Op die Rooi Tapyt

1 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Op die Rooi Tapyt

Handelinge 4:1-22

VIDEO | OUDIO

Petrus het die verlamde man gesond gemaak - ‘n asemrowende wonderwerk! Al huppelende en singende is hy agter Petrus en Johannes aan tot groot ontsteltenis van 'n paar hooggeplaastes. Onder hulle is 'n paar priesters, 'n groep Sadduseërs asook die bevelvoerder van die tempelwag. Hulle weet nie mooi wat om van hierdie situasie te maak nie want wat hier gebeur het is tog totaal onmoontlik! ‘n Man wat veertig jaar lank verlam was en nou skielik rondspring soos ‘n Karoosprinkaan op trek! Dit sal nie deug nie! Die ergste is egter wanneer hulle Petrus se toespraak hoor. Nou is die manne sommer warm onder die boordjie! “Ons het so pas van hulle Jesus ontslae geraak en nou dreig ‘n uiters gevaarlike ding om uit te breek. As ons nie nóú hierdie ding in die kiem smoor nie, het ons gróót moeilikheid!”

Vir die Sadduseërs was die saak nog véél erger. Hulle glo nie dat daar lewe na die dood kan wees nie, dus verkondig hierdie visserman boonop mos 'n gruwelike dwaalleer as hy wil beweer dat Jesus uit die dood opgestaan het!

Intussen het ‘n groot skare mense in die Tempelgang saamgedrom om te sien wat gebeur het en na Petrus se rede te luister. Petrus en Johannes was nog besig om vir hulle te verduidelik waaroor dit alles gaan, toe storm die beswaarde manne woedend op hulle af. Die twee apostels word nét daar in hegtenis geneem.

Na ‘n nag in die tronk verskyn hulle voor die Joodse Raad. Almal is daar: die Skrifgeleerdes, Familiehoofde, Sadduseërs en natuurlik die Hoëpriester. Al 71 sitplekke in die Raadsaal is gevul. Hierdie is immers ‘n baie ernstige saak, ‘n saak van lewe en dood! Almal is bekend met die feit dat die klein handjievol van hierdie “sekte” op een dag aangegroei het tot drieduisend entoesiastiese dissipels en in die paar dae sedertdien het dit nou al weer verder gegroei tot vyfduisend mense. Daar moet dringend drasties opgetree word, anders kan dit die Joodse geloof baie skade berokken en dalk tot in sy fondamente skud!

Een en sewentig stroewe gesigte gluur vir Petrus en Johannes aan: hierdie eenvoudige vissermanne het nie ‘n kat se kans om hulleself teen die hoogs geleerde manne te verdedig nie. “Kom vertel ons ‘n bietjie: watter soort van krag het julle gebruik om hierdie man gesond te maak? In wie se naam het julle dit gedoen?” Die vraag is veronderstel om die twee totaal van stryk te bring.

Maar die Joodse Raad het nie rekening gehou met die Heilige Gees nie, want wanneer Petrus die vloer vat, is hy beslis nie alleen nie. Petrus gryp die geleentheid met albei hande aan en bring die Evangelie aan die Raad, helder en duidelik, sodat elkeen van die geleerde manne dit kan verstaan. Hy vertel van Jesus wat gekruisig is en weer deur God uit die dood opgewek is. Dit is Hy alleen wat verlossing bring!

‘n Doodse, bitter ongemaklike stilte sak oor die raad toe nadat Petrus gepraat het. In die agterbanke van die raadsaal, tussen die ander Apostels, staan ‘n man met ‘n glimlag wat dreig om reg rondom te gaan. Dit is net sy ore wat in die pad is. Hierdie glimlag maak die Raad nog meer seer, want hier is die bewys van die krag van die twee vissermanne.

“Ons, die hoogste gesag in Israel, verbied julle om nog een enkele woord te sê van hierdie Jesus, anders is julle in gróót moeilikheid! Is dit duidelik?”

Petrus-hulle word eers uitgestuur sodat die bekommerde Raadslede kan koukus oor hulle lot. Hierdie saak is baie meer kommerwekkend as wat hulle gedink het! Hulle weet nie herwaarts of derwaarts hoe om die saak te hanteer nie. Hulle enigste oplossing: “Ons moet hulle dreig!” Petrus en Johannes se antwoord op die dreigemente is egter dat die Raad maar sélf moet besluit wat die belangrikste is: om aan húlle gehoorsaam te wees of aan God.

Jare gelede is ‘n kêrel voor ons kerkraad gedaag oor ‘n klagte wat ons van ‘n ander gemeente ontvang het: hy het evangelisasiewerk binne hulle gemeentegrense gedoen. Hy het aan ons verduidelik: “Dit is vir my onmoontlik om stil te bly! Die wonderlike geleentheid was daar om die Woord van God te verkondig. Hoe kon ek dit óóit laat verbygaan?”

Die kerkraad het half tong in die kies geantwoord: “Probeer tog maar om nie weer in daardie gemeente se gebied te preek nie.”

Kom ek en jy maak vandag één voorneme, om soos Petrus en Johannes onwrikbaar op te staan vir ons geloof. Ons het immers die Heilige Gees wat vir ons die krag gee om dit te kan doen net soos Petrus-hulle van ouds. Kom ons gryp elke moontlike én onmoontlike geleentheid aan om te getuig van Jesus met woord en ook ons hele lewe. Kom ons leef so ‘n stralende, jubelende blydskapslewe dat elkeen waarmee ons in aanraking kom sal wonder oor ons blydskap. As iemand jou hieroor uitvra, dan is dit mos ‘n ope uitnodiging om te kan getuig en dan durf jy nie stilbly nie! My innige gebed is dat elkeen van ons die wonderlike krag wat die Heilige Gees tot ons beskikking stel ten volle sal gebruik.

Gebed:

Here, maak my gewillig om U getuie te wees, maak nie saak wat die omstandighede is nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Verraad in die Nag
30 October, 2026
Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026