Ons Trek!

25 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ons Trek!

Eksodus 12:34-13:22

???? VIDEO | ???? OUDIO

"Ons trek!" Die tagtigjarige Moses kom in Gosen aangehuppel met 'n breë glimlag op sy gesig. "Ons trek! Is almal gereed?" Sommer dadelik begin daar ‘n massa-beweging want almal het net staan en wag vir sy bevel. Só haastig is die Israeliete om in die pad te val, dat daar nie eers tyd is om padkos te maak nie. Die brood deeg word sommer so rou gegryp en in skottels saamgedra. Presies hoeveel mense daar was, kan ons maar net raai, maar daar was volgens Eksodus 12:37 600’000 weerbare manne. Boonop was dit nie net Israeliete wat saamgetrek het nie, maar ook ‘n groot aantal mense van ander afkoms. Konserwatiewe navorsers reken dat daar minstens tweemiljoen mense moes wees. Ander glo dat daar selfs meer as drie miljoen mense was. Dit was, om die minste te sê, ‘n logistieke nagmerrie om so ‘n klomp mense skielik in beweging te bring.

Die uittog na 'n rugbywedstryd tussen die Bulle en die Haaie is absoluut chaoties en baie mense is bitter gefrustreerd. In Genesis 13:18 lees ons egter dat die uittog uit Egipte goed georganiseerd verloop het. Met die oorskot van Josef by hulle, neem hulle ‘n wye ompad na die beloofde land Kanaän. Josef se beendere word uiteindelik 40 jaar later by Sigem, in die Beloofde Land begrawe. Op daardie stadium het die Filistyne die kusgebied van Kanaän beset, en dit sou net moeilikheid-soek wees om daardie maklike roete te volg. Die Filistyne was afkomstig van die eiland Kreta - een van die grootste eilande in die Middellandse see. Dit was ‘n volk wat vir die vorige 1500 jaar reeds die toonaangewende kultuur-volk van die wêreld was, met asemrowende kunswerke wat vandag steeds, 5000 jaar later, mense betower.

Oor die roete wat Moses gevolg het, kan ons net raai. Daar is mense wat beweer dat hulle die presiese roete ontdek het, maar dit bly steeds net spekulasie. Al wat ons weet is dat Moses ‘n roete gevolg het wat deur ‘n onherbergsame woestynwêreld geloop het, en iewers by die “Rietsee” uitgekom het. Selfs hieroor is daar nie sekerheid nie en daar is baie bespiegelinge oor presies waar die Rietsee nou eintlik was, maar waarskynlik in die noord-oostelike deel van Egipte. As iemand jou dus wil wysmaak dat hulle deur die Rooisee getrek het en jou boonop nog foto’s wys van die Egiptenare se wawiele op die bodem van die see - neem dit maar met ‘n knippie sout! Daar groei nie riete in die Rooisee nie want dis seewater!

Maar dit doen geensins afbreuk aan die wonder van die uittog nie. Om so ‘n groot klomp mense gelyk te laat trek, was alreeds ‘n onbeskryflike wonderwerk. Iemand in die weermag wat met logistiek werk, het uitgewerk dat indien daar driemiljoen mense sou wees, sou daar elke dag 1’500 ton kos nodig wees. Nou moet ons onthou dat hulle deur die woestyn getrek het waar daar bitter min kos, water of selfs vuurmaakhout was om die kos gaar te maak. ‘n Goederetrein van 6 km lank sou nodig wees vir die kos alleen. Hy reken dat hulle daagliks 50 miljoen liter water sou nodig hê (ek dink dit is dalk ‘n bietjie rof!) in ‘n wêreld waar daar net hier en daar ‘n put is. Om in een nag deur die Rietsee te kon loop, moes hulle ‘n pad van 5km breed gehad het en skouer teen skouer 5000 mense wyd deurgestap het.

Dink jy miskien vir een oomblik dat Moses al hierdie dinge haarfyn uitgewerk het? Nog nooit! Moses was ‘n doodgewone mens. Maar hy het ‘n God gehad wat vir hom probleme kon oplos wat vandag vir groot strategeë hoofbrekens besorg. Ek en jy het daardie selfde God as ons Vader! Bekommer jy jou nog steeds? Nee, ek verstaan gladnie hoe hulle dit alles reggekry het nie. Ek verstaan nie waar al die kos en water vandaan gekom het nie. Ek verstaan nie hoe hulle deur daardie see gekom het nie. En ek verstaan baie beslis nie hoe Moses dit reggekry het om so ‘n klomp weerbarstige, dwarstrekkende Israeliete gelyk te kon laat trek nie! Maar ek hoef dit nie te verstaan nie - al wat die Here van ons vra is om dit te glo en om in verwondering daardie asemrowende wonderwerk aan Hom alleen toe te skryf. En dan vra Hy, dieselfde God van daardie tyd, dat ek Hom sal vertrou, ook in my eie lewe en vir my eie omstandighede, wat maar druppeltjies is in vergelyking met Moses se see van probleme.

Die eerste groot wonderwerk breek aan so pas nadat die Israeliete begin trek het: God se sigbare teenwoordigheid. ‘n Wolkkolom verskyn voor hulle en Moses beduie dat dit God is in hierdie wolk, en dat Hy vir hulle die pad aandui. En wanneer dit aand word, word hierdie wolk helder verlig, asof dit ‘n kolom vuur is. Helder word die nag rondom hulle verlig, en hulle kan selfs dwarsdeur die nag trek. Ek dink die Israeliete het in verwondering gestaan oor hierdie asemrowende “Natuurwonder”.

Gebed:

Dankie Here, dat U vandag en gister en môre steeds dieselfde is. Ons het dalk nie vandag meer ‘n wolk- en vuurkolom om ons te lei nie, maar ons het U Heilige Gees binne-in ons. Wat ‘n wonderlike voorreg het ons nie, Here. Ons kan maar net voor U neerval in dankbaarheid!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026