Net Nie Nou Nie!

5 December, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Net Nie Nou Nie!

Handelinge 24:24-27

VIDEO | OUDIO

Goewerneur Feliks het Paulus se aanklaers, die Joodse raad en hulle “slim” advokaat, huistoe gestuur en Paulus het in aanhouding gebly. Paulus is egter nooit gevonnis nie en hiermee het Feliks dus laat blyk dat Paulus onskuldig was. Nogtans moes hy in die tronk bly. Waarom?

Lukas noem twee moontlike redes. Die eerste is dat Feliks onder die wanindruk verkeer het dat Paulus sy hande op baie geld kon lê en dat hy dalk vir Feliks kon omkoop om hom vry te laat. Moontlik het die feit dat Paulus genoem het dat hy geld vir die Christene in Jerusalem gebring het, bygedra tot Feliks se wanpersepsie. Of dalk het hy gedink dat Paulus se vriende nóg so ‘n ou bydraetjie by die gemeentes sou kon kry en vir hom bring. Sy vriende het hoeka vrye toegang tot Paulus gehad in sy aanhouding, dus kon hulle dit mos maklik reël! Maar hy het nie met Paulus se integriteit rekening gehou nie.

Die tweede rede was ‘n bietjie meer gekompliseerd. Jy sal onthou dat Feliks nou nie juis die Nobel Prys gewen het vir gewildheid onder die Jode nie. Die feit dat die advokaat van die Joodse Raad hom so heuning om die mond gesmeer en opgehemel het as die wonderlikste regeerder, het Feliks sekerlik nie geflous nie. Hy was immers deeglik bewus van die passie waarmee die Jode hom gehaat het. Die feit dat hy met ‘n Joodse vrou getroud was, het hulle min geskeel. Feliks wou egter ‘n bietjie salf smeer aan sy verhouding met die Jode. Uiteraard regeer hy oor hulle en dit is maar net natuurlik dat ‘n bietjie meer samewerking van hulle kant af vir hom baie werd sou wees. Dus besluit hy om Paulus in die tronk te hou om die Jode se guns te probeer wen. En so sit Paulus vir twee jaar in die gevangenis in Ceasarea onder Feliks se regering.

Paulus het egter géénsins ledig daar gesit nie. Hy het die tyd uitgekoop en sy verblyf in die tronk vrugbaar gemaak. Hy het daar gedoen wat hy die heel beste kon doen, naamlik om die Evangelie te verkondig.

Feliks het baie gou agtergekom dat Paulus beslis nie ‘n pampoen is nie en dat hierdie man eintlik besonder interessant is. Op ‘n dag sê hy vir vroulief Drusilla dat sy tog moet kom luister na hierdie man......

Hier moet ek net eers noem dat Drusilla wel ‘n Jodin was, maar sy was nie sommer net enige hierjy Joodse niggie nie. Nee, sy was die dogter van die berugte Herodus Agrippa I. Sy was dus Herodus Agrippa II se suster. Sy was eers getroud met koning Asis van Emesa, maar op ‘n dag fluister ‘n towenaar met die naam Atomos in haar oor dat sy van die koning moet skei, wat sy toe ook baie gehoorsaam doen en toe trou sy met Feliks. Hierdie was ook nie sy eerste huwelik nie. Drusilla was die derde vrou wat saam met hom voor die “kansel” kom staan het.

Feliks was baie geïnteresseerd in hierdie Godsdiens van Christus wat Paulus verkondig het en saam met sy dierbare vroutjie vra hulle hom uit hieroor. Dalk het Feliks gedink dat hy ‘n baie mooi, maanlig-en-rose godsdiens sou kry wat hom en sy bruidjie op ‘n veerligte bootjie via Kammaland na die saligheid sou bring!

Paulus het egter ‘n totaal ander Evangelie verkondig en vir hulle vertel wat dit werklik beteken om in die regte verhouding met God te wees. Hy verduidelik van gehoorsaamheid en selfbeheersing, iets wat totaal benede enige Romeinse goewerneur en sy liefie se waardigheid is! Dan breek hy vir hulle die slegte nuus: daar is ook ‘n oordeelsdag! En dít is iets waarby niémand verby kom nie! Hierdie gedagte het vir Feliks aan die hart gegryp en hy het baie bang geword. “Dis nou genoeg!” wuif hy vir Paulus weg. “As ek tyd het sal ek later weer na jou luister.”

Feliks het nog twee jaar tyd gehad en inderdaad het hy wéér na Paulus geluister - verskeie kere! Maar nooit in al daardie tyd het hy sy hart oopgemaak vir die blye boodskap nie. Nogtans het Paulus nooit moed opgegee nie en maar net gedoen wat die Here vir hom gesê het om te doen. Vir géén oomblik het Paulus geskroom om die goewerneur kaalkop die waarheid te vertel nie. ‘n Klompie jare tevore het Johannes die Doper presies dieselfde gedoen. Sy beloning was dat Herodus Antipas sy kop laat afkap het. Johannes was deeglik bewus van die gevolge wat sy preek kon inhou. Nét so was Paulus deeglik bewus van die moontlike gevolge van sy reguit woorde maar dit het hom min geskeel, solank hy die waarheid praat.

Twee dinge moet ons baie duidelik verstaan uit hierdie gedeelte: Die eerste is dat ‘n verhewe posisie, selfs ‘n goewerneur, minister of president ‘n mens nie vrystel van jou verantwoordelikheid om volgens God se wil te leef nie. Inteendeel: hoe hoër jou posisie is, hoe groter is jou verantwoordelikheid. Die tweede waarheid is dat iemand se hoë posisie jou nie moet afskrik om die volle waarheid van die Evangelie met so ‘n persoon te deel nie. Wees verseker dat die Heilige Gees jou sal lei, elke oomblik van jou gesprek!

Gebed:

Here, maak my vreesloos om die Evangelie aan elkeen uit te dra wat kan luister!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026