. “Vra maar vir die hoëpriester, hy en die hele Joodse Raad sal dit alles bevestig!” vertel hy smalend. “Ek het selfs bekendstellingsbriewe van hulle gekry om die Christene te gaan jag so ver as Damaskus!” voeg hy by.

Het ons onsself dan totaal misgis met hierdie eerbare man?” vra 'n paar ou ringkoppe vir mekaar.

Sien ons hier 'n totaal ander sy van Paulus? Beslis nie! Hy probeer maar net om die skare se volle aandag te kry sodat hy aan hulle die ware blye nuus, die Evangelie van Jesus kan meedeel.

Wanneer Paulus die vertroue van die skare het, vertel hy van sy Damaskuservaring. Hy vertel dat hulle besig was om te reis na Damaskus om daar die mense van “die Pad” (soos Christene daardie tyd genoem is) te gaan vervolg, toe daar skielik 'n helder lig uit die hemel skyn wat hom totaal verblind het. Al sy reisgenote het die lig gesien.

Paulus vertel vir die skare, wat steeds met volle oorgawe na hom luister, dat hierdie Jesus van Nasaret sy lewe dramaties verander het. Na sy ontmoeting met Jesus het hy 'n totale nuwe visie en lewenstaak gehad. Om die waarheid te sê, die Here het hom aangestel as getuie van Sy opstanding!

Na sy Damaskuservaring is hy terug na Jerusalem toe. Hy het daar in die tempel gaan bid soos wat hy al sóveel keer gedoen het. Daar, terwyl hy in gebed was het hy 'n geestesvervoering beleef. Hy het 'n visioen gehad waar hy vir Jesus gesien het. Die Here het hom gewaarsku om dadelik uit Jerusalem weg te gaan want die mense sou nie sy boodskap aanvaar nie. Paulus het dit begryp want dit was nog vars in almal se geheue dat hy die gelowiges wreed vervolg het en selfs betrokke was by Stefanus se steniging. Sy opdrag van Jesus het egter meer behels want hy moes weggaan om die Evangelie na die heidene toe te neem!

Skielik was die skare woedend! "So ‘n man behoort nie eers te bly lewe nie! Weg met hom! Hy verdien die doodstraf!” weerklink die gille!

Maar hieroor sal ons more verder lees. Mag hierdie dag vir jou ‘n besondere een wees, propvol opwinding en gevul met die goedheid en liefde van God.

Gebed:

Here, maak my asseblief ook soos Paulus, onverskrokke om die blye boodskap van U verlossing te verkondig!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026