Matteus 22:34-40
Kom ons kyk net weer 'n slag na Jesus se uitspraak van liefde vir jou naaste. Ons kyk na 'n paar praktiese voorbeelde van wat dit beteken.
Ek was diep geraak deur die verhaal van ‘n groep verkoopsmanne wat ‘n seminaar in Chicago bygewoon het. Toe die lang, uitputtende seminaar uiteindelik verby was, moes hulle jaag om betyds vir hulle vlug te wees want dit het langer aangehou as wat hulle verwag het. Op die lughawe moes dit maar baie haastig gaan en die manne moes hardloop, want die vliegtuig wag nie vir jou nie! In sy haas kry een kêrel nie mooi sy draai nie en hy hardloop per ongeluk teen ‘n tafel vas in die lughawegebou.
Op die tafel was ’n reuse hoop appels netjies opgestapel. Toe die man die tafel tref, het appels in alle rigtings gerol sodat die hele vloer besaai was met appels. ‘n Liederlike gemors! Die manne was laat vir hulle vlug, dus was daar nie tyd om nog te stop om die situasie te probeer red nie.
Een kêrel het wél so in die hardloop omgekyk, en tot sy skok het hy die arme meisie gesien wat lyk of sy op moedverloor se vlakte gestaan het tussen die rollende appels. Skielik het hy haar innig jammer gekry en omgedraai om te help om die gemors gou op te ruim. Hy het vir sy maters beduie dat hulle maar moes aangaan maar hulle moes net asseblieftog sy vrou laat weet dat hy laat sou wees. Hy sou wel later ‘n ander vlug kry. Maar hy kon nie die arme meisiekind so los met die gemors wat hulle veroorsaak het nie.
Wat hy egter by die appelstalletjie aangetref het, het hom diep geraak. Die 16-jarige meisietjie was in trane van pure frustrasie. Toe eers merk hy dat sy blind was. Sy het nie die vaagste benul gehad waar om te begin soek vir haar appels nie. En terwyl sy desperaat probeer het om die appels op te tel, het hordes mense verbygestroom en haar ware vertrap sonder om eers op haar ag te slaan.
Die man het dadelik ingespring en gehelp om alles op te ruim en weer die appels netjies op die tafel uit te pak. In die proses het daar egter ‘n klompie van die appels beskadig geraak. Hy het hulle apart in ‘n sakkie gepak en toe $40 uit sy sak gehaal en vir die meisie gegee om die skade te dek wat sy maats veroorsaak het. “Ek hoop nie ons het jou dag te erg bederf nie,” het hy goedig vir haar gesê terwyl hy omdraai om te gaan reël vir 'n ander vlug huistoe. Maar hy word tot stilstand geruk toe die meisie uit die bloute vir hom vra: “Meneer, is jy nie dalk Jesus nie?”
Die kêrel het uiteindelik baie later ‘n vlug huistoe gekry, maar die meisie se vraag het bly brand in sy gemoed: “Is jy nie dalk Jesus nie?”
Op die oog af klink dit amper na ‘n lasterlike vraag, maar gaan dink 'n bietjie mooi hieroor: is dit nie dalk wat die wêreld daar buite van my moet dink nie? Het ek al ooit vir iemand in nood sóveel beteken dat die persoon Jesus in my sien? Inderdaad moet ons Jesus se liefde só uitleef dat mense Jesus in ons lewe kan raaksien. Liefde is nie ‘n gevoel of lippetaal nie, dit is die praktiese uitleef van wat Jesus vir ons as voorbeeld kom gee het!
As ons sê dat ons Jesus ken, behoort ons te lewe en te doen soos wat Jesus sou doen as Hy in ons skoene sou wees. Om Jesus te ken beteken baie meer as net om kerk toe te gaan of om Bybelversies te ken of gereeld te bid. Dit beteken dat ek die Woord uitleef in elke situasie wat ek dag vir dag beleef. Dit beteken dat ek die nood van mense sal raaksien, maar nie net sien en vir hulle jammer voel nie maar dat ek daadwerklik iets positief gaan doen om daardie persoon te help.
Ek lees ’n koerantberig oor ‘n polisieoffisier wat doodluiters staan en toekyk het terwyl ’n skurk besig was om iemand te beroof. Toe hy later gekonfronteer word oor sy traak-my-nie-agtige houding, trek hy bloot sy skouers op: “Ek was op pad kantoor toe.” Hy was in ‘n situasie waar hy as opgeleide polisieman iemand kon help. Hy het egter die arme persoon se nood totaal geïgnoreer!
So maklik kon die appel-kêrel ook maar sy oë toegeknyp het en aangegaan het met sy lewe en saam met sy maats gehardloop het. Hy kon betyds sy vlug gehaal het en die aand saam met sy gesin spandeer het. Niemand sou eers geweet het van die blinde meisie se dilemma nie. Vir haar sou dit egter in ‘n ramp eindig. Die klein opoffering wat hy gemaak het, het vir iemand gewys dat Jesus vandag steeds ‘n werklikheid is. Dat Hy vandag steeds omgee vir gewone mense.
Ek daag jou uit om vandag Jesus te wees vir iemand.
Gebed:
Here, gee asseblief vandag vir my die passie in my hart om die nood in mense raak te sien, maar dat ek nie maar net sal verbystap nie, maar gee my ook die krag en moed dat ek sal omdraai en iets daadwerklik doen aan die situasie!