Om Grense Oor Te Steek

9 July, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om Grense Oor Te Steek

Romeine 1:13-17

VIDEO | OUDIO

Ek kry 'n WhatsApp, ‘n pragtige briefie met ‘n aangrypende geestelike gediggie. Dis baie mooi, maar ek lees dit met ‘n ongemaklikheid in my want ek weet al wat onderaan staan. Halfpad deur die versie blaai ek eers af na heel onder en wat ek daar sien laat my sommer ontplof. Ek lees nie eers verder nie en vee die pragtige boodskappie summier uit. Onderaan staan daar: “Stuur hierdie boodskap aan minstens tien mense. As jy dit nie doen nie wys dit dat jy jou skaam vir Jesus.” Waarom probeer mense op my gewete speel om ‘n boodskappie te laat aangaan? Uit beginsel sal ek so ‘n boodskap net daar sy laaste dood laat sterf, maak nie saak hoe mooi dit is nie. As iets werklik die moeite werd is, deel ek dit met ander! Dis nie nodig om my gewete te probeer reël vir my nie!

Maar nou skryf Paulus in vanoggend se Skriflesing júís oor die gevaar dat jy jou dalk kan skaam vir die Evangelie. Hy sê prontuit dat hy vir geen oomblik skaam is om die Evangelie met ander te deel nie. Daar sit baie meer agter hierdie stelling van hom as wat die oog tref.

In Rome was daar ‘n geweldige sterk volke- en klasseverdeeldheid. Niemand het dit durf waag om daardie grense oor te steek na ‘n ander klas nie want dit gebeur nie sonder baie groot probleme nie! Dit sou skandalig, onbehoorlik en bitter ongewens wees om dit te doen! As jy die sosiale orde en harmonie, wat diep in die Romeine se lewens ingewortel was sou versteur, dan het jy hulle totale bestaan bedreig! Maar nou kom verontagsaam Paulus hierdie hele diepgewortelde sosiale struktuur totaal en al en hy oorbrug die sterk afgebakende grense skaamteloos as hy die Evangelie deel met al wat leef en beef, maak nie saak wat sy sosiale stand of godsdiensbeskouing is nie. So sien ons byvoorbeeld later, wanneer Paulus in die tronk is in Rome, dat hy ‘n slaaf (Onesimus) en sy eienaar (Filemon) met mekaar versoen. Paulus was terloops persoonlik bevriend met beide slaaf en eienaar, iets totaal ongehoord! Verder moet ons ook deeglik onthou dat Paulus ‘n Jood én boonop ‘n Fariseër was. Fisiese kontak met enige ander nasie was vir hulle totaal taboe. Paulus ignoreer egter hierdie feit totaal, want vir hom is die Evangelie só belangrik dat jy sulke “nietige” verskilletjies maar kan miskyk. Hieroor het hy by verskeie geleenthede so byna-byna sy lewe verloor as gevolg van woedende Jode wat dit net eenvoudig nie kon verwerk nie!

Ons gelowiges het dieselfde roeping as Paulus om die Evangelie aan die samelewing uit te dra, maak nie saak wie of wat hulle is nie. Die Evangelie het immers krag om mense te red en hulle vir ewig te laat lewe! Geen gelowige durf enigiemand die reg of kans ontneem om ook deel te kan hê aan hierdie wonderlike voorreg van die lewe saam met Jesus nie. Jy mag veral nie swig voor die tydelike grense van menslike vooroordele nie! Paulus se strategie was om eers te bid dat die deure sal oopgaan en dan het hy aktief gesoek vir énige geleenthede wat God gee. Ons kan presies dieselfde doen. Wat is ‘n paar sosiale- kultuur- of kleurgrense in elk geval? Voor God beteken hulle absoluut niks.

Ons moet egter onthou dat sommige grense soms net té groot is om met een sprong te oorbrug. Paulus het dit self ook ondervind. So sien ons byvoorbeeld dat hy konsekwent die gelowiges as “broers” aanspreek. Die Romeinse vooroordele oor geslag was só geweldig groot dat selfs Paulus dit nie eers gewaag het om hierdie muur eensklaps af te breek nie. Ons moet aanvaar dat Paulus om taktiese redes die gebruik om slegs manlike lesers aan te spreek, gehandhaaf het. Dit was destyds 'n sterk patriargale samelewing en vrouens het nie veel getel nie! Tog sê hy vir die Galasiërs: daar is nie meer man of vrou nie - in Christus is almal een! So, in die stilligheid het hy tóg hard aan daardie probleem gewerk sonder om aanstoot te gee. As jy hoofstuk 16 van die Romeine brief lees, sien jy hoe hy met deernis van ‘n aantal vrouelidmate praat en dan sien jy die geweldige rol wat hulle speel.

Inderdaad sit ons vandag ook met geweldige hoë mure en grense. Om hulle te oorbrug lyk soms totaal onmoontlik, maar die Evangelie maak dit wél moontlik. Dit leer ons immers dat mense nie gered word omdat hulle aan ‘n bepaalde volk of geslag behoort nie! Daarom kan jy jou natuurlike teruggetrokkenheid, minderwaardigheidsgevoel, vooroordele of skaamheid rustig aflê. Al wat werklik saakmaak is dat jy opreg in Jesus Christus glo, dat Hy vir al jou sondes betaal het. Hierdie eenvoudige belydenis vind aanklank by gelowiges oor alle grense heen en word aanvaar, maak nie saak wie of wat jy is nie.

Met hierdie gedagte kom ons dan ook by die tema van Paulus se brief: God spreek mense vry omdat hulle glo. In die res van die brief gaan ons nog wel deeglik kennis maak met hierdie tema. Paulus gaan dit in diepte vir ons verduidelik.

Gebed:

Here, die sosiale mure en grense lyk dikwels vir my so intimiderend. Help my asseblief om die brûe wat U reeds daaroor gebou het raak te sien, en gee my asseblief die moed en ywer om hulle oor te steek ter wille van die Evangelie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026