Ontmoeting met Farao

11 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ontmoeting met Farao

Eksodus 5:1-9

???? VIDEO | ???? OUDIO

Het jy dalk al gewonder hoe Aäron geweet het dat hy vir Moses moes tegemoet gaan? En hoe het hy geweet dat hy Moses daar in die middel van die onherbergsame woestyn, by die Sinaiberg sou kry? Daar is net myle en myle van niks! En daar was nie selfone of Google Maps om hulle te help nie! Die kanse dat hulle mekaar toevallig daar sou ontmoet is minder as nul. En tóg gebeur dit. Hier gebeur alreeds die eerste van ‘n hele reeks asemrowende wonders wat God op Moses se pad bring. Hierdie was maar net die begin!

Wanneer Moses Egipte binnestap, is die eerste ding om al die leiers van die volk Israel bymekaar te roep. Aäron vertel vir die manne van God se opdrag aan Moses en nadat Moses ‘n demonstrasie gegee het van die wondertekens wat God hom gegee het, is hulle tevrede dat hierdie oud-Egiptiese prins nie hier is om hulle ore aan te sit nie. En dan gebeur nog ‘n baie groot wonderwerk: Wanneer hulle verneem dat die Here hulle gaan verlos, buig hulle almal saam in aanbidding voor God!

Die eerste groot hindernis is oorbrug. Maar nou wag daar ‘n lang, moeilike en bitter gevaarlike onderhandelingsproses met die koning van Egipte - die Farao. Moses het geweet dat dit nie ‘n maklike taak sou wees nie want God het hom immers vooraf gewaarsku dat Hy die man hardkoppig sou maak.

Dit laat by ‘n mens vrae wat nie maklik beantwoord kan word nie. Ons wéét dat God die mens ‘n eie vrye wil gegee het. Hy kan sélf besluit of hy die smal of breë paadjie wil stap. Iemand het my die vraag gevra oor Judas, of hy werklik sélf kon kies of hy Jesus sou verraai of nie? My persoonlike gevoel is: Ja. Maar God het vooraf geweet dat hy verkeerd sou kies. Maar nou sien ons hier duidelik dat God hierdie heidense koning se wil manipuleer. God ontneem hom die vrye keuse. Waarom? Ons kan maar net sê: Ons weet nie. Ons kom hier, nét soos die geval van Judas by die grens van menslike begrip waar ons net eenvoudig nie antwoorde het nie. Daar is baie dinge waarvoor ons nie antwoorde het nie, maar daaroor breek ek beslis nie my kop nie. Wat die Here my gegee het om te kan weet is meer as genoeg vir my!

Die onderhandelingsproses begin wanneer Moses en sy broer ‘n oudisie kry met die Farao. Hulle versoek is dat die Israeliete toegelaat word om ‘n fees te gaan hou in die woestyn. Natuurlik het die man hulle uitgelag want waarvoor sal hy dan nou vir ‘n volle week lank van sy arbeidsmag afstand doen? Dis darem té veel gevra! En dit boonop oor die een of ander godsdienstige fees ter ere van ‘n God wat hy nie eers ken nie! “Nee!” is botweg sy antwoord. Nie alleen weier hy Moses se versoek nie, maar hy verwerp daarmee boonop die geloofwaardigheid van God se gesag!

Moses verduidelik vir die Farao dat hierdie fees noodsaaklik is vir die volk! As dit nie gebeur nie, sal die Here hulle dalk tref met die een of ander siekte of hulle kan selfs doodgemaak word. Dis uiters noodsaaklik dat hulle offers aan God gaan bring in die woestyn!

Die Farao se reaksie is dat hulle sy tyd mors. Moses wil net die volk uit die werk hou! Daar is alreeds gans te veel Israeliete en nou wil hy die mense nog laat ophou werk? Nee, hulle moet terug werk toe! Die Farao steur hom nie aan Moses as hy hom vertel presies wie God is nie en hy lag hom uit as hy sê dat sy reaksie straf kan inhou. Hy is ‘n tipiese slawedrywer en sy geduld raak op oor die werktyd verlore gaan.

Die Farao vervies hom vir die arrogansie van ‘n Moses wat allerhande eise wil stel. Dan gee hy sy slawedrywers opdrag dat die Israelietiese steenmakers nou nie meer van strooi voorsien word nie. Hulle moet dit maar sélf gaan soek. Maar daar word van hulle verwag om steeds dieselfde hoeveelheid stene te produseer. “Die spul is net lui!” tier hy voort en die man is net moeilik! “Al wat hulle kan doen is om te neul om te gaan offers bring in die woestyn. Hulle moet só swaarkry dat hulle nie tyd sal hê om aan sulke strooi te dink nie!”

Nou moet ek dalk eers verduidelik: Egipte het, soos jy sekerlik weet, ‘n baie droë klimaat. Daarom kan ongebakte kleistene met goeie resultate gebruik word in bouwerk. Om die rou klei egter te bind, word fyngekapte strooi met die klei gemeng, en dan word die stene in die son gedroog. Dis die rede vir die strooi.

Ons wil dalk vanoggend die vraag vra: “Waarom laat die Here dit toe? Dis dan so onregverdig! En die ergste is dat die Here vir Moses sê dat Hy die Farao se hart sou verhard. Is dit dan deur God se toedoen dat hulle swaarkry?”

Maar wag, God het ‘n plan gehad vir Israel. Maar dit sou slegs werk as die mense werklik baie swaar gekry het. Dit moes by die volk 'n dringendheid kweek om weg te trek! Later sien ons egter dat selfs na die verskriklike ellende wat hulle moes deurmaak, hulle steeds by Moses gekerm het om eerder terug te gaan Egipte toe. As hulle nie die swaarkry beleef het nie, sou hulle al by die eerste duin wou omdraai!

Soms kerm ons by die Here as ons ‘n bietjie swaarkry ondervind. Maar dan besef ons nie dat dit deel is van ‘n baie groter plan wat God het vir ons lewe!

Gebed:

Dankie Here, dat U my swaarkry laat beleef. Ek weet nie altyd wat U doel is daarmee nie, maar ek besef dat U baie verder kyk as ek, en dat U plan vir my lewe groot en wonderlik is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026