Om te Wag…….

5 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om te Wag…….

2 Petrus 3:1-9

VIDEO * OUDIO

Het jy al ooit nodig gehad om te sit en wag dat iets moet gebeur? Maar natúúrlik het jy! Elkeen van ons moes al ‘n frustrerende uur, soms nog langer, in ‘n dokter se spreekkamer sit en wag. In ‘n staatshospitaal of kliniek is dit nog véél erger.

Ek word eenmaal afgevaardig om die een of ander vergadering by te woon. Ek was gewaarsku om nie laat te wees nie! Veertig minute nadat die vergadering moes begin, het die voorsitter uiteindelik opgedaag, maar toe was sy honger, en sy móés eers iets eet. En ons het gewag! ‘n Halfuur later word ons meegedeel dat ons stééds nie kon begin nie, want die media was nog nie daar nie! Na nóg ‘n uur se wag, het ek gemompel dat my vrou in kraam was en ek het geloop! Frustrasie!

Daar was sékerlik nog meer frustrerende wagtydperke in jou lewe. Seker die mees senutergende een is die bruidegom wat in die kerk wag vir sy bruid wat áltyd laat is. Het sy nie dalk koue voete gekry nie? Het daar nie dalk iets verskriklik met haar gebeur op pad kerk toe nie?

Die wagtyd waaroor ons egter vanoggend gesels is een wat al tweeduisend jaar duur. En sommige mense raak bitter ongeduldig en dikwels baie skepties hieroor: Jesus se wederkoms! En die wêreld waarin ons wag maak dit nie juis makliker nie!

Gelowiges leef vandag in ‘n wêreld deurspek met ongelowiges. Ons kan ons egter nie gaan afsonder en saam met ‘n paar gelowiges in ‘n klooster opsluit nie, want dan verloor jy totaal die doel van jou lewe! God wil juis hê dat ons hier tussen die ongelowiges bly om Sy lig te versprei in die donker wêreld rondom ons. Dit verg ongelukkig van ‘n gelowige om katvoet deur die lewe te loop, want ongelowiges se gedrag, lewe en standpunte kan só maklik jou eie beïnvloed as jy nie baie waaksaam is nie. Nét so kan jóú gedrag dalk nét ‘n ongelowige wat ontvanklik is vir die Woord, die boodskap gee dat dit beter is om liewer ongelowig te bly!

In hierdie bose wêreld waarin ons leef, moet ons daagliks luister na die ligtelike gespot oor ons geloof en oor die wederkoms van Jesus. Intussen leef hulle van partytjie na dronkpartytjie waar onsedelikheid hoogty vier. En as hulle met die Woord gekonfronteer word, dan word dit weggelag of gevloek, en die Christelike geloof word verkleineer. Selfs in die koerante, tydskrifte en sosiale media word ons deesdae gebombardeer met Godslasterlike uitsprake en artikels. Dan hoop hierdie goddelose mense heimlik dat die wederkoms nooit sal plaasvind nie, want dan word hulle dade ontmasker!

Die vraag is egter waarom dit vir ons nodig is om nog te wag op die wederkoms? Is dit werklik nodig om dit so lank uit te rek?

Toe Petrus hierdie brief geskryf het was die mense al moeg gewag vir daardie belofte om in vervulling te gaan. Veertig jaar het reeds verbygegaan sedert Jesus se hemelvaart. Wanneer sou dit dan gebeur? Daardie veertig jaar het intussen gerek na ‘n volle tweeduisend jaar. Waarom?

In die eerste plek moet ons onthou dat God in die ewigheid woon, anders as ons mense wat behep is met tyd. Wat is ewigheid? Hoe lank is dit? Volgens die oerknal-teorie het die heelal soos ons dit vandag ken reeds 15 duisend miljoen jaar gelede ontstaan. Is dit hoe lank ewigheid is? Nee, ewigheid is nie maar net ‘n verskriklike lang tyd nie! Dit is eerder ‘n totale afwesigheid van tyd. Een dag is immers vir God soos ‘n duisend jaar, en ‘n duisend jaar soos een dag! As my seun, Jaco, voor my rekenaar inskuif en my gerusstel met: “dit sal net twee minute vat Pa”, dan weet ek al dat ek maar rustig ‘n koppie koffie kan gaan drink en eers die koerant lees, want hy het g’n begrip van tyd nie! Nét so het ons absoluut géén begrip van Goddelike tyd nie, want ons leef in verskillende wêrelde. Oor Jesus se wederkoms kan ons dus nie sê: “Dit raak nou laat!” nie, want ons verstand is hopeloos té beperk daarvoor.

Waarom dit dan so lank vat? Waarom stel God die wederkoms uit? Genade! God wil hê dat ek en jy gereed moet wees vir Sy koms. Ons is immers die bruid van Jesus, en as Bruidegom wil Hy die bruid sprankelend hê - lees gerus wat Openbaring 19:7,8 hieroor sê! Hoe sou dit nou lyk as die Bruidegom kom, en die bruid is nog nie gereed nie?

Hoe maak die bruid gereed? Deur “regverdige dade” (Op. 19:8). God gun ons hierdie wagtyd om nog gereed te maak. Dink maar waar jy in die wagtyd nog iewers liefde kan betuig, iemand vergewe, verskoning vra, ‘n sonde in jou lewe uitsmyt, meer leer van die Bruidegom, ander mense inspireer om deel van die bruid te word. Inderdaad stel God die wederkoms uit sodat elkeen, élke ongelowige die kans kan kry om gered te word. Dit plaas ‘n soveel groter verantwoordelikheid op elke gelowige se skouers om die evangelie uit te dra. Is dit dalk oor daar nog soveel gedoen moet word in en deur my lewe dat Jesus se terugkeer nog nie plaasgevind het nie?

Gebed:

Here, wys my asseblief wat ek alles nog moet doen om gereed te maak vir U wederkoms.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026