Om Geduldig te Wag

28 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om Geduldig te Wag

Jakobus 5:7-20

VIDEO OUDIO

Gister het ons die vraag gevra: Hoe wag jy geduldig? Jakobus het baie duidelik vir ons gewys op die gevare daaraan verbonde om te sweer. Vanoggend wil ons die saak 'n bietjie verder neem, want dit gaan nie alleen oor 'n eed nie, maar dat jy te alle tye die waarheid moet praat en uitleef.

Wanvoorstellings van enige aard teenoor ‘n medemens sal veroordeel word. Ons leef juis in ‘n tyd waar lieg en bedrieg mode geword het. Op die hoogste vlakke van ons land se regering en in die sakewêreld is bedrog, omkopery, toesmeerdery en liegstories aan die orde van die dag. Tydens die pas-afgehandelde Zondo Kommissie het ons verstom gestaan oor al die liegstories en hoe mense kleigetrap het om uit die moeilikheid te kom!

Verkoopsmanne hemel hulle produk op terwyl hulle voor hulle siel weet dat die ding niks werd is nie. Om 'n eiendomsagent te wees is seker een van die moeilikste werke vir 'n gelowige. As jy nie die foute aan 'n eiendom vir die koper uitwys nie, is jy besig om daaroor te lieg. Doen jy dit wel, is die verkoper vir jou kwaad. En boonop sukkel jy om dit verkoop te kry. Dis nie maklik nie!

As daar by jou huis ingebreek is, las jy maar ‘n klompie items by die skade, nét sodat die versekeringsmaatskappy jou behóórlik kan uitbetaal. Jy moet mos iets uitkry vir al die premies wat jy oor die jare betaal het! Of hoe? Dis bedrog!

Hierdie is maar enkele voorbeelde van hoe jy NIE die wagtyd moet deurbring nie. Wat is dan die regte manier? As dinge vir jou moeilik raak, en jou emosionele vlak op ‘n laagtepunt is, is die antwoord om te bid. Gesels met die Here en vertel Hom van jou probleme. Ons het in ‘n ander hoofstuk gesien dat om te bid ook beteken dat jy na God se stem luister. Só kry jy nuwe krag en moed om daardie probleme vierkant in die oë te kan kyk.

En as jy die dag opgeruimd is, sing ‘n loflied! Sodoende gebruik jy ook jou tong baie produktief terwyl jy op die Here wag. Om ‘n loflied te sing beteken nie letterlik dat jy juis moet sing nie. Om 'n “loflied te sing” kan ook beteken dat jy praat oor wat Jesus in jou lewe vir jou beteken.

Om te sing is 'n wonderlike ding. Dit is seker een van die beste geneesmiddels vir 'n swaar gemoed of wanneer jou stresvlakke hemelhoog is. En nou praat ek nie van melancholiese tranetrekkers om te wys hoe jy voel nie. Sing iets opgeruimd! As jy dan boonop iets sing wat God verheerlik, is dit 'n dubbele bonus. “Dit borrel in my, want ek is só bly: Jesus het my lief! Dit borrel al meer en ek kan dit nie keer: Jesus het my lief!” Een van my gunsteling liedjies! Dit is genoeg om die swaarste gemoed sommer nuwe vlerke te gee!

En wat gebeur wanneer jy die dag siek is? Daardie jare was olyfolie die mees algemene “wondermedisyne.” Vandag het ons wonderlike medikasie vir feitlik elke soort siekte. Neem jou medisyne, maar moenie vergeet wie die Groot Geneesheer is nie! Dus moet ons steeds vir mekaar se genesing bid, al drink jy jou medisyne. Ook om ons sondes teenoor mekaar te bely is soos medisyne vir die siel, en groot laste kan daardeur van jou skouers afval. Bid vir mekaar, en moenie bang wees om “jammer” te sê as jy ‘n fout gemaak het of iemand tená gekom het nie.

Wagtyd is om hande te vat met diegene wat afgedwaal het, en diegene wat geval het weer op te help. Wagtyd is om bruikbaar te wees terwyl jy wag. Ek ken 'n hele paar mense wat net eenvoudig nie kan sit en niksdoen terwyl hulle wag nie. Die hande moet die hele tyd besig bly, hetsy dit breipenne of 'n hekelnaald is. Of dalk om 'n gesprek met iemand aan te knoop in opregte belangstelling. Moontlik iemand wat moedeloos saam met jou sit en wag op te beur.

Wagtyd is om, ná die einde van Jakobus se brief, aangespoor te wees om die inhoud van hierdie heerlike, besielende brief met ander mense te gaan deel. Dit kan dalk iemand wees wat afgedwaal het, onverskillig lewe of nie die sin daarin sien om te leef volgens God se wil nie. So word die einde van die brief weer die begin van ‘n splinternuwe era.

Ek wil jou vanoggend uitnooi om jou wagtyd vrugbaar te spandeer soos wat die Here van my en jou vra om dit te doen.

Gebed:

Here, help my asseblief om my wagtyd produktief deur te bring tot eer en verheerliking van U wonderlike Naam, en tot heil van my medemens.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026