‘n Loot uit die Dooie Stomp

27 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Loot uit die Dooie Stomp

Jesaja 11:1-10

'n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai,

'n loot uit sy wortels sal vrugte dra.

Verslae staar ek na die stomp. Ek het die rooiessenhout boompie met groot sorg en liefde geplant. En net om doodseker te maak dat niemand hom opvreet nie, het ek sifdraad om hom gespan. Vir maande lank hou ek hom dop, gee water, vertroetel hom liefdevol. Met vreugde sien ek hoedat hy opskiet en ‘n lowergroen jong boompie word.

En toe, een droewige oggend toe ek op die stoep uitstap en my oë oor die veld laat gaan, is daar skielik iets anders, iets wat nie meer is nie. My hart gaan staan amper as ek sien dat die draadstellasie wat my rooiessenhout beskerm plat lê. En my pragtige boompie is weg! Die koedoes het die nag die boompie stomp bokant die grond afgevreet!

Maar alles was nie verlore nie, daar was darem ‘n stompie oor! Ses maande later het die stompie uitgeloop en toe staan daar alreeds ‘n pragtige, splinternuwe boompie. Die “dooie” stomp het nuwe lewe gekry!

Jesaja skets die prentjie, dat God se oordeel oor Juda sowel as Israel onafwendbaar is. Ons het reeds gesien dat God die Assiriërs gebruik om die oordeel uit te voer.

Maar soos met my rooiessenhout, is alles nie verlore nie. Daar bly ‘n stompie oor wanneer die volk se boom afgekap is. Uit hierdie stomp ontstaan ‘n splinternuwe boom wat vrugte dra.

Jesaja wil hiermee sê dat God ‘n wonderwerk kan laat gebeur. Uit die dooie stomp kan ‘n nuwe volk ontstaan. Ons weet natuurlik dat Isai die vader van koning Dawid was. Met die woorde, dat die takkie uit die stomp van Isai sal spruit, wil hy sê dat daar ‘n nuwe Dawid sal verrys. Die Gees van die Here sal op Hom rus, en God sal Hom sélf toerus vir Sy taak. Hy sal die volmaakte koning wees, met wysheid, insig, raad, sterkte, kennis, en bo alles eerbied vir die Here (vers 2 en 3). Hierdie nuwe Dawid “sal vreugde vind in die diens van die Here” (vers 3). Hy sal dus in die allernouste verbondenheid met God leef. Hy sal ‘n ware hart hê vir die armes, maar die goddeloses sal Hy streng, maar tóg regverdig oordeel.

Dan lees ons in vers 6 van die volmaakte vredesryk wat Hy tot stand sal bring: “Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê.” Daar sal met ander woorde volmaakte harmonie wees, eerstens tussen God en mens, maar ook tussen mense asook tussen die mens en die natuur. “Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange” (vers 8).

Jesaja se boodskap is eenvoudig: wanneer God met mense begin werk, vind daar 'n wonderwerk plaas. Jy word herskep sodat daar harmonie in jou lewe tot stand kom.

Aardse konings word gewoonlik gekenmerk deur geweld, onderdrukking, bloedvergieting, magsbeheptheid. Hierdie Messiaskoning waarvan Jesaja skryf is só totaal anders, so verfrissend nuut, want anders as enige ander koning, is Syne 'n vredesryk, waar onreg en énige vorm van kwaad totaal afwesig is.

In vers 10 skryf Jesaja dat hierdie Koning “'n vaandel sal wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.

Destyds was ‘n vaandel die sentrale versamelpunt waar al die krygsmanne bymekaargekom het. Hiermee wil Jesaja dus sê dat die volke rondom die Messiaskoning bymekaar gaan kom om van Hom te kom leer.

Inderdaad het hierdie Messiaskoning alreeds gekom. Jesus se koms was die begin van die nuwe herskepping. Met Jesus se koms het ons iets gesien van die manier wat hierdie Messiaskoning regeer, van hoe Hy met groot deernis en liefde uitgereik het na mense. Ons het Sy nederigheid gesien en dat Hy selfs Sy lewe gegee het sodat ons kan lewe.

Ons sien egter vandag steeds die gebrokenheid van die wêreld, die sonde, liefdeloosheid, goddeloosheid en geweld wat hoogty vier. Dit is ‘n stukkende wêreld waarin ons bly! Ten spyte hiervan, is daar tóg alreeds baie mense wat alreeds iets van Sy herskepping ervaar het. Daar is mense wat Sy vrede deel gemaak het van hulle lewens, wat weer heel geword het van hulle gebrokenheid.

Ons moenie onsself blindstaar teen mense se gebrokenheid nie. Dit is die Messiaskoning, Jesus wat ons moet raaksien! Ons moet ons oë oopmaak en Sy wonderlike vredesryk raaksien. As jy dit nog nie ervaar het nie, nooi Hy jou vandag uit om deel te word van daardie wonderlike transformasie wat alleen Hy kan gee, die transformasie van ‘n gebroke na ‘n herstelde mens.

Gebed:

Dankie Here, dat U my ook heelgemaak het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026