Paulus in Efese

18 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus in Efese

Handelinge 19:1-10

VIDEO | OUDIO

Paulus het na sy kort besoek aan Antiogië weer vertrek na die sendingveld. In 52nC kom hy in Efese aan, die doel van sy besoek, om die gelowiges daar te versterk. Tydens sy vorige besoek, op pad terug na Antiogië kon hy nie baie lank daar vertoef nie.

Wanneer Paulus in die groot stad Efese aankom, gaan soek hy sy twee goeie vriende, Priscilla en Akwila op. Sommer dadelik word hy genooi om by hulle te kom bly vir so lank as wat hy in Efese is en natuurlik kan hy en Akwila mos lekker saam werk om tente te maak! Hy vra uit oor Apollos en dan vertel hulle hom van hierdie wonderlike charismatiese prediker. “Maar op die oomblik is hy nog in Korinte. Die berigte wat ons ontvang, is dat hy veral onder die Jode daar baie vrug op sy arbeid het.”

Paulus is die volgende dag na die sinagoge, waar hy met ope arms ontvang word. Die mense onthou nog baie goed van sy vorige besoek en hy kan met groot vrug met hulle redeneer.

Wanneer hy 'n los tydjie het, gaan stap Paulus deur die groot stad om dit te verken. Oral probeer hy praatjies aanknoop met mense oor die Evangelie. “O ja, ons is ook gelowiges,” sê een paartjie opgewonde vir hom en dan word hy uitgenooi om sommer dieselfde aand nog met hulle groep te kom gesels.

Daardie aand tref Paulus 'n groep aan van twaalf gelowiges bymekaar. Hulle wag in groot afwagting op hierdie prediker om iets met hulle te kom deel. Wanneer Paulus sy oë laat gaan oor die groepie, hoor hy 'n stem in sy binneste: “Vra hulle uit oor die Heilige Gees.”

“Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” vra hy met 'n glimlag op sy gesig. Natuurlik ontvang alle gelowiges mos die Heilige Gees!

Paulus is geskok as hy hulle antwoord hoor: “Die Heilige Gees? Het Hy dan al gekom?” Hy kan sy ore nie glo nie!

Nou begin hy wonder of hierdie mense ooit iets weet: “En die doop? Is julle al gedoop?”

“O ja,” vertel een kêrel, “Apollos het ons almal gedoop. Ons het bely dat ons sondig is en die doop was die teken dat ons ons sondes voor God bely het en dat ons tot bekering gekom het.”

Paulus wil sy klere skeur uit frustrasie. Hierdie mense het nie eers die vaagste idee waaroor dit alles gaan nie! Daar lê vir hom groot werk voor om eers al die wanpersepsies wat hulle het tot niet te maak en dan van voor af te begin om die Evangelie vir hulle duidelik te maak. G'n wonder dat hulle na al hierdie tyd nog steeds net twaalf is nie! Dan begin hy te verduidelik dat die doop wat hulle ontvang het, lankal uitgedien is. Hulle is met Johannes se doop gedoop, 'n boetedoop. Hulle moet nou die Christelike doop ontvang as teken dat Jesus hulle die verlossing gegee het. Die Heilige Gees moet boonop deel wees van hulle lewens.

Die twaalf is hierna in die Naam van Jesus gedoop en Paulus het hulle die hande opgelê. En dan gebeur die wonderwerk: Hulle word almal vervul met die Heilige Gees! Daarna het die twaalf manne, vol van die Heilige Gees, met groot vrymoedigheid die Evangelie verkondig in Efese. Baie gou besef Paulus: Hier is sommer baie werk!

Vir drie maande lank is hy gereeld in die sinagoge om daar met die Jode te redeneer oor die Koninkryk van God. Daar was baie Jode in die stad en 'n goeie aantal van hulle het tot geloof gekom in Jesus. Maar daar was ook die hardkoppiges wat net eenvoudig nie wou verstaan nie. Uiteindelik het hulle dit vir Paulus moeilik begin maak. Hulle het allerhande stories oor hierdie nuwe Godsdiens wat Paulus verkondig loop en vertel en hulle het dit in die openbaar belaglik probeer maak!

Naderhand kon Paulus dit net nie meer vat nie. Hy sou 'n ander plan moes probeer maak. Hy kon dit maar net nie kleinkry dat dit altyd die Jode was wat so hardekwas was nie! Onder die heidene was daar talle wat tot geloof gekom het maar die Jode het hulleself bly verhard! Hy het met Akwila en Priscilla oor sy dilemma gesels.

“Tirannus het 'n saal waar hy kinders oplei in retoriek. Jy weet mos dat die kuns van openbare gesprekvoering 'n groot ding is hier in Efese.”

“Ja, maar ons kan tog nie die saal gebruik terwyl hy besig is met klasse nie?”

“Paulus, het jy vergeet dat ons elke dag tussen 11-uur en 4-uur siësta het? Dan is almal besig met sy middagslapie. Ek is séker daarvan dat Tirannus nie sal omgee as ons sy saal gebruik in daardie tyd nie. Dan kan ons retoriek beoefen saam met die gelowiges!”

Paulus was dadelik in sy noppies met die idee. Hiervoor gee hy sommer maklik sy middagslapie op! En Tirannus stem in. Nou het die gelowiges 'n permanente saal waar hulle elke middag kan bymekaarkom om diep geestelike gesprekke te voer in die tyd wanneer al die ander mense 'n middagslapie geniet!

Weereens is dit baie belangrik dat ons sal besef dat wanneer teenspoed jou die dag tref, dit nie nodig is om in sak en as te gaan sit en sanik nie. Paulus het eenvoudig van die probleem ‘n uitdaging gemaak en ‘n ander uitweg gaan soek. En ‘n baie beter oplossing gevind! Baiemaal is teenspoed slegs ’n uitdaging om ons aan te spoor om te gaan soek vir die beter uitweg, iets wat God alrééds vir ons beplan het. Paulus skryf in sy brief aan die Filippense dat ons in alle omstandighede bly moet wees. Ons sien ook deur sy hele lewe hoedat hy hierdie woorde prakties uitleef en dat dit nie net praat is nie. Kom ons leef dit ook so uit.

Gebed:

Here, maak asseblief my dag ‘n lied wat borrel uit my hart, en help my asseblief om my geloof gebalanseerd uit te leef tot eer van U wonderlike Naam!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026