Nabal en Abigajil

24 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nabal en Abigajil

1 Samuel 25:1-28

VIDEO | OUDIO

Vanoggend lees ons die verhaal van twee dwase mans en een verstandige vrou - twee dwase mans wat koppe stamp en ‘n vrou wat moet vrede maak. Nabal was ‘n skatryk man, maar soos die betekenis van sy naam aandui, was hy ‘n dwaas. In die verhaal skok Dawid ons want tot nou toe het ons net sy goeie eienskappe gesien. Maar wanneer hierdie dwaas, Nabal hom beledig, tree Dawid sélf dwaas en op ’n baie onvolwasse manier op deur hom te wil gaan doodmaak. Abigajil, Nabal se beeldskone vrou moet vure doodslaan!

Maar nou loop ek die storie vooruit. Na die onderonsie met Saul, trek Dawid en sy manne na die Paranwoestyn, ‘n gebied aan die suidekant van Juda. Terselfdertyd kry ons die treurige nuus dat die ou profeet Samuel gesterf het. Die hele volk het oor hom gerou!

Die skatryk Nabal was ‘n onbeskofte korrelkop met groot troppe vee. Hy het sy drieduisend skape en duisend bokke in die woestyn in die omgewing van Karmel laat wei. Dit was natuurlik ‘n groot risiko want rowers was volop. Dawid en sy manne het dit egter as hulle plig gesien om die inwoners van die gebied waar hulle was, te beskerm. En Nabal se vee en sy veewagters was nie ‘n uitsondering nie. Terwyl hulle daar was, het geen rower dit naby hulle gewaag nie.

Toe kom die dag wat die skape geskeer moet word. Dit gaan altyd gepaard met ‘n groot fees - skape word geslag en die manne raak vrolik.

Dawid se manne het met kwylende monde sit en verlang na ‘n bietjie lekker feesvier. Hulle het hulle plig gedoen en hulle voel natuurlik dat dit niks minder as reg is dat hulle kan deel in Nabal se fees nie. Dawid stem heelhartig saam, en dan stuur hy ‘n paar boodskappers na Nabal om hom te vra vir so ‘n ou ietsie sodat hulle saam vrolik kan wees.

Nabal se reaksie is tipies dié van ‘n selfsugtige dwaas. Nie alleen weier hy volstrek nie, maar hy slinger ook allerhande beledigings na Dawid se kant toe. Hy en sy manne word uitgekryt vir wegloperslawe - ‘n verskriklike belediging!

Dawid is woedend as hulle hom hierdie nuus meedeel. “Wie is hierdie man dat hy my so beledig? Ek sal hom wys wie Dawid is!” Hy sweep die manne op en hulle gryp na hulle swaarde. Sulke arrogante dinge sal hulle beslis nie duld nie. Hierdie dwaas moet ‘n les geleer word - hy moet uitgeroei word! Daar is nie plek op die aarde vir sulke mense nie! Dawid en die manne raak al hoe meer opgesweep deur hulle eie wraakgedagtes. “Nie net Nabal nie - al die ander mans by hom!” skree een van die manne en almal stem saam. Vierhonderd omgesukkelde manne gord hulle wapens aan om Nabal en sy hele gevolg te gaan uitroei. Hoe durf hy hulle so beledig!

Ek sien die prentjie voor my - vierhonderd woedende manne wat al skreeuende in ‘n groot stofwolk optrek na Nabal se huis by Maon. Hulle is kwaad en omgesukkel. In Nabal se huis is dit egter die mooi Abigajil wat die boodskap kry van wat gebeur het en dat daar ‘n baie groot tragedie op pad is. Een van die jong veewagters het gehoor wat Dawid beplan, en bewend van angs kom deel hy haar die nuus mee. Sy sal baie vinnig ‘n plan moet maak as sy wil voorkom dat daar vandag ‘n bloedbad is!

Abigajil reageer baie vinnig. Sy kry 200 brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape en nog ‘n klomp ander eetgoed bymekaar, en inderhaas laat laai sy dit op donkies om te kyk of sy nie hiermee vir Dawid en sy opgewerkte klomp manne kan kalmeer nie. Dan klim sy sélf op ‘n donkie en sy ry saam om hom persoonlik tegemoet te gaan. As sy nie hiermee iets regkry nie, is daar teen môreoggend nie ‘n lewende siel oor in Nabal se nedersetting nie!

Wanneer Abigajil vir Dawid en sy woedende manne sien aankom, klop haar hart in haar keel: “Abigajil, nou sal jy jou beste moet uithaal!” Vinnig spring sy van die donkie af, en dan gaan sy reguit na Dawid toe. Eerbiedig val sy voor hom neer: “Verskoon asseblieftog die onreg wat u aangedoen is, Meneer”, pleit sy by hom, “mag ek asseblief vertroulik met u praat?”

Dawid is skoon uit die veld geslaan deur hierdie vrou - wat is hier aan die gang?

Dan begin Abigajil, en sy verduidelik van haar onbeskofte man - dat hy eintlik ‘n skobbejak en ‘n dwaas is, soos sy naam tereg aandui. “Die Here het my vandag gestuur om u te kom keer. Ja, Nabal verdien sékerlik die behandeling wat u hom wil gee. Maar ek wil by u pleit om nie ag te slaan op hom nie. Ontvang asseblief hierdie geskenk van my as versoening. Vergewe asseblief my oortreding.”

Hoe sou Dawid hierop reageer? Daaroor gesels ons volgende keer. Die vraag is egter hoe ek en jy reageer wanneer ons beledig of ingedoen word? Reageer ons met woede of selfs vergelding? Jesus het gesê dat ons selfs ons vyande moet liefhê, die ander wang moet draai en diegene wat ons vervolg en vervloek moet seën!

Gebed:

Here, ek reageer so dikwels verkeerd wanneer ander mense my benadeel. Leer my ware liefde!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026