Paulus se Beleidsverklaring

21 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus se Beleidsverklaring

1 Tessalonisense 2:1-12

Iemand wat besluit om die Woord van God uit te dra en te verkondig, moet uiters versigtig wees dat sy motiewe 100% suiwer is en dat hy met groot omsigtigheid die taak verrig. Dit mag nooit oor eie gewin gaan nie, of om ‘n naam vir jouself te maak nie. Dit is veral die hoë bome, die seders van die lewe wat moet oppas dat die roem wat hulle te beurt val, nie die oorhand kry nie. Maar ook die gewone gelowige wat op klein skaal in die Koninkryk werk, moet ewe versigtig wees.

Paulus is waarskynlik daarvan beskuldig dat sy reuse suksesse op die sendingveld na sy kop gegaan het, en dat hy hom opgehou het met vleitaal. Nog erger, dat hy eintlik net wou geldmaak uit sy bediening. Dalk is dit die rede vir sy “beleidsverklaring” in hierdie paragraaf. Hier verduidelik hy omslagtig hoe hy sy bedieningsveld benader. Hy doen dit nie om ‘n skinderveldtog te probeer afweer nie, maar eerder om vir die gemeente te verduidelik waaroor sy werk nou éintlik gaan.

Ten spyte van die feit dat Paulus en sy geselskap uit Tessalonika moes vlug voor ‘n woedende skare, was hulle bediening tóg suksesvol. ‘n Mens laat al te maklik toe dat ‘n enkele ou insidentjie jou onderkry. ‘n Paar jaar gelede het iemand my lelik uitgevloek oor ek dit durf waag het om vir hom die evangelieboodskap te stuur. Vir dae het ek met ‘n sieklike knop op my maag geloop, en bitterlik jammer vir myself gevoel oor die onreg wat ek aangedoen is. Ek het selfs skuldig gevoel! My bediening het daaronder gely. Later het ek egter besef dat sulke dinge maar gebeur. Dit is net een van die dinge wat jy moet verwag as jy ernstig is oor die Evangelie. Later, toe iets soortgelyks gebeur, het ek eintlik bitter jammer gevoel vir die man wat Jesus verwerp het. Toe Paulus uit die stad gejaag is, het hy nie gekyk na die onreg of teleurstelling nie, maar na die reuse sukses wat behaal is onder die gelowiges wat oorgebly het. Moenie dat ‘n paar struikelblokke in jou pad jou bediening verongeluk nie! Die Here sal jou die krag gee om voort te gaan ten spyte van enige soort teëkanting.

Paulus verduidelik wat sy bediening is en NIE is nie. Die doel is nie bewondering vir Paulus nie, maar om te dien as voorbeeld vir elke gelowige wat erns wil maak met sy roeping. Drie dinge noem Paulus waarvan jy NIE sy bediening kon beskuldig nie: beslis nie ‘n dwaling of om mense om die bos te lei met die heuningkwas of vleitaal nie. Mooipraatjies bring jou nêrens! Tweedens was daar géén onsuiwere beweegredes vir sy bediening nie. Finansiële gewin of hebsug was nooit ter sprake nie. Soms wonder jy oor sommige groot evangeliste wat in reuse paleise woon. Is hulle motiewe werklik suiwer? Aan die ander kant het ek al verskeie briljante mense teëgekom wat absoluut alles in die lewe opgegee het om die armstes van die armes te bedien. Derdens is Paulus se bediening sonder enige bybedoelings. Nooit het hy enigiets gesê of gedoen om eer te kry nie.

Wat het Paulus se bediening dan wél behels? Weereens noem hy drie dinge, en hy vergelyk dit met die eienskappe van ‘n babatjie, ‘n ma en ‘n pa.

Eerstens, soos wat 'n babatjie absoluut geen pretensies het nie, sonder ’n sweempie verwaandheid, enige bybedoelings en allerhande truuks om mense se lof in te oes, so was Paulus en sy medewerkers se bedoelings absoluut suiwer. Ons moenie God se opdragte probeer uitvoer met allerhande foefies om mense te beïndruk nie! Moenie iemand probeer bluf nie! Soos ‘n babatjie moet jy wys presies wat jy voel en bedoel.

Die tweede eienskap van sy bediening vergelyk Paulus met ‘n ma, wat nie alleen haar melk vir haar baba gee nie, maar sy is verder bereid om haarsélf vir hom te gee. Op dieselfde wyse was Paulus-hulle bereid om die Evangelie sonder enige finansiële gewin vir die gelowiges te gee. Nog veel meer: hulle was bereid om hulle lewens op te offer om die Evangelie vir die mense te bring. Paulus onthou nog baie goed hoedat hy en Silas daar in Filippi gegésel en in die kerker vasgeketting is. Nooit het hulle boonop enige geld gevra vir hulle bediening nie, maar hulle het vir hulleself gesorg, en nooit toegelaat dat iemand hulle onderhou nie. Inderdaad moet ek bereid wees om soos ‘n ma myself te gee, op te offer in my dienswerk vir God.

Die derde eienskap wat Paulus noem, is dat hy soos ‘n pa opgetree het. ‘n Pa wat nie die heuningkwas gebruik, en vir sy kinders vertel dat hulle oulik is wanneer hulle dit nié is nie. Hy het egter elkeen indiwidueel bemoedig, aangespoor en dit op die hart gedruk om hulle lewens volgens God se wil in te rig. Hiermee vra Paulus vandag van my en jou om die goedkoop heuningkwas weg te gooi en eerlik en reguit met mense te wees. Soos ‘n pa moet jy bereid wees om iemand oor die vingers te tik as hy verkeerd is, maar terselfdertyd die nodige aansporing en motivering te gee om te lewe tot eer van God.

Gebed:

Here, leer my om ook soos Paulus onbevrees en sonder enige pretensies die Evangelie uit te dra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026