Ontdekkingstog

17 September, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ontdekkingstog

Inleiding oor die boek Handelinge

VIDEO | OUDIO

Dis Saterdag iewers in 1960 en ek en my maat Fanie sit koppe bymekaar: “Wat doen ons vandag?” Dis 'n moeilike vraag vir ’n twaalfjarige seun want daar is so baie dinge om van te kies! Ons kan natuurlik in die plaasdam gaan swem of roei op ons tuisgemaakte blikboot. Ongelukkig het die bootjie laasweek gesink en dit gaan kos dat ons die boot eers moet gaan uitduik en teen hierdie tyd lê dit diep weggesak in die modder op die dam se bodem! Een opsie minder! Ons oorweeg dit om Suid Heuwel, ons plaaslike berg te gaan uitklim vir ‘n asemrowende uitsig oor die Laeveld. Of dalk die kleigat te gaan ontgin en kleilat speel of kunswerke bou van die taai blou klei. Keuses, keuses, keuses!

Kom ons gaan op ‘n ontdekkingstog!” Nou is ons albei opgewonde! Die misterieuse klowe onderkant die beroemde Elandskrans het talle geheime en klipskeure en watervalletjies wat ons kan gaan verken. Dis gevaarlike terrein met hoë kranse, digte bosse en yskoue, kristalhelder swemgate. Die wêreld krioel van alles wat lewe - ribbokke, dassies, bobbejane, voëls, palings en ek het selfs eenmaal daar ’n baie groot kat, nogal met kolle teëgekom. Ek was te haastig om eers sy kolle te tel, maar ek was séker dit was 'n luiperd! Opwindend!

Vanoggend wil ek jou persoonlik uitnooi om saam met my op ‘n ander soort ontdekkingstog te gaan, een selfs nog baie meer opwindend as Waterval Boven se klowe! Ons gaan die wêreld van die vroeë kerk ontdek.

As jy iemand is wat baie opgewonde kan raak oor ‘n nuwe ervaring van God se krag in jou lewe, dan is die Handelinge nét die regte medisyne. Handelinge bruis letterlik met opwindende nuwe lewe - Gód se nuwe lewe wat Hy deur sy Gees in mense se lewens uitstort.

Stagneer jou gemeente dalk? Kom verlustig jou dan saam met my in Handelinge, want hier sien ons hoedat ‘n klein groepie bang Christene wat agter geslote deure moes wegkruip, binne ‘n baie kort tydjie tot ‘n magtige span getuies regoor die wêreld gegroei het. Agter hierdie asemrowende beweging staan die Heilige Gees. Dit is Hy wat gesorg het dat die evangelieboodskap tot aan die uithoeke van die wêreld uitgedra word en daarvoor het Hy doodgewone mense gebruik!

Alhoewel Handelinge ‘n opwindende ontdekkingsreis deur die vroeë kerk is, is dit baie beslis nie ‘n biografie van die eerste kerk nie. Lukas, die briljante dokter-skrywer van hierdie boek, probeer nie die dag-tot-dag gebeure van die kerk weergee nie maar hy wil eerder vir ons vertel van hoe die Heilige Gees gewerk het deur mense soos Petrus, Paulus en ander vroeë Christene om hierdie reuse vloedgolf van die evangelie oor die wêreld te laat spoel. Ek dink dat as Lukas ‘n volledige verslag sou wou skryf, dit ‘n boek baie dikker as die ganse Bybel sou beslaan! In die skamele 28 hoofstukke slaag hy egter tóg daarin om kortliks die verhaal te skryf, ‘n verhaal wat bruis van opwinding!

Terloops, Handelinge is nie die eerste boek uit Lukas se pen nie. Sy eerste was die Lukas-Evangelie wat hom volume-gewys die grootste skrywer van die Nuwe Testament maak, selfs meer as sy groot held, Paulus. ‘n Groot gedeelte van sy boek wy hy dan ook aan Paulus se optrede. Al Paulus se briewe was al lankal klaar geskryf voordat Lukas met sy twee boeke begin het.

Lukas, ‘n mediese dokter, het sy boek op ‘n wetenskaplike wyse aangepak. Hy dra beide sy boeke op aan Teofilus, ‘n belangrike Romeinse staatsamptenaar. In sy inleiding vertel hy dat hy deeglike navorsing gedoen het voordat hy begin skryf het. Sy basiese verwysingsbron was natuurlik die Septauginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament. Hieruit het hy telkemale aangehaal. Hy het ook ander bronne gebruik wat ongelukkig vandag nie meer bestaan nie. En natuurlik was hy in die wonderlike bevoorregte posisie om gesprekke te kon voer met die vroeë kerkleiers en al die vertellings wat in omloop was het sy ore bereik.

Hy het natuurlik ook die voorreg gehad om ‘n paar avonture saam met Paulus persoonlik mee te maak. Uit al die inligting wat Lukas so versamel het, kon hy hierdie opwindende boek saamstel. Dit is inderdaad ‘n boek van God se triomftog deur ‘n verlore heidenwêreld om nuwe lewe in óórvloed te gee, dáár waar die reuk van dood swaar gehang het.

Ek wou nog so baie oor hierdie boek, sy skrywer en sy eerste lesers skryf maar die plek en tyd is net eenvoudig te min, daarom sal ek maar hiermee volstaan. Dalk moet ek dit tóg net beklemtoon dat die hele ontstaan van die kerk en die feit dat daar so ‘n fenominale groei was, maar net aan één ding te danke is: die kragtige werking van die Heilige Gees! Opgewonde vertel Lukas vir ons van daardie wonderlike dag toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is en hoedat Hy God se genade in mense se lewens bewerk het. Hy vertel hoedat die Heilige Gees hulle toegerus het met groot krag om die Evangelie wêreldwyd uit te dra en hoe Hy die kerk sterk en staande laat bly het ten spyte van wrede vervolging en lyding!

Gebed:

Here, ek is vanoggend soos ‘n opgewonde seuntjie voor ‘n ontdekkingstog. Dankie vir sulke opwindende dinge in die Bybel, en Here, help my asseblief om dit toe te pas in my lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026