‘n Kind sterf - ‘n Kind Gebore

25 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Kind sterf - ‘n Kind Gebore

2 Samuel 12:15-25

VIDEO | OUDIO

Vir Dawid is dit ‘n vreugdevolle dag wanneer sy seun gebore word. Sy pragtige jong vrou, Batseba straal van geluk, want vir die eerste keer sedert Urija se tragiese dood is daar nou weer ‘n bondeltjie vreugde in haar arms.

Maar dan word die baba dodelik siek. En Dawid weet presies waarom dit gebeur, want die profeet Natan het hom vertel dat dit sou gebeur. “Here, kan hierdie verskriklike straf nie asseblief maar van my weggeneem word nie?” bid hy al snikkende. “U het my vergewe, maar deur my sonde word hierdie onskuldige baba getref. O, hoe berou ek die dag dat ek my aan die versoekings toegegee het. En nou ly ‘n onskuldige as gevolg van my sondes!”

Met groot kommer moet Dawid se amptenare en paleispersoneel toekyk hoedat die groot koning dag-vir-dag kwyn. Hy huil en spandeer ure lank in gebed en smeking. Later gaan lê Dawid op die grond en smeek God om tog af te sien van hierdie verskriklike ding. Maar sy kind se toestand versleg by die uur. Dawid weier om sy mond aan kos te sit en die kommer van sy amptenare raak al groter. “Asseblief Majesteit, eet tog net iets! U moet kos in u liggaam kry vir krag....”

Maar Dawid weier volstrek. Hy lê net daar op die grond en huil onbedaarlik. Vir sewe dae hou dit so aan. En dan sterf die kindjie. Wanneer die nuus die amptenare bereik, is hulle te bang om dit aan Dawid oor te dra. Bekommerd fluister hulle onder mekaar: “As hy so verskriklik reageer het oor die kindjie se siekte - wat sal sy reaksie wees as hy moet hoor dat die kind dood is?”

Dawid merk op dat hier iets aan die gang is: “Is die kind dood?” wil hy weet. Die manne hou asem op oor die Koning se reaksie - gaan hy nou iets onbesonne aanvang?

Dawid staan egter kalm op, gaan was hom en smeer reukolie aan sy lyf. Dan stap hy na die heiligdom en gaan bid: “Here, dankie dat alles verby is.....” Dan stap hy huistoe.

“Is daar nie iets te ete vir ‘n honger man nie?” vra hy vir sy verbaasde amptenare. “Ek sterf van die honger!” Almal spring om vir hom iets te ete aanmekaar te slaan. Hulle verstaan nie! Jy is tog mos veronderstel om te rou as jou kind dood is, maar hierdie Koning doen die ding totaal verkeerd om! Hy het gerou toe die kindjie geleef het en noudat hy dood is, nou eet en drink hy! Hoe werk dit?

Dawid verduidelik vir hulle dat hy gevas, gebid en gehuil het, want hy het gehoop dat God hom genadig sou wees. Maar nou is die kind dood - waarom moet hy dan nog vas? Dit sal mos nie die kindjie laat terugkom nie?

Baie mense worstel vandag met presies dieselfde probleem. ‘n Kind, lewensmaat of geliefde is deur die dood van jou weggeneem. Hoe reageer jy? Dit is maar net natuurlik dat ‘n mens bedroef sal wees. Jou geliefde sal jy in hierdie lewe nie weer sien nie en daar is die leë plekkie in jou lewe. Dit laat ‘n baie groot leemte in jou, want die een met wie jy altyd gesels - jou diepste geheime mee deel - is nie meer daar nie. Maar eintlik is dit soos iemand wat verhuis het en nou baie ver weg woon. Eendag sal julle mekaar weer sien. Die verlange is maar altyd daar, maar die uitsien na daardie eendag se weersiens maak die verlange sagter.

Daar is egter ‘n ander manier om die situasie te hanteer en dit is met bittere rou en selfverwyt en dalk selfs woede. So ‘n reaksie maak jouself ongelukkig en ook almal met wie jy in aanraking kom. En dit sal die geliefde beslis nie terugbring nie!

Dawid tree pro-aktief op. Die dood het nie ‘n houvas op sy lewe nie. As hy sy liggaam versterk het met kos, gaan hy na die bedroefde Batseba en troos haar. God se genade oor Dawid is groot, want nie lank daarna nie vertel Batseba hom met ‘n vonkel in die oog dat sy weer swanger is. Dit is ‘n vreugdevolle dag in Dawid en Batseba se lewe as hulle seuntjie gebore word. Dawid noem hom Salomo wat afgelei is van Shalom (vrede.) Dit was waarskynlik 'n teken dat Dawid en Batseba vrede gemaak het met die dood van hulle eerste kind. Ten spyte van Dawid en Batseba se owerspel en moord, gee die Here steeds vir hulle hierdie kindjie. Die skrywer van die verhaal lê klem daarop dat die Here hierdie kind liefhet en vir hom groot begaafdheid gee.

Natan was die een wat vir Dawid die oordeel van die Here moes afkondig oor sy gruwelike sonde. En nou kry Natan ’n nuwe opdrag van God. Hy moet weereens na Koning Dawid se paleis gaan. Daar sal hy die kindjie sien van Dawid en Batseba. Hierdie kind is baie spesiaal “want Ek het hom baie lief” sê die Here vir Natan. Wanneer hy dus by Dawid kom, noem hy die kindjie “Jedidja” wat beteken: “Die Here het hom lief”. Vir klein Salomo het die Here baie groot planne!

Gebed:

Here, dankie vir U groot genade ook oor my vandag, want ten spyte van my sondes het U my wonderlik geseën!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026