Handelinge 28:1-10
Dit is 'n bedremmelde klomp manne wat op die strand van die eiland Malta uitspoel. Maar gelukkig is die inwoners van die eiland vriendelike Fenisiërs wat hulle baie gou welkom laat voel. Maar dan begin dit reën en dis bitter koud. Die eilandbewoners spring gou aan die werk om die verkluimde manne 'n bietjie warmte te gee, en hulle maak 'n groot vuur. Paulus spring ook in om hout bymekaar te maak, maar wanneer hy sy bondel hout in die vuur gooi, is daar 'n giftige slang in wat ontwaak van die hitte. En die dierasie slaan sy gevaarlike tande in Paulus se hand in, en daar hang hy vir almal om te sien.
Die eilandbewoners deins verskrik terug, nie vir die slang nie, maar vir Paulus! “Daardie man moet beslis 'n moordenaar wees!” fluister hulle vir mekaar terwyl hulle skeef na Paulus kyk.
“Ja,” beaam een van die manne, “hy het die storm oorleef, maar nou neem die gode op 'n ander manier wraak oor sy misdaad! Hy sal beslis nie lewe nie!” Die gode sál jou terugkry op die een of ander manier, so glo hulle. As jy die een ongeluk fnuik, kry hulle jou op 'n ánder manier beet!
Vandag is dit steeds so dat mense die een of ander goddelike verklaring het vir dinge wat met ons gebeur. Doen jy iets verkeerd, dan rus God se straf op jou, of die duiwel kry jou beet. Doen jy iets goed, dan is die goeie dinge wat met jou gebeur God se seën op jou omdat jy so goed is.
Hierdie soort van verklarings is baie gevaarlik. Niemand kan God se handelinge verklaar in die dinge wat gebeur op aarde nie. Daar is ook nie 'n verband tussen die mense se sonde en God se straf nie. Lees gerus maar weer die boek Job, waar Job al die regte geluide gemaak het, maar ál wat 'n slegte ding is, het hom getref. Jesus stel dit in die Nuwe Testament ook baie duidelik dat rampe nie noodwendig God se straf is nie. Eers wanneer die finale oordeel kom, sal die Here as Regter optree en 'n oordeel fel, en dan sal die straf gegee word aan dié wat dit toekom.
Wanneer die slang Paulus byt, is hy beslis nie paniekbevange nie. Hy skud bloot die slang in die vuur af en gaan sit by die vuur. Grootoog staar almal hom aan en wag dat sy hand soos 'n ballon moet opswel en dat hy dood neerval. Maar dit gebeur nie. Paulus lyk so normaal soos enigeen van hulle, en sy hand swel nie op nie.
“Hy is 'n god!” gaan die fluistering om tussen die mense as hulle sien dat hy niks oorkom nie. Binne 'n kort rukkie verander Paulus dramaties in hulle oë van 'n moordenaar na 'n goddelike figuur.
Met Paulus se aansien wat so styg, kom die hoofman van die eiland, Publius na hom en bied aan dat hy en sy reisgenote, Lukas en Aristarchos by hom tuisgaan as sy gaste vir drie dae. Daar aangekom, verneem Paulus dat Publius se pa baie siek is van maagkoors. “Mag ek hom sien?” vra Paulus, en dan lê hy sy hande op die siek man en bid vir hom. En dadelik is die man genees.
Die nuus versprei soos 'n veldbrand, en in 'n ommesientjie staan daar 'n groot bondel siekes voor die deur. Paulus bid vir elkeen, en hulle word almal genees.
Die inwoners van Malta is oorstelp van vreugde, en hulle oorlaai Paulus en sy vriende met geskenke. Wanneer hulle drie maande later vertrek, voorsien hierdie inwoners hulle van alles wat hulle nodig het vir hulle reis.
As die kaptein na Paulus geluister het, sou hulle reis nooit in 'n ramp geëindig het nie. Hulle sou waarskynlik nooit in Malta gestrand het of selfs daar aangedoen het nie. Maar God neem hierdie kaptein se ongehoorsaamheid en Hy gebruik dit tot Sy eer. Kyk maar hoe gee Hy die mense aan boord van die skip nuwe krag toe hulle 'n absolute laagtepunt bereik. Hulle ervaar Sy beskerming op 'n wonderbaarlike wyse. Waar hulle gedoem was tot 'n besliste seegraf, red Hy elke mens op die skip, en bring hulle ongedeerd op die eiland.
Maar dan gaan Hy 'n stap verder: Hy voorsien dat 'n giftige slang Paulus pik, maar dat Paulus niks oorkom nie, weereens sodat Sy Naam verheerlik kan word. Hierdie insident maak deure oop vir Paulus om in die harte van die inwoners van Malta te kruip. Ook Publius se pa word op presies die regte oomblik siek sodat Paulus die krag van God kan demonstreer. En dit maak verdere deure oop sodat Paulus kontak kan hê met al die inwoners van Malta, en dat hy hulle vertroue onvoorwaardelik kan wen.
Lukas vertel nie vir ons van mense wat die Evangelie aangeneem het nie, maar ek is doodseker dat Paulus beslis nie in daardie drie maande sou stilsit en niksdoen nie. Hy sou sékerlik die Evangelie laat weergalm het op die eiland!
God gebruik dikwels mense se hardkoppigheid om die Koninkryk van God te bou. En dikwels gebruik Hy rampe en slegte gebeurtenisse tot Sy eer. Ek kan getuig van talle slegte dinge wat my getref het, wat die Here omgeswaai het om Sy almag te toon. Wees dus dankbaar in alle omstandighede. Moenie kerm as die ongeluk jou tref nie, maar sien dit in 'n positiewe lig. God kan iets baie goed daaruit laat voortspruit.
Gebed:
Here, só dikwels kom daar dinge in my lewe waarvoor ek nie beplan het nie. Soms is hulle onaangenaam en dan kla ek! Ek moet egter besef dat U selfs van die slegste situasie ‘n geleentheid kan maak. Maak my asseblief dankbaar in elke situasie!