Nineve Kom Tot Inkeer

13 September, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nineve Kom Tot Inkeer

Jona 3:5-10

VIDEO | OUDIO

Vir ‘n volle dag lank het Jona Nineve se strate stofgetrap en gepreek dat die biesies bewe. Daardie nag slaap hy soos ‘n klip en voor die mossies nog begin hoes op die stowwerige vlakte is Jona alweer uit die vere om verder te gaan preek. Hy begin dit nou sommer geniet! Nie alleen is dit God se opdrag wat hy uitvoer nie maar hy het nog nóóit in al sy jare van bediening so ‘n maklike preek gehad om te preek nie! Boonop luister die mense na hom! Dit wil selfs vir hom voorkom of daar 'n positiewe reaksie is! Dis mos nou lekker! Nog nie ‘n enkele persoon het hom eers ‘n afjak gegee nie! Bo dit alles is dit ook nie soos daar in sy eie land, waar die Skrifgeleerdes hom gedurig probeer vastrek met allerhande ingewikkelde redenasies en elke ou dingetjie wat hy sê probeer bevraagteken nie. Soms maak daardie geleerde manne hom sommer lam met al hulle onnodige getwis oor eenvoudige dinge in die Woord. Maar híérdie heidene is anders! Hulle is so eenvoudig en ongekompliseerd, hy hou amper van hulle!

Met ‘n huppel in sy stap kom Jona die stad binne. Hy stap reguit mark toe, maar alles is leeg - nie ‘n siel in sig nie! Die strate is verlate. Die enkele mense wat hy teëkom lyk asof hulle die oordeelsdag tegemoet gaan want almal het rouklere aan. Sou ‘n baie belangrike persoon dalk dood wees? Dalk die koning? "Wat is aan die gang?" wil hy nog vir een van die inwoners vra, maar dan besin hy homself, want skielik onthou Jona dat hy mos 'n Israeliet is, en hulle is onrein heidene. Dan verneem hy tóg so tussendeur dat die ganse stad in beroering is oor die oordeel wat God oor hulle gevel het. Iemand sê vir Jona: "Gaan kyk maar, selfs die koning sit op die ashoop en kerm!”

Jona kan nie glo wat hy sien nie. Is dít dan die uitwerking van sy eenvoudige preek? Iemand vra vir Jona: “Hoekom het jý nie rouklere aan nie? Weet jy dan nie van die koning se bevel nie? Almal moet rou oor hulle sondes en niemand mag iets eet nie, selfs nie eers die diere nie! En wat meer is, almal moet ernstig tot God bid en vra dat Hy tog hierdie oordeel sal heroorweeg!”

Jona is verslae: “Maar hierdie mense is dan héidene! Héi-de-ne!!!! Heidene kan mos nie vir God aanbid nie! Wie weet: netnou kom hulle dalk rêrag tot bekering ook! Dit sal ‘n RAMP wees!”

Skielik is Jona skoon sy preeklus kwyt. Boonop voel hy moeg en uitgeput en dit voel vir hom asof hy ‘n totale mislukking is. Sleepvoet stap hy uit die stad uit sonder om eers een keer om te kyk, sommer so in die veld in. ‘n Entjie uit die stad uit gewaar hy ‘n klipkoppie en doelloos klim hy tussen die rotse deur tot heel bo. Hy besluit dat hy maar daar sal gaan sit en wag vir God se oordeel om die stad te tref. Van die koppie af het hy ‘n goeie uitsig op die stad om alles daar onder dop te hou. “Hoe lank kan hierdie sogenaamde vroomheid in elkgeval tog hou? Iets moet die een of ander tyd gebeur!” Maar in die stad gaan absoluut niks aan nie. Nie ‘n mens in sig nie. Almal rou.

En Jona wag......

Dan hoor hy hierdie vreemde influistering diep in sy binneste: “Jona, Ek het besluit om die oordeel oor hierdie stad terug te trek."

Jona val byna van sy klip af! Hy snak na sy asem: “Maar Here, U kan mos nie! Het ek dan verniet hierdie verskriklike tog aangepak, net om te hoor dat U nie meer die stad gaan verwoes nie? Het ek dan verniet vir 'n volle dag lank my hart staan en uitpreek om die oordeel oor hulle aan te kondig? Here, U moet weet dat ek bitter hard gewerk het en U kan my mos nie nou só in die steek laat nie! Hoe kán U dit aan my doen, Here? Hierdie mense is heidene! Here, hulle is nie kinders van Abraham nie! Hulle verdien nie om te bly leef nie! Hulle is mos nie U volk nie!”

Ons moet baie goed onthou dat God se vergifnis en genade nie beperk is tot “goeie” mense nie. Sy genade is vir almal en veral vir diegene wat totaal verlore is. Ons lag vandag baie maklik vir Jona want hoe kon hy so onnosel gewees het om nie die Here se besluit te wou aanvaar nie? Kon hy dan nie insien dat heidene ook tot ander insigte kon kom nie en dat hulle nie ook onder God se genade is nie?

Ja, maar ons vergeet dat ons dikwels maar presies doen wat ou Jona gedoen het. Hoe dikwels is ek en jy nie ook maar bitter skepties wanneer iemand waarvan ons dit nie verwag nie tot bekering kom! Ek het al wonderlike verhale gehoor van geharde misdadigers, selfs gewetenlose moordenaars wat daar in die tronk tot ander insigte gekom het. Wanneer jy egter hoor dat so ‘n persoon ‘n omkeer in sy lewe gemaak het nadat hy Jesus in sy lewe gekry het, dan twyfel jy baie sterk of dit eg kan wees en die stigma van misdaad bly aan hom kleef. Die ergste is egter dat jy nie die kêrel kan vergewe vir die gruwelike ding wat hy aangevang het nie. Is ons dan nie presies dieselfde as Jona nie? Of dalk selfs erger?

Jesus het gesê dat ons sewentig maal sewe keer moet vergewe. Hy het ook gesê dat ons nie alleen ons medegelowiges moet liefhê nie, maar ook ons vyande. Dis nie maklik nie! Ek en jy skiet bitter ver te kort om waarlik God se liefde uit te leef. Bid die Heilige Gees om vir jou ware liefde in jou hart te gee.

Gebed:

Here, ek beskuldig so maklik vir Jona, maar ekself is erger as hy. Vergewe my Here en vul my met U wonderbare liefde!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026