Opstand in Efese

15 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Opstand in Efese

Handelinge 19:21-40

In Efese, so vertel Lukas, neem Paulus ‘n besluit wat nie alleen sy sendingprogram nie, maar sy hele lewensloop dramaties beïnvloed. Hy besluit om ‘n besoek te bring aan Jerusalem. Sy plan is om eers in Masedonië aan te gaan en dan van Jerusalem af na Rome, die hoofstad van die wêreld. Sy reis sal egter nie daar eindig nie. Ná Rome wil hy ook nog verder na Spanje, die verste uithoek van die Romeinse beskawing. Paulus het groot gedink, baie groot, en hy het altyd daarna gehunker om sy horisonne te verbreed en die Evangelie al hoe verder en verder die wêreld in te dra.

Om vir die volgende been van sy sendingreis voor te berei, stuur hy twee helpers, Timoteus en Erastus vooruit om solank dinge te gaan regkry vir sy besoek aan Masedonië. Paulus se laaste paar dae in Efese het aangebreek. Maar dan word alles versuur deur ‘n betoging deur die “vakbond van silwersmede”. Een van die talle tempels in Efese was dié van die godin Artemis, die magtige moedergodin. Hierdie afgod is deur mense regoor die wêreld aanbid. Sommige van die dertig-meter hoë suile van die indrukwekkende tempel het na al die jare staande gebly, en pryk vandag nog in Efese. Dit was in daardie tyd beskou as een van die sewe wonders van die wêreld, en dit was waarlik ‘n gebou wat jou asem sou wegslaan. Elke jaar is daar ‘n reuse fees gehou in die stad, en pelgrims van regoor die wêreld het daarheen gestroom.

Vir die silwersmede was hierdie tempel, asook natuurlik sy godin, Artemis, ‘n groot bron van inkomste, want die pelgrims het aandenkinge van ‘n silwer model van die tempel opgeraap, en natuurlik wou elke inwoner ook ‘n beeldjie hê van die trots van hulle mooi stad.

En toe kom Paulus, en hy gooi hulle appelkarretjie om, sodat jy net sien appels rol. Hy sê vir die mense dat daar slegs een God is, die ware God wat hemel en aarde geskep het, en dat alle handgemaakte gode morsdood is en absoluut niks beteken nie. En natuurlik geld dit mos óók vir Artemis! Dit is net natuurlik dat die gelowiges nie meer die beeldjies sou koop nie, en die gevolg was dat die silwersmede se winste dramaties afgeneem het.

Dit is nie aldag dat sakebelange deur die prediking van die Evangelie aan bande gelê word nie. Dalk is dit omdat Christene gewoonlik nie bereid is om teen sondige praktyke te protesteer nie. En nog minder is gelowiges bereid om die Evangelie onbevreesd te verkondig. Paulus het geweet dat hy sou moeilikheid optel as hy openlik sê dat daar slegs één pad is, die pad wat deur Jesus Christus loop. Nogtans het hy onverskrokke voortgegaan ten spyte van die moontlike gevolge. Ag, hy was mos al talle kere daardeur! Hy is al gegésel, in die tronk opgesluit, selfs half-doodgegooi met klippe. Paulus het geweet presies waarvoor hy hom inlaat! Dankie tog! vandag is daar nog steeds “Paulusse” met ons wat so onverskrokke staan, mense soos byvoorbeeld Oom Angus Buchan, wat nie skroom om op te staan vir die waarheid nie, al wil die wêreld hom dikwels hiervoor kruisig.

Nou ja, Paulus se moeilikheid het hierdie slag gekom in die vorm van ‘n “vakbondleier” met die naam Demetrius. Hierdie kêrel het ‘n baie emosionele toespraak gehou, waarin hy die mense opgesweep het deur godsdiens, sakebelange en patriotisme soos ‘n taai stroop met ‘n kwas te smeer. Die seer puntjie was natuurlik die trots van Efese, die tempel van Artemis. Hierdie geliefde tempel sou totaal sy betekenis verloor as Paulus se evangelisasieveldtog suksesvol sou wees. En dan was hulle mos almal werkloos!

Hierdie slinkse leier het sommer gou-gou daarin geslaag om die klomp behóórlik op te sweep tot ‘n volskaalse betoging. Van oraloor het hulle opgeruk na die amfiteater, nóg ‘n indrukwekkende stuk bouwerk met sy sitplek vir 24’000 mense. Hierdie manjifieke stuk bouwerk kan vandag nog in Efese gesien word. Twee van Paulus se medewerkers word saamgesleep deur die woedende skare. Die grootste deel van hierdie gepeupel het nie eers geweet waaroor al die bohaai gaan nie! Paulus wou gaan vrede maak, maar sy medegelowiges het hom gekeer.

Die Jode het hier ‘n goeie geleentheid gesien om Paulus ‘n verdere steek te gee. Hulle segsman, Aleksander wou kwansuis ‘n woordjie spreek. Hy is egter doodgeskree, bloot omdat hy ‘n Jood was. Jode was nie ‘n gewilde nasie in Efese nie. Uiteindelik is dit die stadsklerk wat daarin slaag om orde te skep en die skare uitmekaar laat gaan, sonder dat daar klag teen Paulus en sy medewerkers aanvaar is. Weereens is hulle gered!

Paulus was nou al byna drie jaar in Efese, en dit het tyd geword om te groet. Masedonië, en uiteindelik Rome roep, en daar is baie honger siele in die wêreld wat wag op die blye boodskap!

Paulus leer ons dat ‘n mens groot moet dink. ‘n Visie om groot dinge te vermag is noodsaaklik. Maar dan moet dit ook oorgaan in die praktyk. Dan moet jy die volgende stap vorentoe neem om hierdie visie te bewaarheid. Dit verg ook onverskrokkenheid, want teenstand sal jy beslis kry! Maar dit durf jou nooit afskrik nie.

Gebed:

Here, help my asseblief om groot en wyd te dink, maar ook om my droom uit te leef in die praktyk.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026