Nederigheid

23 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nederigheid

Markus 9:30-37

VIDEO * OUDIO

Na die episode op die berg, het Jesus en die dissipels stilletjies na Kapernaum vertrek sodat niemand hulle kon sien nie. Dit was broodnodig dat hulle ‘n bietjie kosbare alleen-tyd kon kry waar hulle vir ‘n verandering ‘n bietjie alleen kon gesels. En Jesus het dan ook die geleentheid benut om die manne te leer. Hulle was gedurig so besig om die skares te beheer en te versorg dat hulle nooit by hierdie noodsaaklike onderrig kon uitkom nie. Dan noem Jesus so terloops: “Die Seun van die Mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak!”

Petrus wil sy ore toedruk. “Hoe kan Hy so ‘n ding wil sê?” Hy verstaan dit nie, en hy wil dit nie hoor nie. Jesus is dan so ‘n sagmoedige Mens, en Hy doen so baie goed vir ander. Maar dis daardie simpele Fariseërs, die skynheilige, witgepleisterde grafte! Eendag gaan hy nog ‘n onverantwoordelike ding doen as een van hulle weer sy Meester so probeer intimideer!

Petrus is só ontsteld oor Jesus se opmerking, dat hy skaars die res van die sin hoor: “Maar drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

Daar volg ‘n doodse stilte. Die manne is te bang om iets te sê. Tomas fluister vir Petrus: “Wat bedoel Hy?”

“Nee, ek verstaan ook nie!”

“Vra Hom, Petrus!”

“Nee!” Die rowwe visserman weier botweg. “Ek maak nie wéér ‘n gek van myself nie!”

Jesus kyk die twaalftal met weemoed aan. Hoe wens Hy dat Hy vir hulle die volle waarheid kon uitlê. Maar dan gaan dit alles bederf. Nee, hulle sal wél na Sy opstanding verstaan, dis genoeg!

Die laaste entjie pad na Kapernaum loop Jesus voor en die manne bondel agter Hom aan. Jesus sien dat hier onheilige dinge broei en kook tussen die manne, maar Hy los hulle om dit uit te praat. Wanneer hulle rustig by die huis ontspan, vra Jesus onverwags: “Waaroor het julle langs die pad loop en praat?”

Skielik voel Petrus baie skuldig: “Ag nee, sommer niks nie Rabbi.....” Hoe kan hy dan nou vir die Meester sê dat hulle eintlik ‘n hewige stryery gehad het oor wie van hulle die leier behoort te wees? Hy weet in sy siel dat hý eintlik die belangrikste onder hulle is, want wie moet elke keer die praatwerk doen? En wie is dit wat namens die ander die vrae moet vra as húlle iets wil weet? Hy! Petrus! En dan kom Judas en wil maak asof hý die belangrikste is omdat hy die beursie dra en hulle finansies moet behartig. Daar is iets in Judas se skelm ogies...... nee, dalk verbeel hy hom! En dan is daar Johannes, verbeel hom mos hy is slimmer as die res, en belangriker. Bogsnuiter! Skaars droog agter die ore!

Petrus se gedagtes word onderbreek: “As iemand eerste wil wees, moet hy laaste van almal en almal se dienaar wees.” Petrus word spierwit in die gesig as hy Jesus se beskuldigende woorde hoor. “Het Hy dan ons gedagtes gelees?” Hy is skoon lam geskrik.

Dan kom daar ‘n kindjie laggend by die deur ingehardloop, tussen die manne deur. “Loop speel buite!” raas een van die manne met hom. “Ons is hier besig met ernstige dinge!”

Petrus vererg hom bloediglik vir die kind. “Kinders hoort mos nie in grootmense se geselskap nie. Waarom beheer sy ma hom nie? Hy moet maniere geleer word!” Hy is sommer vies vir hierdie onderbreking. Maar as die ma die kindjie wil gryp, sit Jesus Sy arm om die outjie en druk hom liefdevol vas: “Wie een van hierdie kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.”

Petrus is verslae. Dis ongehoord! Hoe kan die Meester Hom ophou met kinders? Hulle is net eiendom! Hulle is nog nie mense nie!

Ons skud die kop meewarig oor die twaalf se onkunde, en veral oor hulle optrede. Markus se doel met hierdie vertelling is egter nie om die manne in ‘n slegte lig te stel nie, maar eerder om ons te laat nadink oor onssélf. Hoe lyk my gesindheid?

Dalk het die manne méér rede gehad om dinge nie reg te hanteer nie, want hulle het nog gladnie verstaan waaroor dit gegaan het nie. Ons het vandag daardie kennis van kleintyd af geleer en ons lees dit steeds in die Woord. Ons hoor dit elke Sondag van die kansel af, maar steeds pas ons nie waarlik toe wat Jesus ons leer nie.

Vat nou maar die kwessie van leierskap. Hoe stry ons nie in elke situasie om die leier te wees nie, en om belangriker te wees as iemand anders. Hoe kyk ons nie só dikwels neer op ander nie! Armes, bedelaars, boemelaars, straatkinders - hulle is in ‘n “laer klas” en ons sien neer op hulle!

Jesus het prakties die voorbeeld gestel van hoe om, ten spyte van jou hoë posisie in die lewe, steeds die minste te wees, en jouself nooit hoër as enigiemand anders te ag nie. Kyk byvoorbeeld maar hoedat Hy die ongehoorde gedoen het en ‘n geselsie aangeknoop het met die gehate Samaritaanse vrou. Só ‘n persoon het jy ten alle koste vermy! En Matteus die skelm tollenaar? Jesus het die onnoemlike gedoen en by hom gaan eet! Boonop was daar nog ‘n spul ander tollenaars en vuil sondaars ook by Matteus se partytjie!

Kom ons gaan leef daardie voorbeeld van Jesus vandag uit, en maak ‘n verskil in iemand anders se lewe.

Gebed:

Here, leer my asseblief wat ware nederigheid is. Help my om nederig te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026