Handelinge 23:6-11
Terwyl Paulus voor die Joodse Raad is, noem hy die hoëpriester 'n “witgepleisterde graf.” Hy het nie besef dat dit die hoëpriester was nie. (Die 1983 vertaling het dit vertaal as “skynheilige”.) Dit is interessant dat Jesus ook per geleentheid die Fariseërs witgepleisterde grafte genoem het.
Hierdie uitlating van Paulus het hom nou egter die gramskap van die Raad op die hals gehaal. Hulle laat nie iemand hulle hoëpriester só beledig nie! Nou moet Paulus baie vinnig dink om homself uit hierdie gemors te wurm.
Eers vra hy mooi om verskoning, en hy verduidelik dat hy nie geweet het nie. En sommer in dieselfde asem beklemtoon hy dat hy 'n gerespekteerde Fariseër is uit 'n hele familie van Fariseërs. “En ek word eintlik vandag verhoor omdat ek vas glo dat daar wél 'n opstanding uit die dood is!”
Hierdie is 'n baie slinkse skuif van Paulus, al lyk dit op die oog af baie onskuldig. Paulus weet baie goed dat die Joodse Raad saamgestel is uit Fariseërs sowel as Sadduseërs. En hierdie twee groepe glo nie eenders oor die hiernamaals nie. Die Fariseërs glo dat daar lewe is na die dood, en dit is een van die redes waarom hulle die wet so nougeset nakom, om die ewige lewe te kan verwerf.
Die Sadduseërs, aan die ander kant, glo nie dat daar lewe na die dood is nie. Jy leef eenmaal, en tydens daardie lewe moet jy God voluit dien. Wanneer jy egter die dag jou oë toemaak, dan is alles verby vir ewig! Hulle beweer selfs dat daar nie sulke dinge soos engele of geeste bestaan nie. (Nou wonder ek hoe hulle dan hulle Bybel gelees het? Wat van die talle beskrywings van engele in die Ou Testament?)
Deur hierdie opmerking te maak, gooi Paulus nou 'n baie sensitiewe klip in die bos, en sommer dadelik begin 'n hewige stryery losbreek tussen die twee groepe. En Paulus glimlag in sy mou! Eintlik het Paulus die waarheid so 'n effentjies verdraai toe hy vertel het dat hy so 'n groot Fariseër is, want later, in sy brief aan die Filippense skryf hy dat sy Fariseërskap eintlik vir hom waardeloos is.
In die debat tussen die Fariseërs en die Sadduseërs word daar oor en weer verwyte geslinger. En dan gebeur die lagwekkende ding, dat die Fariseërs naderhand vir Paulus begin kant kies. Hulle erken selfs dat “Iemand” wél aan Paulus verskyn het op die pad na Damaskus, en met hom gepraat het. Hulle erken nou wel nie dat dit Jesus was nie, maar dit kon 'n engel of die gees van die een of ander afgestorwe heilige gewees het.
“Ons het niks teen hierdie man nie!” verdedig hulle vir Paulus. En diep in sy binneste skater Paulus dit uit van die lag: hy het bereik presies wat hy wou bereik!
Bevelvoerder Klaudius Lisius kyk hierdie woedende spul hoogwaardigheidsbekleërs grootoog aan, en hy raak baie bang. Sê nou net die spul skeur vir Paulus uitmekaar, dan sit hý vandag met 'n gróót gemors op sy hande! Dus beveel hy sy soldate om Paulus te red en terug te neem na die kaserne.
Daardie nag, terwyl Paulus rustig in sy bed lê in die veiligheid van die kaserne, gebeur daar 'n ding met hom waarvan enige gelowige maar net kan droom: Vir die derde keer in sy lewe verskyn Jesus aan hom. “Hou moed!” vertroos Jesus hom. “Hier in Jerusalem het jy vir my getuig. So moet jy in Rome ook doen!”
Paulus se hart klop woes in sy borskas. Het hy reg gehoor? Rome? Hoe lank droom hy nie al daaroor om na Rome te kan gaan om daar in die hartjie van Sodom en Gomorra vir die Here te kan getuig nie! En hier kry hy die belofte uit die mond van Jesus persoonlik dat hy na Rome gaan. Paulus is só opgewonde dat hy die hele nag nie 'n oog kan toemaak nie. “Dankie Here, dankie, dankie, dankie,” prewel hy.
Paulus leer vir ons as gelowiges vandag om strategies te dink. Jy moet jou kop gebruik wanneer jy die blye boodskap van Jesus wil uitdra. Partymaal vra die situasie van ons om die waarheid luid en onverskrokke uit te basuin. Ander kere weer in doodse stilte. Persone wat uitreik na lande waar dit verbode is om die Evangelie uit te dra, “plant” dikwels die boodskap deur 'n koevert met die Evangelieboodskap op 'n tuinbankie of 'n ander strategiese plek te “vergeet”. Die regte persoon sal dit wél optel en lees, en dan is die saad gesaai! Op hierdie wyse het talle mense al tot geloof gekom. ‘n Sendeling uit Pakistan vertel die afgelope naweek dat talle Moslems al tot bekering gekom het bloot deur ‘n gesprek met hulle te begin deur bloot te vra: “Kan ek vir jou bid?”
Soms is dit selfs reg om onenigheid te saai, soos wat Paulus gedoen het. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om 'n totaal omstrede ding te sê tydens 'n byeenkoms vir manne. Dit lok gewoonlik 'n hewige bespreking uit en laat mense dink oor wat waarlik reg is!
Gebed:
Here, leer my asseblief om slim te wees wanneer ek die Evangelie uitdra. Gee my wysheid om die regte strategie te gebruik!