Onderwerp Jou

2 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Onderwerp Jou

Matteus 3:13-17

VIDEO | OUDIO

Hoe onderwerp jy jou aan die wil van God? Dit is ‘n mens se natuurlike reaksie om nie onderwerping te aanvaar nie. My weermag opleiding baie jare gelede, was een waar ek my net eenvoudig móés onderwerp aan die gesag wat oor my gestel was. As die sersant gesê het: “Spring!” dan hét jy gespring, of jy nou lus was daarvoor of nie!

God se gesag werk egter totaal anders. Dit is nie ‘n harde, ongenaakbare gesag nie, maar iets sag wat jou aanspoor om dít wat Hy van jou vra te wíl doen! Dan onderwerp jy jou met blydskap aan Sy gesag.

In die verhaal wat Matteus ons vandag vertel, het óók te doen met die aanvaarding van gesag. Johannes die Doper was besig om mense te doop. In die vorige verse het ons gesien hoedat hy gepreek het dat mense hulle moes bekeer van hulle sondige lewens. As teken van God se vergifnis oor hulle sondes, moes hulle gedoop word om sodoende simbolies skoon gewas te word. Hy het hulle ook vertel dat hy sélf eintlik maar net die voorloper was, en dat daar Iemand baie groter as hy sou kom. Hy was as’t ware slegs die wegwyser na hierdie Een!

Op ‘n dag, terwyl Johannes weer besig was by die Jordaanrivier om mense te doop, duik daar skielik ‘n groot dilemma op vir hom. Jesus het daar opgedaag uit Galilea en Hy het reguit na Johannes gegaan met die versoek dat hy Hom doop. Johannes het dadelik besef met Wie hy te doen gehad het, dat dit die sondelose Seun van God, die Messias was. As hy vir Jesus sou doop, sou dit dalk kon impliseer dat Jesus wél sonde gehad het. Johannes het baie minderwaardig gevoel, want Jesus was die Heilige Een, en hy sou baie eerder dat Jesus hóm doop. Hoe kon hy so “arrogant” wees om die Heilige van God te wou doop? Johannes het homself uit hierdie situasie probeer praat, maar Jesus móés die wil van God laat geskied. Johannes het géén ander keuse gehad nie as om homself te onderwerp aan die wil van God en toe te gee aan Jesus se versoek!

Moet ons hierin lees dat Jesus wél sonde gehad het wat “afgewas” moes word? Géénsins! Dit is te verskriklik om eers so ‘n gedagte te uiter! Jesus was die eerste en enigste Mens wat óóit totaal sonder sonde was!

Wat was dan die bedoeling met hierdie doop van Hom? Hy wou hiermee Homself volledig vereenselwig met die sondige mens. Hy, die Skepper-God, die absoluut sondelose, moes nou verneder word om Hom aan die wil van God te onderwerp, ‘n gedagte wat totaal onverstaanbaar is vir my as nietige mens! Oor die volgende drie jaar moes sy dissipels van Hom leer hoe belangrik dit is om jou aan die wil van God te onderwerp. Dit het hulle dikwels in baie moeilike situasies laat beland wat hulle soms rooi in die gesig gelaat het. Dit is nie maklik om jou aan God se wil te onderwerp nie, iets wat Jesus se dissipels op die harde manier moes leer. Maar hulle het egter ‘n Leermeester gehad wat bereid was om hierdie gedagte tot die bitter einde deur te voer en boonop prakties vir hulle te demonstreer.

Om as kind van God die volle pad te stap om aan Sy wil gehoorsaam te wees, is wél moeilik maar dis beslis nie onmoontlik nie, en dit beteken ook nie dat jy dit met ‘n lang gesig hoef te doen nie. Dit behels verder beslis ook nie net swaarkry nie! Inteendeel, ek kan vandag daarvan getuig dat dit vir jou ongekende lewensvreugde bring. Jesus het hierdie vreugde alreeds ondervind toe Hy die eerste stap geneem het om Hom aan God te onderwerp. Nadat Johannes Hom gedoop het, het die hemel oopgegaan en God het Sélf gepraat vanuit die hemel: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Terselfdertyd het die Gees van God, oftewel die Heilige Gees soos ‘n duif op Jesus neergedaal en Hom toegerus vir Sy reuse taak. Hierna het Hy vir veertig dae van afsondering in die woestyn gegaan.

Die Here het vir elke gelowige ‘n taak om te verrig. Ek het egter ‘n keuse of ek dit gaan aanvaar of nie. Aanvaar ek dit, is dit die eerste stap om Sy wil te doen. Hy wil egter verder hê dat ek dit nie halfhartig doen nie, maar voluit gaan daarvoor. Daarvoor is dit nodig dat ek my aan Sy wil onderwerp. Dalk sit jy vandag en worstel met só ‘n taak wat die Here van jou vra, en jy is bang. Hy vra egter slegs van jou om jouself bereid te verklaar om te doen wat Hy vra. Die wonderlike is dat wanneer jy “ja” sê, sal Hy jou ook die volle toerusting daarvoor gee. Die Heilige Gees gee jou ál die krag en wysheid wat jy nodig het. Hy is beslis ‘n onuitputlike Bron! Maar dit beteken egter nie dat jy maar kan agteroor sit en niks omtrent die saak doen nie, en dat wysheid maar in jou skoot sal val nie. Inteendeel, Hy wil juis hê dat jy jou kant moet bring, maar dan jou volle vertroue op Hom stel en terselfdertyd jou ten volle aan Hom onderwerp. Glo my: dit is deur en deur die moeite werd!

Gebed:

Here God Almagtig, ek wil my vanoggend weer opnuut ten volle aan U onderwerp. Heilige Gees, rus my asseblief toe met krag en wysheid en bereidwilligheid!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026