Paulus in Efese

13 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus in Efese

Handelinge 19:1-10

Paulus het na sy kort besoek aan Antiogië weer vertrek na die sendingveld. In 52 nC kom hy in Efese aan, die doel van sy besoek, om die gelowiges daar te versterk. Tydens sy vorige besoek, op pad terug na Antiogië, kon hy nie baie lank daar vertoef nie. Hy is daar egter goed ontvang deur die Joodse gemeenskap. Hulle het eintlik gesoebat dat hy langer moes bly. Nou keer Paulus terug, en hy bly langer as twee jaar in die stad. Nie alleen onderrig hy die gelowiges nie, maar hy skryf in hierdie tyd ook van sy belangrikste briewe. Sy twee briewe aan die Korintiërs kry hier hulle beslag. Dit was dus ‘n baie vrugbare twee jaar wat hy in Efese deurgebring het.
Lukas vertel dat Paulus met sy aankoms in Efese ‘n twaalftal gelowiges raakgeloop het wat nog nie geweet het van die Heilige Gees of van die Christelike doop nie. Dit klink amper ondenkbaar dat daar gelowiges kon wees wat geestelik sonder hierdie twee baie belangrike elemente van die geloof kon leef. ‘n Mens kon hulle beswaarlik “gelowiges” noem, want hierdie is ‘n integrale deel van die geloof. 
Vandag kry jy steeds gelowiges wat slegs een of twee aspekte van die geloof uitsonder en dit aanhang. Die res ignoreer hulle bloot! Dit is ‘n baie gevaarlike praktyk, want dit maak jou geloof totaal ongebalanseerd. Dit is belangrik om te onthou dat Christen-gelowiges die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees aanbid. Ons kan nie slegs een Persoon van die Drie-Eenheid uitsonder nie. Elke Persoon van God is ewe belangrik in ons lewe. Daar is ook ander aspekte van ons geloof wat ons nie durf vergeet of laat slaplê nie. Sonder hierdie dinge is ons geloof nie alleen armer nie, maar versuim ons om die wil van God te doen. Ons dink byvoorbeeld aan aspekte soos die doop, nagmaal, uitleef van die liefdesgebod, gemeenskap met ander gelowiges ens. Om jou geloof sinvol te kan uitleef moet jy dus ‘n gebalanseerde, holistiese benadering hê wat alle aspekte van die geloof insluit. En jy moet ook nie een aspek uitsonder wat jy ten koste van die ander ophef nie, maar jy behoort alle aspekte van jou geloof ewe belangrik ag.
Maar terug in Efese: hierdie twaalf manne wat Paulus daar raakloop, het waarskynlik as gevolg van Apollos se prediking, voordat hy vir Priscilla en Akwilla ontmoet het, tot geloof gekom, en hulle het nooit die volle waarheid gehoor nie. Inderdaad was daar selfs in die vroeë kerk ook gelowiges wat die omvang van die Evangelie nie mooi gesnap het nie, net soos wat dit dikwels vandag steeds die geval is.  Paulus moes baie mooi verduidelik om hulle op die regte pad te kry! Hierdie verhaal het egter ‘n pragtige einde: daar het uiteindelik ook vir húlle ‘n lig opgegaan!
Ons moet terloops dalk ook net hier noem dat, alhoewel die doop hier as ‘n baie belangrike aspek van die geloof genoem word, ons dit nooit as ‘n reddingsmiddel mag sien nie. Die doop is slegs die uiterlike merkteken dat die persoon deel van die kerk is. ‘n Pastoor het eenmaal teenoor my opgemerk dat mense wat nie op ‘n sekere manier gedoop is nie, nie gered is nie. Dit is die grootste snert! Hiermee wil ek beslis nie ‘n bespreking uitlok oor doopmetodes nie, want daaroor is daar baie verskillende menings, en om daaroor te stry is sinneloos. Die feit is dat die doop wél belangrik is. Paulus het ook nie vir ‘n oomblik gehuiwer om hierdie manne te doop nie, en nadat hy hulle die hande opgelê het, het hulle die Heilige Gees ontvang en in ongewone tale gepraat, en begin om God se boodskap te verkondig. Hierdie is nóg ‘n aspek van die geloof wat ons gerieflikheidshalwe vandag agterweë laat!
By Paulus se vorige besoek aan Efese was hy baie vriendelik in die sinagoge ontvang deur die Jode. Hierdie slag het dinge egter suur geraak, en baie gou het dieselfde manne wat hom die vorige keer gesoebat het om langer te bly, sy boodskap belaglik probeer maak en hom daar uitgewerk. Paulus se reaksie was bloot om ‘n ander plek te kry vanwaar hy die Woord verkondig. In die sinagoge was sy bediening beperk tot die sabbat. Nou kry hy egter die gebruik van die saal van Tirannus. Dit was waarskynlik ‘n privaat ouditorium waar Tirannus mense onderrig het in retoriek. Daar het Paulus elke dag tussen 11:00 en 16:00 wanneer die saal nie in gebruik was nie, die gelowiges onderrig. Op hierdie tyd van die dag was dit die gebruik dat almal ’n middagslapie nuttig!
Weereens is dit baie belangrik dat ons sal besef dat wanneer teenspoed jou die dag tref, dit nie nodig is om in sak en as te gaan sit en sanik nie. Paulus het eenvoudig van die probleem ‘n uitdaging gemaak en ‘n ander uitweg gaan soek. En ‘n baie beter oplossing gevind! Baiemaal is teenspoed slegs ’n uitdaging om ons aan te spoor om te gaan soek vir die beter uitweg, iets wat God alrééds vir ons beplan het. Paulus skryf in sy brief aan die Filippense dat ons in alle omstandighede bly moet wees. Ons sien ook deur sy hele lewe hoedat hy hierdie woorde prakties uitleef, en dat dit nie net praat is nie. Kom ons leef dit ook so uit.
Gebed:
Here, maak asseblief my dag ‘n lied wat borrel uit my hart, en help my asseblief om my geloof gebalanseerd uit te leef tot eer van U wonderlike Naam.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026