Hebreërs 3:7-19
As die Dominee die kansel bestyg, voel ek sommer aan my beendere dat hier vanoggend ’n swael-en-vuur preek gaan kom. En ek is ook nie verkeerd nie. Hierdie besoekende leraar is hewig omgekrap, en baie gou sien ek waarom: Sommige teoloë in ons land bevraagteken die hele wese van Jesus! Daar is selfs bekende teoloë wat beweer dat enige soort van godsdiens, of dit nou Hindoe of Moslem of Bhuddisme is, jou in die hemel sal bring. 'n Sekere professor in Teologie en sy trawante krap boonop die kerk deurmekaar met allerhande Godslasterlike beweringe, soos byvoorbeeld dat Jesus nooit uit die dood opgestaan of na die hemel opgevaar het nie, en ook nie ‘n maagdelike geboorte gehad het nie.
Die dominee skok my met die berig, dat ’n sekere leraar deel was van ’n afvaardiging wat die “geeste van die afgestorwe MK lede” gaan haal het, nogal saam met ’n groep Sangomas! Dan heul jy mos met duiwelsdinge! Die droewige deel is dat hierdie teoloë nie eers uitgegooi kan word nie. Hulle staan steeds op ons kansels en in die teologiese skole. Hulle kan nie afgedank word nie, want die reg is aan hulle kant!
Daar word beweer dat sekere leraars in Suid-Afrika se godsdiens grens aan New Age, en dat sommige teoloë ál die beginsels van New Age onderskryf! Skokkend! Hierdie sogenaamde Bybelkenners beweer dat 80% van die dinge wat in die Nuwe Testament geskryf is, bloot fiksie is, sommer net stories! Watter soort snert probeer hulle ons wysmaak!
Gelukkig kan ek vanoggend getuig dat daar duisende leraars en teoloë is wat steeds styf vashou aan die suiwer Woord van God, en dit elke Sondag preek van die kansel af. Ek was die afgelope paar jaar by verskeie kerkvergaderings waar honderde leraars bymekaar was, en die wonderlike gees van geloof en hoop wat ek deurentyd daar gesien het, maak my hart brandend. Bid vir jou leraar, dat hy staande sal bly!
Hebreërs 3:7-19 is ‘n kort preek met Psalm 95:7-11 as basis. Dit handel oor die Israeliete wat vir veertig jaar in die woestyn rondgeswerf het voordat hulle die beloofde land kon binnegaan. Dit was sekerlik nie ‘n maklike veertig jaar nie, maar hulle het sélf gesoek daarna deur hulle ongeloof. Elke dag moes hulle sien hoedat God vir hulle voorsien in hulle tog op pad na die beloofde land. Hy het daagliks vir hulle manna en kwartels gegee om te eet en op wonderbaarlike wyse water gegee om te drink. Hy het hulle op Goddelike wyse gelei en beskerm met die wolk- en vuurkolom en hulle rigting daarmee aangedui van die een droë sandduin na die volgende, deur ‘n woestyn wat oneindig voor hulle uitgestrek het. Die asemrowende wonder van God se sorg is totaal onbegryplik, hoe Hy meer as driemiljoen mense so kon voorsien aan al hulle behoeftes. Nogtans kon hulle nie glo dat Hy hulle veilig die land kon inlei nie. Hulle was hardkoppig, opstandig en het God uitgetart! Nie een van daardie geslag Jode het die beloofde land gesien nie, buiten Josua, die enigste gelowige. Die ander se lyke lê verstrooi oor die woestyn.
Die skrywer van hierdie preek waarsku nou sy lesers dat hulle nie in dieselfde soort van godsdiens moet verval nie. Die Israeliete wat volgens Eksodus 33 vir God aanbid het, het kort daarna verval in afgodsdiens. Baie van die teoloë wat nou sulke skokkende uitsprake maak was eens toegewyde gelowiges. Wat het gebeur? ‘n Jehovah’s Getuie vertel my dat sy ‘n sondagskool onderwyseres in die NG Kerk was. Wat het gemaak dat sy nou nie meer Jesus as God erken nie?
Die Jode het God op ‘n baie besonderse manier leer ken, maar hulle het steeds hulle rug op Hom gekeer. Hulle straf was afgryslik. Iemand wat ál die geleenthede kry om God waarlik te leer ken, het ‘n wonderlike voorreg. Teoloë het geleenthede wat min mense beskore is. Tóg raak sommige die pad totaal byster. Ek en jy wat gereeld die Woord van God hoor, is nét so bevoorreg. Daar is miljoene wat nie daardie geleentheid het nie. As jy jouself laat verlei deur dwaalleringe, of in opstand kom teen die dinge wat jou geleer word in die Woord van God, wag daar ‘n verskriklike einde op jou.
Die onfeilbare Woord van God pleit vandag by ons: “Vandag as julle Sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.” Moenie jou laat verlei deur die mooi praatjies van dwaalleraars nie. Hou die oog gevestig op Jesus, die opgestane Heer, Hy wat waarlik opgevaar het na die hemel, en wat regeer oor die hemel en die aarde. Hou styf vas aan jou geloof in Jesus, want Hy is waarlik God en Skepper, so leer die heilige Woord van God ons. Glo met jou hele hart dat die Bybel nie maar afgewaterde “woorde van God” is soos sommige beweer nie, maar die ware Woord van God.
Gebed:
O Here, ek pleit om genade vir die teoloë wat U Woord verwerp het. Ruk hulle asseblief terug uit die kloue van die duiwel! Gee asseblief vir hulle ‘n nuwe insig.