Om Sout en Lig te wees.

9 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om Sout en Lig te wees.

Matteus 5:13-16

VIDEO | OUDIO

Daar is twee dinge waarsonder ek my nie in die lewe kan indink nie, sout en lig, en dit is presies waaroor die perikoop vandag gaan.

Eerste aan die beurt is sout, iets wat in ons land maklik bekombaar is. Maar in sommige lande is dit ‘n uiters skaars kommoditeit. Hier by ons skraap jy dit eenvoudig bymekaar in soutpanne. Elders is daar diep soutmyne gegrawe.

Wikipedia skryf onder meer oor soutmyne: Jare gelede was die ontginning van sout een van die duurste en gevaarlikste operasies as gevolg van vinnige uitdroging veroorsaak deur konstante kontak met die sout en ander probleme wat veroorsaak is deur toevallige oormatige natriuminname. Sout is nou volop beskikbaar, maar tot die Industriële Revolusie was dit moeilik om te bekom kom en is sout dikwels deur slawe of gevangenes ontgin. Die lewensverwagting vir die mynwerkers was kort.

In die suidweste van Sjina is natuurlike soutafsettings ontgin met boorgate wat tot 'n diepte van meer as 1’000m kon reik, maar die opbrengste van sout was relatief laag. Sout is 'n noodsaaklikheid vir die lewe!

Maar wat maak sout so belangrik?

In die eerste plek is sout onontbeerlik in enige kos. Dit gee smaak aan enigiets, selfs ‘n sjokoladekoek moet ‘n bietjie sout kry! Dink maar net hoe ‘n heerlike, sappige biefstuk gaan smaak sonder sout!

Tweedens is sout genesend. Dit word dikwels gebruik as ‘n ontsmettingsmiddel. Vir ‘n sinusinfeksie is daar byvoorbeeld niks beter as ‘n soutspoel nie.

Derdens is sout ‘n preserveermiddel. Sonder sout is biltong en bokkoms net eenvoudig nie moontlik nie. So ook sal ‘n beesvel wat nie sout gestrooi word nie, gou verrot!

Dit is ‘n wonderlike aanmerking wat Jesus hier gemaak het. In die eerste plek dat sout ‘n kosbare kommoditeit is. “Sout” is by ‘n gelowige ook ‘n kosbare item wat hy mildelik moet gebruik. Wat is hierdie “sout”?

In die eerste plek om smaak te gee. Daar is baie maniere om smaak te gee, soos byvoorbeeld vriendelikheid en gasvryheid. Sonder om prekerig te wees kan elke gelowige Jesus se liefde uitstraal. Die doel is tweeledig, om ‘n instrument te wees om mense beter en meer positief te laat voel en optree. Maar terselfdertyd is jy ook ‘n ambassadeur vir God se koninkryk, om te wys waaroor die koninkryk werklik gaan, terwyl jy hierdeur God loof.

Tweedens het ons gesien dat sout genesend is. ‘n Smaakvolle, stralende vriendelikheid genees eerstens jouself van allerhande stresverwante kwale. Maar terselfdertyd genees dit almal rondom jou van dieselfde gevolge van stres, want mense voel outomaties beter oor hulleself.

Derdens is sout preserverend, met ander woorde dit verhoed dat iets verrot of vergaan. Deur sout te wees kan jy dieselfde uitwerking op mense hê. ‘n Stralend-gelukkige lewe maak mense honger daarvoor om ook daardie blydskap te beleef wat God jou gegee het. Dit kan lei tot so ‘n persoon se redding van ewige verderf!

Hierdie is egter net die puntjies van die seekoei se oortjies. Daar is nog soveel wat ons oor hierdie onderwerp kan sê!

In die tweede deel van die perikoop sê Jesus: “Julle is die lig vir die wêreld.” Hierdie kort sinnetjie is eweneens gelaai met ‘n klomp waarhede. Beurtkrag het ons nou al geleer dat wanneer daardie donkerte skielik toeslaan, dan verdryf selfs ‘n ou klein kersie die pikdonker totaal en al.

Net soos met sout, maak selfs ‘n bietjie vriendelikheid alleen ‘n reuse verskil. Hier gaan dit egter meer oor die ander mense as jouself. Ek maak ‘n punt daarvan om met ‘n glimlag deur die winkels te stap, en ek het by verskeie geleenthede al gesien watter verskil dit maak aan die mense rondom my.

Dit gaan egter oor veel meer as net om ‘n mooi beeld van Christus uit te straal. In vers 16 sê Jesus: “Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.” Na Pinkster het die eerste kerk teen ‘n verbysterende tempo gegroei. Waarom? Omdat elke gelowige ‘n “evangelis” was. Jy het eenvoudig vir almal wat jy teëgekom het vertel van Jesus. Vandag wil dit voorkom asof dit slegs ‘n paar spesiaal-opgeleide mense is wat dit doen. Die opdrag van Jesus in Mat. 28:19, “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies,” was nie slegs gemik op die elf apostels nie, maar dis steeds vandag gerig op elke gelowige. Dit is ons plig! Dis ons opdrag van Jesus Persoonlik!

Dit is hoe ons ons liggie kan laat skyn in ‘n nag wat vandag donkerder is as ooit. Maar selfs al is my kersie maar flou, is dit steeds ‘n liggie wat die pikdonker totaal kan verdryf!

Gebed:

Here, ek moet bely dat ek my liggie so dikwels onder ‘n emmer wegsteek. Gee my asseblief die bereidheid om dit uit te haal en helder te laat skyn!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026