‘n Vaste Fondament

30 June, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Vaste Fondament

Kolossense 2:1-7

VIDEO * OUDIO

Ek het vir baie jare gewerk as tekenaar van huisplanne en ek het soms interessante versoeke gekry, om geboue te ontwerp wat dikwels baie anders is as net die gewone woonhuis. So kry ek ‘n klompie jare gelede ‘n versoek van ‘n lewensredderklub in Ballito om vir hulle ‘n gebou op die strand te ontwerp, vanwaar hulle die mense wat in die see baljaar kan dophou. Hulle was nie tevrede daarmee dat die gebou LANGS die strand staan nie. Nee, dit moes reg OP die strand staan! Ek het na allerhande kante toe begin wonder hoe jy hierdie gebou so sou anker dat ‘n rowwe see nie dalk sy fondasies sou ondergrawe nie, en uiteindelik gaan ek kers opsteek by ‘n inginieur. Hy het die saak net een kyk gegee en toe sê hy dat hy met niks minder tevrede sou wees nie as dat die fondament op soliede rots geanker word!

Geld om die plek te bou was maar baie skraps, maar die man het voet by stuk gehou en toe begin die groot grawe in die los sand vir ‘n rotsbank. Na ‘n groot gesukkel en baie swets deur die arme bouer, is die fondasies uiteindelik op ‘n soliede rots gegooi onder die watervlak en toe kon die bouwerk begin.

Nie baie ver van hierdie geboutjie af nie, beplan iemand anders ‘n rukkie later ‘n groot, duur gebou, baie naby aan die strand, maar hoog teen die duin op. Toe die konstruksiewerk begin, kom lê die stadsinginieur ‘n besoek af en hy beveel aan dat die gebou se fondamente moet rus op betonpilare wat tot op vaste rots gesink word. Vir die ontwikkelaar was dit net te veel moeite en geld en boonop was die gebou mos veilig, ver bokant seevlak! En hy volg sy eie kop!

Ballito se berugte storm het in Maart 2007 gekom en die lewensredders geboutjie is gepeper met reuse branders. Sy vensters is stukkend geslaan en alles binne in die gebou was verwoes, maar die gebou sélf het stewig bly staan op sy rotsfondament. Die ander gebou was minder “gelukkig”, want die see het gekom en al die sand van die “berg” waarop hy gebou is, onder hom uitgespoel. Alhoewel nie ‘n enkele golf eers die gebou geraak het nie, het hy inmekaar getuimel.

Met jou geloof is dit ook soos met ‘n gebou. Die Heilige Gees gee vir jou daardie kosbare geskenk met die naam “geloof”. Met hierdie geskenk het jy ‘n “kaartjie” na die ewige lewe, in Jesus Christus wat daarvoor betaal het. Hierdie geloof-geskenk is egter baie spesiaal, want jy kan hom nie maar net gaan toedraai en êrens in ‘n kas wegbêre nie! Nee, hy moet gebruik, geoefen en behoorlik gevestig word. Al te dikwels bou Christene hulle geloofshuisie sommer so goedkoop-goedkoop, sonder om eers behoorlike fondasies te lê. Om waarlik jou geloof te kan vestig is nie maklik nie! Dit kos harde werk! Ek het dit al dikwels teëgekom dat gelowiges oor hulle probleme kla. Met die eerste oogopslag sien jy dat die grootste probleem is dat die persoon nie ‘n fondament onder sy geloofsgebou het nie.

Die vraag is: hoe bou ek daardie fondament? Daar is ‘n paar elemente by betrokke: Die eerste en belangrikste is gebed. Gebed is jou kommunikasiekanaal met God. Sorg dat daar ‘n behoorlike verbinding is. Om te bid beteken nie noodwendig dat jy net in jou binnekamer vir God aanbid nie. Dit beteken dat jy ook dwarsdeur die dag, selfs by jou werk, oomblikke afknyp en stilletjies met Hom praat, sommer net gesels. Wees bewus van God se teenwoordigheid waar jy ookal gaan.

Die tweede element is om meer te wil weet van hierdie wonderlike God en Sy wil vir jou lewe. Maak ‘n studie van Sy woord. Daar is soveel wonderlike Bybelstudiegidse beskikbaar. Ek gebruik Die Bybellennium baie intensief, want dit is ‘n alles-in-een studiegids. Skakel in by ’n Bybelskool of Bybelstudiegroep. Ons gemeente het so 'n groep waar die besprekings weekliks op Youtube uitgesaai word. Kyk gerus by bit.ly/bgkbyb Dit is ’n wonderlike manier om jou fondament waarlik stewig te maak. Terloops, om maar net elke dag ‘n dagstukkie te lees, is nie Bybelstudie nie…….

Die derde element in die bou van jou geloofshuis, is om die krag wat jy in gebed kry en die kennis en insig wat jy in jou Bybelstudie kry prakties uit te leef. Oefen die dinge wat jy geleer het. Hoe doen jy dit? Die eerste stap is om gereeld met ander Christene te kommunikeer en mekaar te versterk. Dit doen jy by die kerk, selgroepe, mannebyeenkomste ens. Dit moet egter nie daar bly nie, want hierdie is slegs die werkswinkel waar jy leer en inspirasie kry. Jy moet ook skouer aan die wiel sit en jou kennis uitdra aan ander. Leef jou Christelike liefde prakties uit na buite op jou eie unieke manier. Sodoende help jy nie alleen om die Koninkryk van God uit te brei nie, maar die bonus is dat jy daarmee die fondament vir jou eie geloof verder verstewig.

Storms in die lewe is onvermydelik. Die Christengelowige wie se geloofshuis sommer so goedkoop-goedkoop gebou is, gaan groot skade kry wanneer die storm kom, maar die een wat hard gewerk het aan daardie fondament en dit op Christus gevestig het, sal staande bly.

Gebed:

Here, gee my asseblief vandag die ywer om diensbaar te wees in U Koninkryk, en herinner my gedurig aan U teenwoordigheid. Help my ook om die fondament vir my geloof te verstewig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026