Inleiding oor die boek Handelinge
“Wat doen ons vandag, Louis?” Hierdie is ’n bitter moeilike vraag vir ’n jong seun, want daar is so baie dinge om van te kies wat ons kan doen! Ons kan in die plaasdam gaan swem, of op ons tuisgemaakte blikboot gaan roei. Ongelukkig het die bootjie laasweek gesink en ons moet hom gaan uitduik, daar waar hy diep in die modder op die dam se bodem lê! Of ons kan die berg voor die plaashuis gaan uitklim vir ‘n asemrowende uitsig oor die Laeveld. Ons kan die kleigat gaan ontgin en kleilat speel …….. keuses, keuses, keuses!
“Kom ons gaan op ‘n ontdekkingstog!” Nou is ons baie opgewonde! Ons besluit om die misterieuse klowe onderkant die beroemde Elandskrans te gaan verken. Dis gevaarlike terrein met hoë kranse en watervalletjies en yskoue, kristalhelder swemgate. Die wêreld krioel van alles wat lewe - ribbokke, dassies, bobbejane, voëls, palings, en ek het selfs eenmaal daar ’n baie groot kat teëgekom. Ek was te haastig om eers sy kolle te tel, maar ek was séker dit was 'n luiperd! Opwindend!
Vanoggend wil ek jou persoonlik uitnooi om saam met my op ‘n ander soort ontdekkingstog te gaan, een selfs nog baie meer opwindend as Waterval Boven se klowe! Ons gaan die wêreld van die vroeë kerk ontdek.
As jy iemand is wat baie opgewonde kan raak oor ‘n nuwe ervaring van God se krag in jou lewe, dan is die Handelinge nét die regte medisyne. Handelinge bruis letterlik met opwindende nuwe lewe - Gód se nuwe lewe wat Hy deur sy Gees in mense se lewens uitstort.
Stagneer jou gemeente dalk? Kom verlustig jou dan saam met my in Handelinge, want hier sien ons hoedat ‘n klein groepie bang Christene wat agter geslote deure moes wegkruip, binne ‘n baie kort tydjie tot ‘n magtige span getuies regoor die wêreld gegroei het. Agter hierdie asemrowende beweging staan die Heilige Gees. Dit is Hy wat gesorg het dat die evangelieboodskap tot aan die uithoeke van die wêreld uitgedra word, en Hy het doodgewone mense daarvoor gebruik.
Alhoewel Handelinge ‘n opwindende ontdekkingsreis deur die vroeë kerk is, is dit baie beslis nie ‘n biografie van die eerste kerk nie. Lukas, die briljante dokter-skrywer van hierdie boek, probeer nie die dag-tot-dag gebeure van die kerk weergee nie, maar wil eerder vir ons vertel van hoe die Heilige Gees gewerk het deur mense soos Petrus, Paulus en ander vroeë Christene om hierdie reuse vloedgolf van die evangelie oor die wêreld te laat spoel. Ek dink dat, as Lukas ‘n volledige verslag sou wou skryf, dit ‘n boek baie dikker as die ganse Bybel sou beslaan, maar in 28 hoofstukke slaag hy tóg daarin om kortliks die verhaal te skryf, ‘n verhaal wat bruis met opwinding!
Terloops, Handelinge is nie die eerste boek uit Lukas se pen nie. Sy eerste was die Lukas-Evangelie wat hom volume-gewys die grootste skrywer van die Nuwe Testament maak, selfs meer as sy groot held, Paulus. ‘n Groot gedeelte van sy boek wy hy dan ook aan Paulus se optrede. Al Paulus se briewe was al lankal klaar geskryf voordat Lukas met sy twee boeke begin het.
Lukas, ‘n mediese dokter, het sy boek op ‘n wetenskaplike wyse aangepak. Hy dra beide sy boeke op aan Teofilus, ‘n belangrike Romeinse staatsamptenaar. In sy inleiding vertel hy dat hy deeglike navorsing gedoen het voordat hy begin skryf het. Sy basiese verwysingsbron was natuurlik die Septauginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament. Hieruit het hy telkemale aangehaal. Hy het ook ander bronne gebruik wat ongelukkig vandag nie meer bestaan nie. En natuurlik was hy in die wonderlike bevoorregte posisie om gesprekke te kon voer met die vroeë kerkleiers, en al die vertellings wat in omloop was het sy ore bereik.
Hy het natuurlik ook die voorreg gehad om ‘n paar avonture saam met Paulus persoonlik mee te maak. Uit al die inligting wat Lukas so versamel het, kon hy hierdie opwindende boek saamstel. Dit is inderdaad ‘n boek van God se triomftog deur ‘n verlore heidenwêreld, om nuwe lewe in óórvloed te gee, dáár waar die reuk van dood swaar gehang het.
Ek wou nog so baie oor hierdie boek en sy skrywer en sy eerste lesers skryf, maar die plek en tyd is net eenvoudig te min, daarom sal ek maar hiermee volstaan. Dalk moet ek dit tog net beklemtoon dat die hele ontstaan van die kerk, en die feit dat daar so ‘n fenominale groei was, maar net aan een ding te danke is: die kragtige werking van die Heilige Gees! Opgewonde vertel Lukas vir ons van daardie wonderlike dag toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is, en hoedat Hy God se genade in mense se lewens bewerk het en hulle toegerus het met groot krag, om die Evangelie wêreldwyd uit te dra, en hoe Hy die kerk sterk en staande laat bly het ten spyte van wrede vervolging en lyding.
Gebed:
Here, ek is vanoggend soos ‘n opgewonde seuntjie voor ‘n ontdekkingstog. Dankie vir sulke opwindende dinge in die Bybel, en Here, help my asseblief om dit toe te pas in my lewe.