Onvermoë

9 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Onvermoë

Lukas 9:37-43

VIDEO OUDIO i

In die sewentigerjare het Prof Malan-Nel die Jeug-tot-jeug aksie van stapel gestuur. Onthou jy dit nog? Dit was in die herfs van 1974 toe ek saam met ‘n groep jongmense op ‘n plaas naby Greytown ‘n intensiewe evangelisasiekursus bygewoon het. Die aanbieders se taak was om die jongmense op te lei om die evangelie aan mede-jongmense uit te dra. Natúúrlik was die uwe een van die voorbokke soos altyd, en die kursus het vlot verloop. Ten spyte van die harde werk was dit vet pret!

Soos die kursus gevorder het, het ek algaande begin agterkom dat ek baie ver van gereed was om sélf die evangelie aan iemand anders oor te dra. O, ek was baie goed om die rol van die “moeilike ongelowige” te speel in rolspel. Ek was egter vrek bang om in die praktyk met iemand te gesels in ‘n werklike situasie. Sê nou maar hy vra my vas? Sê nou maar.....  Die rede vir my onsekerheid en vrees was dat ek steeds nie sélf die Evangelie verstaan het nie, en nog nooit in ‘n ware verhouding met Jesus gestaan het nie. Vir my persoonlik het die kursus uiteindelik in ‘n fiasko uitgeloop.

Alles was egter nie verniet nie. Die direkte gevolg van die kursus was dat ek na een van die sessies skielik besef het wat in my lewe verkeerd was. Daar het ek my hart vir die Here gegee!

Die twaalf manne wat Jesus uitgekies het om hierdie intensiewe opleiding te ontvang, was nou al geruime tyd saam met Hom, en hulle was al selfs in die veld uitgestuur vir oefenlopies. Saam het hulle teen daardie tyd al die mees asemrowende ervarings gehad, en wonderwerke beleef en ook sélf gedoen. Daar was die dag toe hulle die verskriklike storm beleef het, en toe Jesus dit met ‘n enkele woordjie tot bedaring gebring het. Net die volgende dag was daar die ervaring met die mal kêrel in Gadara se begraafplaas. Hoe wonderbaarlik het daardie man nie eensklaps gesond geword nie! En die slag toe hulle voor hulle oë gesien het hoe die kos al meer en meer word, toe hulle vir duisende mense brood en vis moes uitdeel!

Ten spyte van al hierdie dinge kon hulle maar net nie rigting vind nie! Dit was steeds so bitter moeilik om alles in perspektief te sien. Petrus het namens hulle uitgebasuin dat hy glo dat Jesus die Messias is, maar nét daarna pak die twyfelvrae hulle alweer. ‘n Desperate man se seun was duiwelsbesete en hy het gedurigdeur stuiptrekkings gekry. Hy het die seun na hulle toe gebring. Die dissipels het so hard en opreg probeer om die kind gesond te bid, maar ten spyte daarvan moes die man moedeloos omdraai. Sy seun se toestand het nie verander nie!

Die tyd was besig om uit te loop vir die dissipels! Sou hulle ooit gereed wees om op hulle eie voete te kon staan? Daar het vir hulle ‘n reuse taak voorgelê, maar dit het gelyk asof hulle die pyp beslis nie sou rook nie!

Jesus se laaste reis na Jerusalem was op hande, dáárdie reis na die kruis en steeds het die apostels nie verstaan waaroor alles gegaan het nie. Die man met die siek seun het sy kind na Jesus gebring want die twaalf se werk was vrugteloos. Jesus was moedeloos oor Sy leerlinge se absolute onvermoë, en veral hulle ongeloof. “Ongelowige en ontaarde geslag!” Harde woorde van Jesus aan die twaalf. “Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra?” Ek dink die arme manne moes gewens het dat die aarde hulle sou insluk. Hulle het die Meester diep bedroef. En dit so pas nadat hulle van die berg afgekom het waar hulle Jesus in Sy volle hemelse heerlikheid aanskou het!

Jesus het die kind gesond gemaak en weereens moes die twaalftal Sy Goddelike mag aanskou, verleë oor hulle eie onvermoë. Al die omstanders was verslae oor die grootheid van God. Maar die vraag is: hoeveel bewyse het hulle nóg nodig gehad voordat hulle uiteindelik sou glo? Dieselfde mense wat so in verwondering oor Hom gestaan het, sou binnekort rasend van woede uitskreeu: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”

Ons is baie gou om vandag die manne te veroordeel vir hulle onvermoë, maar ons moet onthou dat hulle toe nog nie toegerus was met die Heilige Gees nie. Vandag het ons die wonderlike voorreg dat die volle krag van die Heilige Gees tot ons beskikking is. Hy gee ons ál die nodige toerusting om die Woord uit te dra. As ons steeds te bang is om dit te doen, dan vat ons in werklikheid vir God in die gesig, en ons wil impliseer dat Sy krag nie vir ons genoeg is nie. Of dalk nog erger, dat Hy sal weier om ons by te staan wanneer ons Sy Woord verkondig. Daarmee wil ons Sy beloftes afmaak as waardeloos!

Kom ons neem Jesus vandag op Sy beloftes in die Woord, en met die wonderbare krag van die Heilige Gees verklaar ons aan die wêreld dat Jesus die enigste Verlosser en Weg na saligheid is, met die absolute wete dat Hy, Jesus, aan ons sy is om ons daardeur te dra.

Gebed:

Here, versterk ons slap knieë en help ons om op te staan vir Jesus.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026