Om te Wag op die Gees

19 September, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om te Wag op die Gees

 

Handelinge 1:9-26

VIDEO | OUDIO

Het Jesus fisies na die hemel opgevaar? Is dit nie ook maar ‘n versinsel van Sy volgelinge se gedagtes, soos 'n paar moderne "Skrifgeleerdes" wil beweer nie?

Lukas beskryf die hele gebeurtenis hier baie grafies. Jesus se volgelinge was almal bymekaar op die Olyfberg, sowat ‘n kilometer buite Jerusalem waar Hy 'n paar laaste opdragte aan hulle gegee het. Een opdrag was dat hulle Sy getuies oor die hele wêreld moes wees. Matteus 28 beskryf die opdragte in meer detail. Hulle moes dissipels van al die nasies gaan maak, hulle doop en leer en dan meld hy ook van die onvergeetlike belofte dat Hy by hulle sal wees tot aan die voleinding van die wêreld.

Skielik, is daar ‘n wolk en terwyl hulle almal toekyk, word Jesus in heerlikheid weggevoer op hierdie wolk, die hemel in. Wat het in hulle gemoedere omgegaan terwyl hulle so die lug staan en instaar? Jesus is weg! Wat nou? Maar hulle word teruggeroep na die werklikheid wanneer twee “manne in wit klere” skielik in hulle midde staan, engele uit die hemelse wêreld. Die dissipels word meegedeel dat Jesus net so weer sou terugkeer soos wat hulle Hom sien vertrek het!

Nou het dit tyd geword om die werklikheid in die gesig te staar en om te begin herorganiseer. Hulle stap terug na Jerusalem waar hulle vir die volgende weke gereeld by die tempel bymekaarkom. Een Sondag is die elf apostels in die bo-vertrek van ‘n huis bymekaar. Saam met hulle is ‘n aantal vroue, onder wie Maria, Jesus se ma asook Jesus se broers. Hulle was aanvanklik baie skepties oor Jesus, maar na Sy kruisiging en opstanding het hulle tot nuwe insigte gekom. Hierdie groepie se getalle het gou aangegroei tot sowat 120 mense. Moontlik kan ons hulle sien as die heel eerste “gemeente”. Lukas vertel dat hulle baie tyd in gebed deurgebring het in afwagting op die groot gebeurtenis waarvan Jesus hulle vertel het.

Gou sien ons Petrus uitstyg as die leier. Hy neem die inisiatief om ‘n ander apostel in Judas se plek te kies. Die getal twaalf is simbolies van die twaalf stamme van Israel en hiermee word dan die hele Israel verteenwoordig. Eintlik gaan dit veel verder, want in hierdie twaalftal word die ganse “Nuwe Israel” verteenwoordig, dit wil sê almal wat in Jesus glo. Petrus verduidelik vir die splinternuwe gemeente dat hierdie ding met Judas móés gebeur omdat God dit so bepaal het.

Dit laat ‘n mens met vrae en ek het al dikwels die vraag gehoor: “Het God dan vir Judas twyfel en ongeloof gegee sodat hy Jesus sou verraai?” Nee, baie beslis nie! Dit is nie in God se aard om iemand doelbewus van sy geloof te beroof nie. My persoonlike mening is dat Jesus vooruit geweet het dat Judas met daardie duistere dinge in sy hart rondloop. Iemand uit Jesus se binnekring móés Hom verraai en daarom het Hy doelbewus vir Judas as apostel gekies, wel wetende dat Judas onbetroubaar was en dat hy ander motiewe gehad het. Dit moes vir Jesus bitter gewees het om vir ‘n volle drie jaar ‘n intieme verhouding met iemand aan te knoop, terwyl Hy deeglik bewus was van wat Judas aan Hom sou doen!

Om Judas dus as ‘n “onskuldige slagoffer van omstandighede” te sien, is totaal verkeerd. Hy was van die begin af korrup en hy het baie goed geweet wat hy doen. Selfs sy mede-apostels het hom gewantrou, want hy het hulle geldsake hanteer en hulle het vermoed dat hy van die geld gesteel het.

Maar nou is hierdie onsmaaklikheid agter die rug en ‘n nuwe man moet in Judas se plek aangestel word. Twee manne staan as sterk kandidate: Josef, met die bynaam Barsabbas, wat letterlik beteken “Seun van die Sabbat,” waarskynlik omdat hy op ‘n Sabatddag gebore is. Die ander kandidaat wat sterk na vore tree is Mattias. Hulle trek lootjies en Mattias word aangewys as die nuwe twaalfde apostel. Hy was van die begin af een van Jesus se volgelinge en hy het die volle pad gestap van dag een af, toe Jesus gedoop is tot met Sy hemelvaart. Mattias was dus ‘n waardige apostel!

Alles was nou gereed vir die koms van die Heilige Gees. ‘n Handjievol (120) begeesterde mense wat biddend gewag het, nes Jesus hulle beveel het, was daardie Sondag bymekaar in die bovertrek in Jerusalem. Maar wat kan so ‘n klein ou groepie mense uitrig in ‘n wrede, bose wêreld wat dreig om hulle te verswelg?

Moontlik voel jy vandag presies dieselfde, as jy in jou gemeente sit met net ‘n klein handjievol mense wat bereid is om op te staan vir Jesus. ‘n Mens voel so verskriklik magteloos teen die oormag van die wrede wêreld. Jy sien die golwe van die heidendom wat op jou afstorm - Ateïsme, Satanisme, Islam en die massas mense wat die naam Christen dra, maar totaal ongelowig is! En jy wonder waar jou krag vandaan gaan kom?

Maar daar is wonderlike nuus: die Heilige Gees is eenmaal uitgestort sodat ek en jy ‘n oorwinningslewe kan hê, ook in hierdie op die oog af hopelose situasies. More lees ons DV van hierdie gebeurtenis.

Gebed:

Here, wanneer dinge dikwels ook vir my so hopeloos lyk - rig my oog op die wonderbare krag van die Heilige Gees en die troostende belofte wat Jesus met Sy hemelvaart gegee het, dat Hy elke dag by my sal wees. Dankie Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026