Lukas 11:1-4
Een van Jesus se dissipels vra Hom om hulle ook asseblief te leer bid. Dan leer Jesus hulle, deur vir hulle ‘n raamwerk te gee wat jy kan gebruik om ‘n gebed te bou. Saam met hierdie gebedsraamwerk vertel Hy hulle ook ‘n gelykenis wat die waarde van gebed beklemtoon. Oor die betekenis en die simboliek agter die “Ons Vader-gebed”, kan ons baie ure gesels. Hier gaan ons dit net kortliks behandel.
Jesus begin die gebed deur God as “Vader” aan te spreek. Hy gebruik dieselfde aanspreekvorm in Luk 10:22 nadat die 72 dissipels teruggekeer het, asook in Luk 22:42 toe Hy in Getsemane geworstel het oor Sy dood wat op Hom wag. “Vader” dui op ‘n intieme verhouding tussen Jesus en God. Nou gee Hy sy dissipels die reg om óók so met God te mag praat. Hulle kry dus die reg om dieselfde intieme verhouding met God te mag hê as Hyself. Dit beteken in werklikheid dat God nie alleen die verhewe Here is wat oor alles heers nie, maar dat Hy ook in sorgsame liefde soos ‘n Pa vir Sy kinders sorg. Hiermee sê Jesus dan vir Sy volgelinge dat hulle in ‘n sekere sin presies dieselfde status as Hy kry, om kinders van God te word.
Natuurlik is presies dieselfde vandag van toepassing op my en jou as gelowiges. God is ons liefdevolle Vader, en ons kan te enige tyd na Hom gaan in gebed. Is dit nie wonderlik nie!
Die Ons Vader-gebed bestaan uit vyf bedes, waarvan die eerste twee te doene het met die eer van God en die laaste drie met ons eie behoeftes wat ons voor Hom lê.
In die eerste bede vra ons dat die Vader se Naam geheilig of vereer word. Daarmee verklaar ek as bidder myself bereid om alles in my vermoë te doen om die Here se Naam te vereer en te heilig. Dit plaas op my ‘n groot verantwoordelikheid, want dit beteken onder meer dat ek Hom wil leer ken soos Hy waarlik is, en dat ek moeite sal doen om Sy almag en die grootheid van sy werke raak te sien en aan almal bekend te maak. Daarmee wil ek met my ganse lewe die Here loof en prys, en terselfdertyd ook die katalisator wees om ander mense te inspireer om dieselfde te doen.
In die tweede bede verklaar ek dat ek erken dat God regeer, en dat Hy in volle beheer is. Ons het dit al so dikwels vir mekaar gesê deur hierdie dagstukkies. As ons die boek Daniël lees, besef ons net keer op keer dat Hy ten volle in beheer is, al lyk dit soms vir ons gladnie so nie. Met hierdie bede stel ek my volle vertroue op Hom, en ek berus by gebeure buite my beheer.
In die derde bede verklaar ek my volle afhanklikheid van God. Dit is dikwels baie moeilik vir ‘n ryk persoon om hierdie bede eerlik te bid, want alles is tóg daar in oorvloed! Waarom moet ek dan nog die Here vra om te voorsien? Ja, Job het dalk óók so gedink, en in ‘n oogwink was alles weg! Kovid 19 het oornag van baie skatryk mense armes gemaak. Selfs al het ek oorvloed, moet ek steeds my afhanklikheid van Hom besef en erken. Alles wat ek het, het ek slegs deur Sy groot genade.
Oor die vierde bede, waar ek die Here vra om my sonde te vergewe, kan ons letterlik boeke skryf. Ek het oor die jare al talle briewe gehad waar mense my met trane vra of dit óóit moontlik is dat God hulle groot sondes kan vergewe? Natúúrlik! Lees maar wat ons Vader verklaar in Jesaja 1:18: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.” Rom 3:23 sê dat almal gesondig het, maar dat hulle sonder dat hulle dit verdien vrygespreek word in Jesus.
Daar is egter ‘n stertjie aan hierdie bede: “want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree”, verklaar ek voor die Here. Hierdie is die moeilike deel, want dit is nie altyd so maklik om iemand anders te vergewe nie. Dikwels loop gelowiges vir jare met ‘n wrok in die hart teenoor iemand wat hom te-ná gekom het. Hoe kan ek van God vra om my sonde, wat dikwels dik boeke beslaan, te vergewe, as ek nie bereid is om iemand een enkele misstap teen my te vergewe nie? Om te vergewe beteken onder meer dat my hele houding teenoor daardie persoon moet normaliseer, en dat ek hom aanvaar as ‘n vriend.
Die laaste bede handel oor versoekings wat oor ons pad kom. As ek die Here bid om my daarteen te beskerm, beteken dit dat ek dit aktief sal vermy. Die liedjie uit My Fair Lady lui: “The Lord above gave liquor for temptation, to see if man can keep away from sin. But with a little bit of luck, when temptation comes, you’ll step right in!” Die liedjie het ‘n totale wanpersepsie van versoeking. Ons moenie die versoekings gaan soek nie - ons moet júis van hulle af wegbly!
Kom ons kyk met nuwe oë na hierdie gebed, en gaan leef dit uit.
Gebed:
Vader, ek voel so klein wanneer ek hierdie gebed bid, want ek skiet so ver tekort in my eie uitlewing daarvan.