Efesiërs 6:18-24
Eerste aan die beurt van die soldaat se toerusting, is ‘n baie belangrike ding in ‘n man en veral ‘n soldaat se kleredrag, sy gordel. Ons kan dit in moderne taal as die soldaat se “webbing” beskryf, daardie veeldoelige seillyfband wat nie net sy broek bo hou nie, maar waaraan sy waterbottel, ammunisie, wapen, rugsak en veel meer hang. In Paulus se tyd was die heupgordel vir ‘n soldaat uiters belangrik. Nie alleen het sy swaard en dolk daaraan gehang nie, maar dit moes ook sy klere bymekaar hou sodat hy nie daaroor sou struikel nie. Vandag sou ons sê dat dit ‘n man se broek bo hou! Sonder die gordel beland die broek maklik om jou knieë en dan val jy baie hard!
Paulus vergelyk die gordel met die Waarheid. Een van die kragtigste wapens van ons vyand is leuens. Die duiwel het dit alreeds in die tuin van Eden gebruik toe hy vir Eva verlei het met ‘n liederlike leuen oor God se bedoelings: “Is dit werklik so dat God gesê het julle mag nie van enige boom in die tuin eet nie?” (Gen. 3:1). Hy kamoefleer dit dikwels baie goed om presies soos die waarheid te lyk!
Vandag word die leuen-vraag dikwels gebruik om selfs gelowiges te laat struikel: “Dink jy nou rêrag dat daardie hoogverhewe God Hom met jou, nietige mensie sal bemoei?” of “Glo jy werklik dat jy die ewige lewe kan kry deur net in Jesus te glo? Dis mos belaglik!” Ons moderne tegnologie maak dit vandag baie maklik om leuens te versprei. Daagliks vlieg miljoene blatante leuens oor die sosiale media rond en hulle word dikwels só goed verdoesel dat ons dit sommer maklik vir soetkoek opvreet! Die vyand is só slinks dat hy dikwels selfs ‘n versie uit die Bybel, die Woord van God aanhaal en ‘n leuen rondom dit bou! Hy het selfs uit die Bybel aangehaal toe hy Jesus in die woestyn versoek het! (Lukas 4). Elke versie in die Bybel moet in sy konteks gelees word en boonop gemeet word aan die boodskap van die Bybel in sy geheel.
Leuens laat jou struikel, maar met die gordel van waarheid om jou te beskerm, keer dit dat jy val. Die vraag is, waar kry ons daardie waarheid?
Die antwoord is eintlik baie eenvoudig: ons kry dit in die Bybel, die Woord van God! Die Heilige Gees gebruik onder meer die Bybel om die waarheid aan ons te openbaar. As ek my hart oopmaak vir die influistering van die Heilige Gees, maak Hy my oë oop wanneer ek die Bybel lees sodat ek die waarheid daarin kan sien en ter harte neem.
Die volgende is ‘n eeue-oue vraag: “Wat is dan die waarheid?”
Die Bybel is boordensvol geprop van die waarheid, van die héél eerste bladsy van Genesis af tot die laaste bladsy van Openbaring. Dit vertel van God se almag, Sy liefde, geregtigheid, genade en nog baie ander dinge. Die waarheid behels onder meer talle beloftes wat vir ons opgesluit lê in die Woord. Dit bevat ook talle waarskuwings oor sonde en die slinksheid en mag van die vyand.
Hier volg enkele voorbeelde van die waarheid wat ons in die Bybel aantref.
In Eksodus 20:2 stel die Here Homself bekend as die Lewende God wat persoonlik vir ons omgee: “Ek is die Here jou God.”
In Johannes 3:16 sê Jesus dat Hy ‘n liefdevolle God is wat omgee: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
In Johannes 3:18 maak Jesus dit duidelik dat daar wél ‘n oordeel is, maar dat daar redding in Jesus is: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie.”
In Romeine 3:23 sien ons dat niemand onskuldig is nie, maar dat God genadig is: “Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus.”
Romeine 6:23 vertel van oordeel en genade: “Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
1 Johannes 5:13 gee aan elke gelowige die sekerheid van verlossing: “Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die Seun van God glo.”
Hierdie is maar enkele voorbeelde van die waarheid wat in die Woord beskryf word. Delf in die Woord en maak dit jou eie!
Gebed:
Wonderlike Here, wanneer ek deur die bladsye van U Woord blaai, gryp die waarheid my aan die hart. Ek lees daarin dat U van my verwag om nie te sondig nie, maar terselfdertyd sien ek U onmeetlike liefde en genade. Ek kan U nie genoeg loof en dank daarvoor nie!