‘n Vrot Ertappel in die Sak

17 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Vrot Ertappel in die Sak

Josua 7

VIDEO | LUISTER

Laasweek koop ek ‘n sakkie ertappes. By die huis maak ek hom oop en toe tref die alleraakligste reuk my! Die eerste ertappel wat ek uithaal is vrot! Ek begin om hulle uit te haal en tot my ontsteltenis is daar al van die ander wat by hom aangesteek het en óók begin vrot word! En dit stink soos nét ‘n vrot ertappel kan stink!

Die inname van Jerigo was vir Israel ‘n wonderlike ondervinding. Die wonder by die Jordaan, toe die magtige rivier net skielik ophou vloei het op presies die regte oomblik, lê nog vars in hulle geheues. En dan kom hierdie asemrowende wonderwerk van Jerigo, waar die Almagtige God die stad se mure letterlik voor hulle oë laat verkrummel het. Die volk is in ekstase! Die vreugdevure brand hóóg!

Ons het gesien dat Josua die manskappe voor die inval baie mooi die Leviete voorgelees het oor die banvloek. Hy het hulle duidelik laat verstaan dat elke dingetjie in die stad aan die Here behoort. Dít wat nie vernietig word nie, moes uitgelewer word om in diens van God gebruik te word. Versuim hieraan sou baie swaar gestraf word!

Akan het duidelik gehoor wat Josua gesê het, maar toe hy daardie vertrek binnestap en hy sien al die weelde, drup sy mond van begeerte! Die mooiste klere wat hy al ooit in sy lewe gesien het! En boonop goud en silwer in oorvloed. Niemand sal dit eers mis as hy so ‘n ou ietsie hiervan vir homself vat nie! Akan vat die beste kledingstuk, twee kilogram silwer en ‘n goudstaaf van ‘n halfkilogram. Dis al wat hy kon behartig om onder sy klere weg te steek. In vandag se terme sou hierdie spulletjie meer as R700’000 werd wees!

Akan het sommer dadelik geweet hy is in gróót moeilikheid, dus grawe hy ‘n gat in sy tent toe hulle die aand tuiskom, en begrawe sy fortuin onder die tentvloer sodat niemand óóit daarvan sou weet nie.

Met Jerigo suksesvol op sy kerfstok, begin Josua beplan vir sy volgende inname. Die stad Ai is in sy visier, en hy stuur ‘n paar manne om ‘n bietjie verkenningswerk te gaan doen. Wanneer die manne terugkom, is hulle aanbeveling dat hierdie sommer baie maklik sal gaan. Dit is nie eers nodig om die weermag te stuur nie! So twee- of drieduisend manne is genoeg om die ou stadjie in te palm. “Ons sal sommer dwarsoor hom loop!” Sonder om twee keer te dink, beveel Josua dat ‘n klein gevegseenheid van drieduisend man die stad gaan oorneem.

Maar ai tóg! Daar loop die manne hulle rieme styf! Die soldate van Ai bestorm die klompie Israeliete en verjaag hulle dat jy net hakskene sien klap. Ses en dertig Israeliete byt in die stof en die res kom bedremmeld by Gilgal aan. “Wat het gebeur?” wil Josua weet. Hy kan dit nie verstaan nie! Die Here het dan vir hom belowe…….

Josua is in sak en as. Hy skeur sy klere en gaan lê met sy gesig in die stof voor die Here se Verbondsark. Hy kerm: “Ag, as ek maar eerder anderkant die Jordaan gebly het…...” Josua se eer is gekrenk en hy voel moedeloos want sy soldate moes vir die vyand vlug. Wat ‘n skande! Sulke dinge is mos nie veronderstel om met God se volk te gebeur nie? Nou gaan die ander volke in die land mos wéét dat hulle ook maar gewone mense is wat oorwin kan word. En wat van God se eer?

Wat het gebeur? Waarom het Israel so liederlik misluk met ‘n aanval wat eintlik verspot maklik moes wees?

Daar was twee redes. Die eerste vind ons in Josua. Ons het hom leer ken as iemand wat naby aan die Here geleef het en die Here in alles geraadpleeg het. Ná die wegholoorwinning in Jerigo, het hy die leisels in sy eie hande geneem. Hy het sélf besluit hoe Ai oorrompel moes word sonder om eers vir die Here te vra wat hy moes doen. Daardie baie belangrike afhanklikheid van die Here was baie gou vergete!

Hierdie moet vir ons ook ‘n waarskuwing wees, veral wanneer dit baie goed gaan en ons só maklik kan vergeet hoe afhanklik ons werklik van Hom is.

Die hoof rede vir die nederlaag was egter die ongehoorsaamheid en gierigheid van een enkele man: Akan. Hy het van die Here gesteel toe hy die goed gevat het wat na die Here moes gaan. Niemand sou mos weet nie? Werklik? God is nie alleen almagtig nie maar ook alomteenwoordig en alsiende. Niks kan vir Hom weggesteek word nie!

Die Here sê vir Josua dat iemand van Hom gesteel het. Deur ‘n ingewikkelde siftingsproses wat die hele volk behels, word Akan se gesin uitgewys as die skuldige en Akan bieg en kom met die hele sak patats uit. Sy straf: hy en sy gesin moet uit die samelewing verwyder word. Hulle word gestenig want met sy daad het hy die dood van ses en dertig manskappe veroorsaak. Daardie vrot ertappel moes uitgehaal word voordat dit die hele sak sou bederf.

Sonde het die geneigdheid om uit te kring. As een persoon in sonde leef, het dit ‘n invloed op baie mense rondom hom. Een persoon wat vulgêre grappe vertel op ‘n partytjie, steek die ander aan om dit ook te doen!

Ons moet baie mooi besef dat ons optrede en besluite ook ander mense raak. Dit is gewoonlik eerste jou gesin wat geraak word. Ons as gelowiges moet ons dade baie fyn bereken!

Gebed:

Heilige Gees, lei my asseblief om die regte dinge te doen in volle afhanklikheid van God!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026