Net Één Evangelie

18 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Net Één Evangelie

Galasiërs 1:6-10

Video

Oudio

Paulus is sommer omgesukkel! Nee, eintlik is dit baie lig gestel, hy is héwig ontsteld wanneer hy hierdie brief skryf. In Paulus se tyd was briewe begin met 'n aanhef en direk daarna 'n danksegging. Gaan kyk gerus maar na die ander briewe in die Bybel, en jy sien hoedat die skrywer sy dankbaarheid oor die een of ander saak of situasie betuig. Hier val Paulus egter sommer weg met harde woorde. Hy is verbaas dat hulle so gou afvallig geword het. Ons kan sy ontsteltenis verstaan, want hulle het geswig voor ‘n dwaalleer. Hulle was as’t ware besig om die verlossing wat God verniet gegee het, weg te klap! Hulle was besig om agter mense aan te dryf wat ‘n vals evangelie verkondig! God se kosbare genade is aangetas. Die hart van die evangelie is gegryp en bloedig uitgeruk!

As ek so na Paulus se tirade luister, dan moet ek seker vra of gelowiges nie van mekaar mag verskil nie? Waarom is daar dan soveel verskillende kerke? Watter een is reg? Ek het al dikwels ’n kerkleier hoor sê dat sý kerk die enigste is wat die hemel se binnekant sal sien!

Daar mag maar verskille wees, want ons interpreteer die Bybel op verskillende maniere.

Sommige mense glo dat die doop ook vir babatjies is, en ander dat jy eers tot geloofsvolwassenheid moet kom. Sommige glo die Sabbat is op ‘n Saterdag en ander dat Sondag die heilige dag is. Elkeen van die groepe wat ‘n spesifieke oortuiging het, het bewyse uit die Bybel dat sy standpunt reg is. Die feit is dat die ander kant soortgelyke bewyse het van hulle standpunt. Hierdie tipe verskille, alhoewel vir sommige mense van uiterste belang, is eintlik nietige verskille.

As stoere NG Kerk lidmaat het ek altyd geglo dat Pinkster-kerke die verkeerde boodskap verkondig, en dat  samewerking ‘n saak van onmoontlikheid is. By ’n paar geleenthede ‘n AGS Pastoor ons NG Kerk erediens gelei! ‘n AGS Pastoor vertel dat hy per geleentheid die leraar was van ‘n Sewende Dag Adventiste gemeente. Een NG gemeente het ‘n AGS Pastoor aangestel as ‘n leraar in hulle gemeente. In Ballito het ons ‘n baie suksesvolle mannegroep wat saamgestel is uit al die verskillende kerke. En so kan ek aangaan. Verskillende kerke kan (en moet!) saamwerk, want ons het één evangelie om te verkondig. Wat maak ‘n paar verskilletjies saak? Dáármee kan jy mos maar saamleef. En terloops, ek verskil hemelsbreed van sommige van die ander manne se sienings, maar ons het besluit dat ons maar van mekaar mág verskil, solank ons dit in liefde en vrede doen en nie mekaar veroordeel nie.

Nou moet ons ook baie deeglik besef dat daar sekere dinge in die Bybel is wat ons net eenvoudig nie verskillend kán interpreteer nie. Kom ons noem hulle die grondwaarhede, en hieraan durf ons nie probeer verander nie.

En dit is juis wat Paulus so hewig ontstel het. Die mense wat in hierdie gemeentes gepreek het, het dinge verkondig wat die diepste fondament van die evangelie, God se genade deur Jesus Christus aangetas en ondergrawe het. Paulus is só ernstig oor hierdie saak dat hy ‘n dubbele vloek uitspreek oor enigiemand wat iets anders verkondig as die ware evangelie.

Paulus wil dit egter baie duidelik maak dat dit nie oor hóm of oor sý prediking gaan nie, maar dat dit oor ‘n véél groter saak gaan. Hy is as’t ware maar net die boodskapper wat hierdie boodskap aan die gemeentes, en derhalwe ook aan ons vandag oordra. Hy wil nie enige krediet daarvoor hê nie, anders is hy nie ‘n dienaar vir Christus nie.

Dit is baie belangrik dat ons moet begryp dat God se seën ook ‘n ander kant het, want wie God se genade en seën verwerp, bring oor homself ‘n vloek. Dit is ook belangrik om op te let dat Paulus hierdie vloek oor almal uitspreek wat ‘n vals leer sou verkondig, en hy sluit homself ook hierby in. God se boodskap is altyd belangriker as die boodskapper, maak nie saak wie hierdie boodskapper is nie. Selfs ‘n professor aan die universiteit se teologiese skool sal nie daardie vloek vryspring nie!

Wat vandag belangrik is, is om te kan weet wie die vals boodskappers is, en hulle dwaalleer te kan onderskei. Die sogenaamde Nuwe Hervormers is een so ‘n beweging wat die Bybel op ‘n post-modernistiese manier probeer verklaar. Die Godslasterlike dinge wat hulle kwytraak laat jou hare regop staan, soos dat hulle Jesus se maagdelike geboorte, Sy opstanding uit die dood en Sy wonderwerke bevraagteken. Hulle plaas ook ‘n vraagteken oor die Heilige Gees se inspirasie oor die Ou en Nuwe Testament. Hulle betwyfel selfs die profesieë wat Christus se geboorte en Messiaanse Ryk voorspel. ‘n Ander groep vals leraars, is die Jehovah’s Getuies, wat die Godheid van Jesus en die Heilige Gees vertrap. Dan is daar New Age, Christian Scientology en ‘n hele boel ander wat ‘n “alternatiewe evangelie” verkondig.

Paulus het dit baie duidelik gestel: “Daar is geen ander evangelie nie!” (v7)

Gebed:

Here, bewaar my asseblief daarvan om ooit enigiets anders as die suiwer evangelie te verkondig!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026