Net Nie Nou Nie, Paulus.....

6 July, 2026

Handelinge 24:24-27

Na Paulus se verhoor in Sesarea bly hy in aanhouding. Nee, Feliks vonnis hom nie, hy sê bloot vir die Joodse beskuldigers dat hy eers wag vir bevelvoerder Lisias om te kom voordat hy die saak kan afhandel.

Deur hom nie te vonnis nie, erken Feliks eintlik dat Paulus onskuldig is. Hy probeer bloot tyd koop. Volgens Lukas het hy egter eintlik heimlik gehoop dat Paulus hom omkoopgeld sou betaal om hom vry te laat. Wat hom ooit laat dink het dat Paulus los geld op hande sou hê, weet nugter alleen! Dalk het hy gemeen dat Paulus se vriende gou-gou vir hom 'n fondsinsameling sou hou om hom los te koop uit die tronk. Hulle hét immers vir die gemeente in Jerusalem fondse ingesamel!

Lukas reken verder dat Feliks vir Paulus in die tronk wou hou om die Jode se guns te probeer wen. En só bly Paulus vir 'n verdere twee jaar in die tronk in Sesarea sonder dat sy verhoor gefinaliseer word.

Paulus sit egter nie in die tronk en speel met sy duime nie. Hy maak gebruik van sy tyd. Slegs enkele dae na sy verhoor ontbied Feliks hom. Hy wil meer weet oor hierdie Christelike geloof. Wanneer Paulus die vertrek binnestap, sit Feliks se vrou, Drusilla ook daar. Sy is opgewonde om hierdie merkwaardige man te hoor praat.

Drusilla is Feliks se derde vrou. Sy is lid van die beroemde/ berugte Herodiaanse familie, die dogter van Herodus Agrippa I, dus Agrippa II se suster. Hierdie is ook nie háár eerste huwelik nie. Sy was eers getroud met koning Asis van Emesa. Sy word egter deur die towenaar Atomos oorreed om van hom te skei en met Feliks te trou. Sy volg dus bloot in die voetspore van al die ander Herodusse!

Wanneer Paulus voor die twee gaan staan, hoor Feliks ongelukkig nie wat hy graag wil hoor nie. Paulus is nie soos die gladdebek advokaat met sy heuningkwas nie, hy is reguit! Hy gebruik nie vleitaal om Feliks te beïndruk sodat hy hom uit die tronk sou vrylaat nie. Inteendeel, hy vertel vir die twee dat Christenskap gaan oor 'n lewe van gehoorsaamheid en selfbeheersing. Dit gaan ook oor die komende oordeel. Christenskap het dus sekere praktiese implikasies: Jou lewe moet wys dat jy 'n navolger van Christus is. Jy kan nie maar maak soos jy wil nie, jy moet gehoorsaam wees aan God en leef soos Hy vra! Dit vra veral selfbeheersing en nugterheid. Vir iemand soos Feliks, wat gewoond is daaraan om sy drange vrye teuels te gee, is dit 'n bitter moeilike ding!

Moontlik het Feliks en Drusilla gedink dat selfbeheersing slegs op gewone mense van toepassing is. Maar dit is selfs nóg meer so vir diegene in hoë posisies, hulle met status en aansien. Gehoorsaamheid en selfbeheersing geld vir ryk en arm, oud en jonk, belangrik en doodgewoon. Maar hoe hoër jou posisie, hoe groter is jou verantwoordelikheid, want almal sien jou as 'n rolmodel. Dit geld vandag veral vir die kalkligvangers soos sportsterre, musikante, filmsterre, leraars en politieke leiers.

Onthou, jou leefstyl is 'n getuienis! Bloot omdat jy 'n gelowige is, kyk mense baie krities na jou. Jou leefstyl weerspieël dus nie alleen jou eie lewe nie, maar van Christengelowiges in die algemeen. Hou die Naam van Jesus hoog!

Feliks en Drusilla luister na Paulus en hulle word baie bang! Hy beduie vir Paulus: “Dis nou genoeg! Gaan nou maar eers terug, en as ek tyd het sal ek jou weer laat roep.”

En só laat glip Feliks en Drusilla vir ewig die wonderlike vryspraak van Jesus deur hulle vingers! Hulle het die grootste voorreg gehad waarvoor enigeen kon wens, om die fenominale prediker Paulus privaat tot hulle beskikking te kon hê, maar hulle was nie bereid om 'n klein opoffering te maak nie. Hulle het té verknog geraak daaraan om hulle drange en begeertes vrye teuels te gee.

As Paulus egter bereid was om 'n paar mooi dinge te sê wat Feliks of Drusilla sou vly, sou Feliks hom waarskynlik nét daar vrygelaat het! Paulus se gehoorsaamheid aan die Here oor watter boodskap hy aan hierdie uitgelese egpaar moes oordra, het egter gemaak dat hy vir ‘n verdere twee jaar in die tronk in Sesarea opgesluit sou moes bly. Paulus het sy Christelike beginsels konsekwent uitgeleef, selfs tot in die hoogste raadsale van befaamde politieke leiers. Hy het egter sy eie gerief en vryheid van minder waarde geag as sy gehoorsaamheid aan die Here.

Feliks word opgevolg deur Porkius Festus en gevolglik erf Festus ook vir Paulus as sy gevangene, een met wie hy nie raad het nie! Hy weet nie eers waaraan Paulus nou eintlik skuldig is nie!

Paulus was sékerlik teen hierdie tyd al baie gefrustreerd. Maar hy vestig ál sy hoop op Jesus se belofte dat hy nog in Rome die Evangelie sou gaan uitdra. Dus wag hy geduldig op die Here, en hy gryp elke geleentheid aan om die Evangelie met iemand te deel.

Gebed:

Here, help my asseblief om U heilige Naam te alle tye hoog te hou met my leefstyl!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026