Handelinge 19:21-40
In Efese, so vertel Lukas, neem Paulus ‘n besluit wat nie alleen sy sendingprogram nie maar sy hele lewensloop dramaties beïnvloed. Hy besluit om ‘n besoek te bring aan Jerusalem. Sy plan was om op pad eers in Masedonië aan te gaan en dan van Jerusalem af na Rome, die hoofstad van die wêreld. Sy reis sou egter nie daar eindig nie want ná Rome wou hy ook nog verder na Spanje, die verste uithoek van die Romeinse beskawing. Paulus het gróót gedink en altyd daarna gehunker om sy horisonne te verbreed om die Evangelie al hoe verder die wêreld in te dra!
Om vir die volgende been van sy sendingreis voor te berei, stuur hy twee helpers, Timoteus en Erastus vooruit om solank dinge te gaan regkry vir sy besoek aan Masedonië. Paulus se laaste paar dae in Efese word egter versuur deur ‘n betoging deur die “vakbond van silwersmede”. Een van die talle tempels in Efese was dié van die godin Artemis, die magtige moedergodin. Hierdie afgod was deur mense regoor die wêreld aanbid. Sommige van die dertig-meter hoë suile van die indrukwekkende tempel het na al die jare staande gebly en pryk vandag nog in Efese. Dit was in daardie tyd beskou as een van die sewe wonders van die wêreld en dit was waarlik ‘n gebou wat jou asem sou wegslaan. Elke jaar was daar ‘n reuse fees gehou in die stad en pelgrims van regoor die wêreld het daarheen gestroom.
Vir die silwersmede was hierdie tempel ‘n groot bron van inkomste want die pelgrims het aandenkinge van ‘n silwer model van die tempel opgeraap. Natuurlik wou elke inwoner óók ‘n beeldjie hê van die trots van hulle mooi stad en die kunswerke het soos soetkoek verkoop!
Maar toe kom Paulus en gooi hulle appelkarretjie om sodat jy net sien appels rol! Hy het vir die mense gesê dat daar slegs een God is, die ware God wat hemel en aarde geskep het en dat alle handgemaakte gode morsdood is en absoluut niks beteken nie. Natuurlik geld dit mos óók vir Artemis! Dit is net natuurlik dat die gelowiges nie meer die beeldjies sou koop nie, gevolglik het die silwersmede se winste dramaties afgeneem.
Dis nie aldag dat sakebelange deur die prediking van die Evangelie aan bande gelê word nie. Dalk is dit omdat Christene gewoonlik nie bereid is om teen sondige praktyke te protesteer nie en nog minder is gelowiges bereid om die Evangelie onbevreesd te verkondig. Paulus het geweet dat hy sou moeilikheid optel as hy openlik sê dat daar slegs één pad is, die pad wat deur Jesus Christus loop. Nogtans het hy onverskrokke voortgegaan ten spyte van die moontlike gevolge. Ag, hy was mos al talle kere daardeur! Hy is al gegésel, in die tronk opgesluit, selfs half-doodgegooi met klippe. Paulus het geweet presies waarvoor hy hom sou inlaat! Dankie tog! vandag is daar nog steeds “Paulusse” met ons wat so onverskrokke staan en wat nie skroom om op te staan vir die waarheid nie al wil die wêreld hulle dikwels hiervoor kruisig.
Nou ja, Paulus se moeilikheid het hierdie slag gekom in die vorm van ‘n “vakbondleier” met die naam Demetrius. Hierdie kêrel het ‘n baie emosionele toespraak gehou waarin hy die mense opgesweep het deur godsdiens, sakebelange en patriotisme soos ‘n taai stroop met ‘n kwas te smeer. Die seer puntjie was natuurlik die trots van Efese, die tempel van Artemis. Hierdie geliefde tempel sou totaal sy betekenis verloor as Paulus se evangelisasieveldtog suksesvol sou wees. En dan was hulle mos almal werkloos!
Hierdie slinkse leier het sommer gou-gou daarin geslaag om die klomp behóórlik op te sweep tot ‘n volskaalse betoging. Van oraloor het hulle opgeruk na die amfiteater, nóg ‘n indrukwekkende stuk bouwerk met sy sitplek vir 24’000 mense. Hierdie manjifieke stuk bouwerk kan vandag nog in Efese gesien word. Twee van Paulus se medewerkers word saamgesleep deur die woedende skare. Die grootste deel van hierdie gepeupel het nie eers geweet waaroor al die bohaai gegaan het nie! Paulus wou gaan vrede maak, maar sy medegelowiges het hom gekeer.
Die Jode het hier ‘n goeie geleentheid gesien om Paulus ‘n verdere steek in die rug te gee. Hulle segsman, Aleksander wou kwansuis ‘n woordjie spreek. Hy was egter doodgeskree bloot omdat hy ‘n Jood was. Die Jode was nie ‘n gewilde nasie in Efese nie. Uiteindelik was dit die stadsklerk wat daarin geslaag het om orde te skep en die skare uitmekaar laat gaan sonder dat daar enige klag teen Paulus en sy medewerkers aanvaar is. Weereens was hulle gered!
Paulus was egter nou alreeds byna drie jaar in Efese en dit het tyd geword om te groet. Masedonië en uiteindelik dan Rome het geroep en daar was 'n menigte honger siele in die wêreld wat nog gewag het op die blye boodskap!
Paulus leer ons dat ‘n mens groot moet dink. My Oupa se gesegde was, dat as jy mik vir die maan dan sal jy oor die kraalmuur kan spring! ‘n Visie om groot dinge te vermag is noodsaaklik. Maar dan moet dit ook oorgaan in die praktyk. Dan moet jy die volgende stap vorentoe neem om hierdie visie te bewaarheid. Dit verg ook onverskrokkenheid want teenstand sal jy beslis kry! Maar dit durf jou nooit afskrik nie!
Gebed:
Here, help my asseblief om groot en wyd te dink, maar ook om my droom uit te leef in die praktyk!