Ongelowige Christene

14 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ongelowige Christene

Johannes 2:23-25

VIDEO OUDIO

Volgens Wikipedia is ongeveer 80% van Suid-Afrika se bevolking van 60 miljoen mense Christene. Ons is dus ‘n uiters geseënde land! Of is ons werklik? As daar dan soveel Christene is - waarom was die kerk gister so leeg? Waar was al die ander mense? Maar dan moet ons darem ook by sê dat daar by die laaste reuse saamtrek van Oom Angus ‘n miljoen mense was, dus 1,6% van die totale bevolking van Suid-Afrika! Dit gee ’n mens hoop vir die toekoms - ons land is nie so ’n slegte plek as wat mense dit wil afmaak nie. Dalk kan ons selfs goed voel oor onsself!

Maar daar is ‘n probleempie: van die 48 miljoen wat beweer dat hulle Christene is, is slegs ‘n klein handjievol werklik gelowiges, oftewel mense wat Jesus in die geloof aangeneem het. En ongelukkig is dit ook so dat van hierdie gelowiges daar ook net ‘n klein persentasie is wat waarlik hulle geloof uitleef deur ‘n lewende, persoonlike verhouding met Jesus. Dit help niks dat jy ‘n Mighty Men gebeurtenis bywoon, en twee weke later is jy maar net weer jou ou self nie. Daardie wonderlike opbouende geleentheid moet vir jou die vonk wees om ‘n ware verhouding met Jesus te begin.

Hoofstuk 3 van Johannes - Jesus se gesprek met Nikodemus - is seker een van die mees gelese hoofstukke in die ganse Bybel, en veral vers 16. Daarom was dit nodig vir Johannes om eers ‘n kort inleiding daaroor te skryf, sodat ons hierdie gesprek beter kan verstaan. In vers 23 skryf Johannes dat daar groot getalle mense tot geloof gekom het in Jesus terwyl Hy in Jerusalem was om Paasfees te vier, bloot omdat hulle die wonderwerke gesien het wat Hy gedoen het. Die vraag wat onmiddellik by jou ontstaan is, wat van al hierdie gelowiges geword het toe Jesus die dag gekruisig is? Die groot hartseer is dat baie van hulle daardie droewige dag saamgeskree het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Hoe is dit moontlik?

Die antwoord hierop is dat die woord “geloof” nie altyd deur Johannes gebruik is vir daardie soort geloof wat ‘n totale oorgawe of persoonlike verhouding met Jesus beskryf nie. Met ander woorde: mense wat positief voel oor Jesus, en wat agter Hom aanloop om Sy wonders te sien, was ook deur Johannes “gelowiges” genoem. Die werklikheid het as ‘n reuse skok gekom vir hierdie selfde “gelowiges”, toe Jesus in Joh 8:44 die bom laat bars: “Julle is kinders van die duiwel!”

Ons moet dus in die eerste plek baie versigtig wees wanneer in konteks sekere woorde of gedagtes gebruik word. Ons moet onthou dat dit uiters moeilik is om uit ‘n antieke taal soos Grieks, en met ‘n totaal ander agtergrond as waarin ons vandag leef, ‘n akurate vertaling te kan maak wat presies weergee wat die skrywer se bedoeling was.

Maar nog meer belangrik is die feit dat ons baie versigtig moet wees oor wat ons “geloof” behels, en dat dit nie slegs ‘n verwonderingsgeloof is soos wat daardie volgelinge van Jesus gehad het nie. Soos ons reeds gesien het, is daar miljoene Suid-Afrikaners wat só ‘n geloof het, en in Jesus se eie woorde is hulle “kinders van die duiwel”. Die tyd het gekom dat elke Christen (ook ek en jy) homself die vraag moet afvra of sy geloof eg is en die stempel van Jesus op het. As jy nie seker is hieroor nie, wil ek vra dat jy my dadelik kontak. Jy kan sommer die skakeltjie hier onder gebruik. Of gaan gesels met jou dominee of pastoor. Dit is lewensbelangrik!

In vers 24 sê Johannes dat Jesus “Hom nie op hulle verlaat het nie”, bedoelende die mense wat tot geloof in Hom gekom het. Dit beteken eintlik dat Hy Homself nie aan hulle toevertrou het nie, omdat Hy geweet het wat in hulle gemoedere aangaan. Hierdie gedagte word eers werklik duidelik as ons hoofstuk 3 lees, wat handel oor die gesprek met Nikodemus. Jesus het die wedergeboorte vir hom verduidelik, maar Nikodemus was so vasgevang in sy eie redenasies, dat hy eintlik gladnie verstaan het waaroor dit gaan nie. Dalk wóú hy nie verstaan nie, of dalk was hy bang om te verstaan, want dan sou sy Fariseër-vriende hom verwerp. Maar Nikodemus was nie die enigste wat nie wou verstaan nie - hierdie “gelowiges” wou ook maar net verstaan wat hulle pas. Al die wonderwerke was pragtig, en hulle droom dat Jesus, die Messias, hulle sou red van die verdrukking van die Romeine, het gemaak dat hulle aanhangers geword het van Jesus. Hy was egter nie opgewonde oor die aanhang wat Hy geniet het nie, want Hy het hulle binneste geken.

Ja, Jesus ken ook my binneste, en Hy ken joune. Het Hy rede om opgewonde te wees oor ons dissipelskap? Hierdie vraag moet ons elkeen vir onsself afvra.

Gebed:

Here, ek kom vanoggend ontbloot na U. U ken my deur en deur. Ek glo in U met alles wat in my is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026