‘n Uitgelese Gehoor

9 December, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Uitgelese Gehoor

Handelinge 25:13-26:32

VIDEO | OUDIO

Kyk, as daar nou ‘n familie is wat my kop hééltemal deurmekaar maak, dan is dit die Herodus familie. In vandag se verhaal lees ons alweer van een van hulle: Herodus Agrippa II. Sy pa was koning van Judea vanaf 41 tot 44 nC, maar toe hy te sterwe kom was Agrippa II nog te jonk om hom op te volg. Toe sy pa se jonger broer, ook Herodus wat koning was oor Chalkis in Palestina sterf, word Agrippa II daar as koning aangestel deur keiser Klaudius. Toe was Agrippa maar ‘n skamele 21 jaar oud. Sy suster, Bernice het by hom gebly. Sy was met sy oorlede oom Herodus van Chalkis getroud. Feliks se vrou, Drusilla was op haar beurt weer Bernice se suster. As jy nou wil praat van ‘n deurmekaarspul!

Om ‘n lang storie kort te maak: Agrippa en sy suster, Bernice besluit om vir Festus te kom verwelkom in Ceasarea en hulle vereer hom met ‘n paar dae se kuier. Festus sien hier ‘n geleentheid om ‘n oplossing te kry vir die turksvy wat Feliks vir hom agtergelaat het: Paulus. Dit is tog ironies dat Feliks vir Festus ‘n guns wou bewys om Paulus vir hom te los maar in plaas van ‘n guns, is Paulus vir hom net ‘n reuse kopseer! In groot detail vertel Festus vir Agrippa van die Joodse Raad wat Paulus aangekla het van die verskriklikste misdade maar toe die verhoor die dag kom, moet hy agterkom dat alles net gaan oor godsdienstige twispunte en nie oor ernstige politieke kwessies soos wat hy verwag het nie. Dit het gegaan oor “’n sekere Jesus wat dood is, maar Paulus beweer dat die Man lewe!”

Dit is baie duidelik dat Festus nie die vaagste idee gehad het wie Jesus is nie, of waaroor die bohaai gaan nie. Maar nou prikkel dit Agrippa se nuuskierigheid en hy wil hierdie Paulus hoor. Natúúrlik kan so ‘n “vertoning” gereël word en die volgende dag maak Festus toe sommer ‘n groot geleentheid daarvan. Almal wat saakmaak is daar, generaals, hooggeplaastes – al die héél belangrikstes. Natuurlik ook Agrippa en Bernice. “Ek weet nou nie eintlik wat ek vir die keiser moet skryf nie,” bieg Festus teenoor Agrippa wanneer Paulus ingebring word. Hy vertel vir Agrippa hoedat Paulus hom op die keiser beroep het vir ‘n verhoor maar hoe moet hy nou vir die keiser verduidelik wat die aanklag is?

Wanneer Paulus aan die woord kom, is hy in sy element. Wat ‘n wonderlike geleentheid word nie aan hom gebied nie! Hier sit ál die grootste kanonne van die land voor hom en hy het die vrye geleentheid om die Evangelie aan hulle te verkondig. Paulus laat nie op hom wag nie en met ‘n handgebaar begin hy sy lewensverhaal te vertel. Maar eers spreek hy sy innige dank uit teenoor Agrippa vir die geleentheid wat hy gebied word om met hulle te mag praat. Paulus sê dat al die Jode hom ken as ‘n Fariseër, die strengste onderhouers van die Joodse Godsdiens. Maar nou word hy júís veroordeel deur hulle op grond van die dinge wat die Skrif leer. Hy vertel van die tyd toe hy die Christene wreed vervolg het. Hy het die arme mense met straf gedwing om hulle geloof af te sweer en selfs die doodstraf vir hulle goedgekeur. Later het hy so ver gegaan om hulle in die buiteland te gaan uitsnuffel en hulle te vervolg!

Dit was juis op so ‘n buitelandse sending waar sy Damaskuservaring gekom het en Jesus Sélf aan hom verskyn het in ‘n verblindende lig. Daar het Jesus hom die opdrag gegee om Sy getuie te wees. Met groot entoesiasme vertel Paulus vir sy toehoorders presies wat daardie dag gebeur het en wat dit alles beteken en natuurlik dat hy nie anders kon as om gehoorsaam te wees aan die opdrag van Jesus nie. Hy vertel ook hoedat hy van toe af gepreek het vir almal in Damaskus, Jerusalem en Judea en daarna vir al die heidennasies en dat God hom deur alles bewaar het.

“Jy’s mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal!” skreeu Festus.

“Nee U Edele, ek praat net die waarheid onder leiding van die Heilige Gees,” antwoord Paulus hom bedaard. “Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo!” Nou verskuif Paulus sy aandag na Agrippa.

“Jy dink seker jy kan my gou-gou ‘n Christen maak?” lag die koning Paulus se ernstige vraag af. En dan draai hy na Festus: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.”

Paulus het vir ons gewys hoe om enige geleentheid aan te gryp om die Evangelie te verkondig. Die Here het die verhoog gestel en Paulus het die geleentheid aangegryp en sy hart uitgepraat. Hy het die saad van geloof gesaai en dit is al wat die Here vra. Hy vra nie dat ek en jy iemand tot geloof bring nie. Dit kan die Heilige Gees alleen doen. Hy vra net dat ons die saad van geloof moet saai by elke geleentheid wat ons gebied word. Paulus het nooit weer in sy lewe hierdie mense gesien nie maar sy boodskap was vir altyd by hulle. Wat hulle daarmee gemaak het was hulle eie saak! Hoofsaak is, Paulus het sy plig gedoen!

Gebed:

Here, vanoggend wil ek bid dat U my die vrymoedigheid en moed sal gee om die saad van die Evangelie onverskrokke te saai, sodat elkeen wat oor my pad kom die blye boodskap sal hoor!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026