Matteus 26:26-30
‘n Doodse, heilige stilte sak oor die kerk toe. Elkeen is besig met sy eie gedagtes. Die diakens is besig om die brood uit te deel. “Jesus se liggaam”, maal dit deur my gedagtes, “Sy liggaam wat vir my gebreek is, gemartel is sodat ek mag lewe!” Die stilte is oorverdowend. Slegs ‘n sagte geskuifel soos die bordjies aangegee word. Skielik is die bord met klein stukkies brood voor my - ek skrik amper. Met bewende hande vat ek ‘n stukkie. Hoe spierwit, skoon en rein is die broodjie nie! In my geestesoog sien ek Jesus en Sy twaalf leerlinge om die tafel aansit. Wat gaan in daardie manne se koppe om? Jesus het pas vir Judas uitgewys as Sy verraaier. Nou is Hy met ‘n stuk brood besig, so asof absoluut niks gebeur het nie! Geen verwyte, geen beskuldigings.
“Neem, eet: Dit is My liggaam.” Sy sagte stem verbreek die stilte. Stukkie-vir-stukkie sou Sy liggaam afgetakel word, net soos dit 45 jaar later met die tempel gebeur het. Toe het daar nie twee klippe opmekaar oorgebly nie. Hulle, die kerkleiers sou Sy liggaam breek totdat Hy dood in die graf lê. Die verskriklike eensaamheid sou maak dat dit vir Hom voel asof Hy totaal verlaat is - selfs van God!
Nie een van die manne besef presies wat Jesus se woorde werklik beteken nie. Niemand kan dróóm watter verskrikking later in die nag en die volgende dag vir hulle, en veral vir Jesus inhou nie. Nie een besef hoe wreedaardig Jesus se liggaam verinneweer sou word nie, gebreek nes hierdie stukkie brood! Soos die brood geskeur word, nét só sou Jesus se liggaam geskeur word deur wreedaardige géselhoue wat genadeloos op Hom neer reën. My gedagtes gaan na die rolprent: The Passion of The Christ, waar ek oor en oor daardie nagmerrie-toneel voor my sien afspeel, waar die stukke vleis uit Sy rug geruk word deur die metaalpunte van die sweep, totdat ek dit wil uitskreeu: “Stop! Stop! Dis nou genoeg!” Maar dit gaan net aan en aan en aan…….
“Neem, eet……,” ruk die liturg se rustige stem my terug na die hede.
Weereens sak ‘n doodse stilte neer wanneer die diakens die wyn uitdeel. My verwarde gedagtes keer terug na dáárdie verskriklike nag. Jesus vat ‘n beker met wyn, en gee dit aan vir die manne. Daar hang ‘n swaar stilte in die lug, ‘n stilte wat nie een van hulle durf breek nie.
“Drink almal daaruit, want dit is my bloed…..” Hierdie wrede woorde ruk deur die manne. Het die einde dan nou werklik aangebreek? Dit klink so verskriklik onwerklik, maar die bewyse is rééds daar, want kyk net waarmee is Judas besig!
“…..die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes.” Jesus se stem is sag en rustig.
“Wat presies sou Jesus nou hiermee bedoel?” Die manne verstaan nie mooi nie. Ja, as hulle maar net vooruit kon sien wat alles die volgende dag sou gebeur! Eers sou daar die uitmergelende hofsaak wees, die gespot, die purperkleed en riet. Later die verskriklike doringkroon wat in Sy kopvel vasgesteek is sodat die bloed, Sy kósbare bloed oor Sy gesig stroom! Dit sou Hom verblind wanneer Hy daardie uitmergelende tog moet onderneem teen die berg op. Daardie aaklige tonele uit die rolprent spook weer by my. Ek wil wegkyk maar ek kan nie! Wátter rigting ek ookal my kop draai - die tonele bly voor my! Bloed stroom oor Jesus se stukkende rug, en dit stroom oor Sy gesig. Dan volg die verskrikking van die kruisiging, waar die soldaat die rowwe ysterspykers deur Sy hande en voete kap. Ek sien weer my dierbare Heiland se gesig wat skree van pyn en angs. Ek hoor die vulgêre gelag van die soldaat wat genot put uit sy gruwelike taak. Ek hoor die vroue se bitterlike gekerm. Ek sien die Fariseërs en Skrifgeleerdes tevrede eenkant staan en toekyk. En ek sien die bloed vryelik uit die liederlike gate in Sy hande en voete vloei. My Heiland se bloed. Vir my gestort! Gestort sodat my sondes vergewe kan wees.
“Neem, drink……” - die liturg se sagte stem. Ek tel die klein glasie op. Helder rooi skitter die soet wyn daarin. Ek sluk dit weg, - ek voel hoedat dit in my keel brand. Die soet geur van die wyn vul my mond, my neus, my hele liggaam, totdat dit een is met my. Jesus se bloed! Dit is deel van my hele wese! Dit is so geïntegreer in my lewe dat ek gladnie daarvan kan skei nie. Soos wat die wyn deur my ganse menswees spoel, so voel ek hoedat my sondes van my afspoel.
“God het álles vergewe deur Jesus se kosbare bloed!” weergalm dit in my. “Ek is vry! Vry! Vry!” ‘n Jubellied borrel in my op: “Loof die Here, o my siel, loof Sy heilige Naam!” Ek straal van geluk, want Jesus se bloed het my sondes skoongewas!
Gebed:
Dankie Here, dankie: dankie dat U vir my gesterf het, gely het, al my sondes op U geneem het, en dat ek nou kan weet dat ek die ewige lewe het, nie deur my goeie dade nie maar deur U groot genade en liefde alleen. Help my om U uit dankbaarheid te dien met my hele lewe!