Onbaatsugtige Liefde

27 March, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Onbaatsugtige Liefde

2 Timoteus 1:15-18

VIDEO | OUDIO

Almal het my in die steek gelaat,” sug Paulus, “almal in die provinsie Asië.” Skokkende woorde! In die Romeinebrief skryf Paulus dankbaar dat sy werk in Asië afgehandel is. Dit is ‘n reuse gebied van duisende vierkante kilometer, waar onder meer die stad Efese geleë is. Paulus se sweet en trane van jare se uitmergelende werk lê diep in hierdie wêreld. Hy het sy álles gegee om hierdie mense na Jesus te lei. Talle gemeentes het hy daar gestig. En nou het hulle hom in die steek gelaat! Paulus noem nie pertinent in watter opsig hy in die steek gelaat is nie, maar ons kan maar net raai dat niemand uit daardie omgewing bereid was om vir hom te kom getuig tydens sy eerste verhoor nie. Paulus het gedink dat daar ten minste ‘n klompie mense sou wees wat vir hom sou opstaan, maar toe sy probleme kom, het almal die rug op hom gedraai. Hulle was nie bereid om betrokke te raak nie want dan sou hulle sélf dalk in die moeilikheid kon kom. Paulus was ontnugter!

As Christenleier moet jy besef dat in die gebroke wêreld waarin ons leef, mense se verbondenheid met God nie noodwendig beteken dat hulle ‘n goeie verhouding met jóú sal hê nie, veral as hulle sien dat dinge sleg lyk. Persoonlike belange, standpunte, omstandighede ens. bring mee dat medegelowiges jou nie altyd deur alles gaan ondersteun nie, maak nie saak hoe groot jou opoffering as Christenleier vir húlle was nie. Op die lang duur gaan dit selfs beteken dat mense van jou gaan vergeet! Dankie tóg dat nie almal só is nie! Dankie tóg vir medegelowiges wat bereid is om deur dik en dun by jou te staan. Húlle soort is maar yl gesaai!

Van juis só ‘n man skryf Paulus: Onesiforus.

Ons moet onthou dat Paulus twee keer in gevangenskap in Rome was. Tydens die eerste keer was hy in huisarres. In daardie tyd kon hy ongestoord voortgaan met sy evangeliebediening. Die tweede keer was sake egter véél anders want toe is hy opgesluit in die tronk. Soos ons vroeër berig het, was hy vasgeketting in boeie en onder haglike omstandighede. Onesiforus het vanaf Efese gereis na Rome om Paulus te gaan opsoek en hom by te staan. Dit was ‘n baie lang en vermoeiende reis en dit kon nie maklik gewees het nie. Toe hy in Rome kom, lê daar vir hom ‘n nagmerrie voor, want waar spoor hy vir Paulus op? Daar was nie ‘n adres en kamer nommer nie. Die tronk was ‘n deurmekaarspul van donker gangetjies en gate en selle en die tronkbewaarders was beslis nie die hulpvaardigste nasie onder die son nie! Onesiforus het egter nie moed opgegee nie en tussen die vuil, verwaarloosde, stinkende tronkvoëls bly soek totdat hy uiteindelik vir Paulus opgespoor het. Ek kan my indink hoe die tronkbewaarders hom met minagting gespot het omdat hy, ‘n vry man, hier in die hool kom rondkrap het!

En toe kry hy hom - ‘n vuil ou man wat nie na homself kon omsien nie omdat hy vasgeketting was. Onesiforus het hom nie geskaam vir Paulus nie en hy het hom daarna gereeld besoek en bygestaan. Wie weet, dalk sou hierdie brief vandag nooit geskryf kon gewees het as dit nie vir Onesiforus was nie!

Hoeveel gee ek en jy werklik vir ons medegelowiges om? Christene mag eenvoudig nie maar net mooiweersvriende wees nie! Jou omgee word werklik eers getoets wanneer dinge begin sleg gaan. Wanneer iemand nie meer in ‘n situasie is waar hy enigiets vir jou kan terugdoen of beteken nie, dan vergeet jy gerieflikheidshalwe maar van hom. En as hy boonop vir jou ‘n groot verleentheid kan wees, maak jy liewer asof jy hom nog nooit geken het nie.

Jesus het eenmaal die gelykenis vertel van die barmhartige Samaritaan wat ‘n Jood wat in die moeilikheid was gehelp het. Jode het die Samaritane geminag en wou niks met hulle te doene hê nie. Boonop was hierdie Jood beroof en hy kon dus nie ‘n sent aan die man terugbetaal nie. Die Samaritaan het absoluut niks uit hierdie “transaksie” gekry nie. Hy het ook niks terug verwag nie. Dit is wat ware naasteliefde beteken!

Die grootste gebod, só het Jesus ons geleer, is liefde. In die eerste plek is dit liefde vir God maar terselfdertyd ook liefde vir ons medemens. Die voorbeeld wat Hy gestel het is een van allesopofferende liefde. Natuurlik sal ek en jy nooit óóit dieselfde soort liefde as Jesus kan uitleef nie! Uit dankbaarheid vir Sy groot liefdesdaad aan ons, kan ons egter darem so ‘n ou ietsie teruggee aan ander mense. Dit beteken nou nie dat ons moet wag totdat die nood op sy hoogste is voordat daardie liefde moet inskop nie. Paulus vertel dat Onesiforus alreeds uit sy pad gegaan het om hom by te staan toe Paulus nog in Efese was. As jy in die alledaagse lewe bereid is om mee te leef, sal dit soveel makliker wees om steeds vir iemand ‘n steunpilaar te wees wanneer hy in ‘n ernstige beproewing staan. ‘n Lewe van omgee sal eendag in die hiernamaals ryklik beloon word!

Gebed:

Here, ek moet vanoggend bely dat my naasteliefde soveel te wense oorlaat. Leer my om waarlik lief te hê sonder om iets terug te verwag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026