‘n Nuwe Begin

2 December, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Nuwe Begin

Amos 9:11-15

Video - Oudio

Ons het by die laaste dagstukkie gekom oor Amos. Oor die afgelope maand het ons gesien hoedat Amos herhaaldelik die oordeel van die Here uitspreek oor die volk van die Here, Israel. In sy laaste perikoop kom verander alles skielik. Dit is soos om deur ‘n woestyn te strompel, waar alles vir jou naderhand totaal verlore lyk, en die dors jou oorval, sodat jy voel jy kan net eenvoudig nie verder nie. Alles is verby. En dan, as jy oor die laaste duin val, is hier skielik vlakvoor jou die lower palmbome en die heerlike koel verfrissing van die soet water van ‘n oase.

Inderdaad het die profesieë van Amos waar geword. In die jaar 722 vC is Israel (die Noordryk) verwoes, en in 586 vC was dit weer die beurt van Juda (die Suidryk) om in ballingskap weggevoer te word. Is dit die einde van die pad vir die Verbondsvolk? Het die Here hiermee die hoofstuk finaal afgesluit en die volk afgeskryf? Nee! Daardie oordeel was ‘n suiweringsproses, en daarna sou die Here weer ‘n totaal nuwe begin maak met Sy volk. Die huis van Dawid sou, soos die Here beloof het, nie tot niet gaan nie.

Hoe wonderlik is die genade van die Here nie! Saam met Amos het ons geworstel deur die woestyn van ongeregtigheid van die volk Israel. Ons het gesien hoe verskriklik hulle sondelas was, en dat hulle die arme profeet net eenvoudig uitgelag het as hy vir hulle preek. Hulle het hulle nie aan Amos gesteur nie, en nog minder aan die Here. En as sy preke te naby aan hulle lyf kom, dan het hulle hom uit die land uit probeer smyt. Die Here se oordeel was absoluut onvermydelik want Israel wou nie tot inkeer kom nie!

Nogtans gooi die Here hulle nie weg nie, en nadat hulle deur die oordeel getref is, kom Hy in Sy groot genade, en tel hulle weer op en oorlaai hulle met liefde. Die Here is nie onregverdig nie! Israel het gekry presies wat hulle verdien het. Maar die Here se genade is baie groter as Sy toorn. Ons het dit gesien in die verhaal van Jona, waar daardie onwillige profeet die oordeel van die Here moes afkondig oor die heidense stad Nineve. Hulle het verdien om van die gesig van die aarde afgevee te word. Maar toe hulle die dag berou kry oor hulle sonde, het die Here se genade ingetree, en teen Jona se wense in, het die Here die stad gespaar.

Maar wat was Amos se profesie oor Israel se herstel? Die belangrike is dat die koningshuis van Dawid, die groot koning, weer op die troon sou sit. Boonop sou die vervalle mure van Jerusalem weer herbou word om sy eertydse glorie te herwin, en die volk weer trots kan wees op sy erfenis. Maar dit is nie net op die vlak van konings en vestings wat die land herstel sou word nie, maar ook die natuur sou saamspeel en oeste lewer in oorvloed. In Israel was oestyd gewoonlik in April, en eers ses maande later kon daar weer geploeg en gesaai word na die herfsreën. Amos profeteer egter dat daar so ‘n oorvloedige vrugbaarheid sou wees, dat die boere direk na die oes weer sou kon saai.

Ook wat hulle vyande betref, sou daar vir Israel ‘n bloeityd aanbreek. Hulle sou in rus en vrede hulle stede kon herbou, sonder die vrees dat buitelandse moondhede sou inmeng. Die Here sou hulle vrede gee. Hy sou hulle voorspoed gee en oorvloed. Die klem val hier op die werk van die Here, en wat Hy doen. Nou is dit nie meer Israel se eie goedheid en hulle vernuf nie, maar die voorsiening van die Here alleen. Alles kom daarop neer dat die verbond van die Here weer volledig herstel sal word, want Hy noem hulle weer Sy Volk.

Amos kyk met hierdie profesie baie ver in die toekoms in. Alles wat voorspel was het nog nie in vervulling gegaan nie, dit was nog maar net gedeeltelik.

Ons staan vandag weereens op die drumpel van Kersfees. En ons kan nie Kersfees vier sonder om ook te dink aan die gebeure rondom die kruis nie. Soos met Israel, sien ons hier ook die toorn van die lewende God op die sonde, en die verskriklike oordeel, wanneer die lyding van Jesus op ‘n hoogtepunt gevoer word. Die verskil is dat Jesus nie die Een was wat gesondig het nie, maar dat Hy die skuld moes dra en ten volle daarvoor betaal. Maar ons durf nooit, óóit by die kruis vassteek nie, want ná die verskrikking van die kruis kom Paassondag se heerlike koel lafenis van die leë graf. En dan moet ons net weereens besef hoe groot God se genade is. Nie alleen vergewe Hy sondes en gee nuwe lewe nie, maar ná die graf vestig Hy die nuwe Koninkryk. Soos wat Amos voorspel het, is “die vervalle hut van Dawid” (Amos 9:11) weer opgerig, maar baie groter as wat Amos ooit kon droom. Daardie nasaat van Dawid bestyg die ewige troon as heerser oor Israel, maar ook oor die heelal. Sy Koninkryk is vir ewig, en ons het vandag die wonderlike voorreg om deel te wees daarvan. Ons is ambassadeurs van hierdie Koninkryk, en daarom moet ons dit bevorder en verkondig aan almal wat ore het. Wat meer is, ons is medebouers van die nuwe ryk, en in die nabye toekoms kan ons alreeds die glans sien van die nuwe Jerusalem wat besig is om te verrys!

Gebed:

Here, dankie vir ‘n Amos wat onbevrees U Woord verkondig het. En dankie vir U groot genade oor my. Ek wil ‘n ambassadeur wees van U wonderlike Koninkryk, Here, gee my die krag daarvoor.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Verraad in die Nag
30 October, 2026
Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026