Moses se Opdrag

2 February, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moses se Opdrag

Eksodus 3:7-22

VIDEO * OUDIO

Moses staan kaalvoet op die brandende woestynklippies in vrees en bewing voor God teen die hange van die berg Horeb. Sy gesig is bedek, want hy is te bang om God te aanskou, dié God wat hy gladnie ken nie. In die paleis is hy opgevoed om Ra, Isis en Osiris, die gode van Egipte te aanbid, dooie gode wat in tempels aangehou word en deur priesters bedien word. Niemand het hulle nog ooit hoor praat nie, al wil die priesters soms voorgee dat hulle in gesprek was met die gode. Maar Moses ken daardie skelm klomp priesters se streke baie goed!

Hier het hy egter nou skielik uit die bloute te doen met ‘n Lewende God, Een wat met hom praat! “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding.”

Anders as die gevoellose, dikwels wrede gode van Egipte, gee hierdie God om! Hy sien die lyding raak!

Dan verduidelik God vir Moses dat Hy die volk gaan bevry uit Egipte en dat Hy hulle gaan laat trek na ‘n uitgestrekte land wat oorloop van melk en heuning. Moses luister in verwondering. Hy het lankal besluit dat hy beslis nie meer ‘n Egiptenaar is nie, maar dat hy eintlik deel is van daardie volk wat so swaarkry onder sy stief-oupa se klipharde hand. Inderdaad het die berigte Moses bereik dat die ou man dood is, en dat daar ‘n nuwe Farao in sy plek is.

As Egiptiese prins het Moses geleer van hierdie land waarvan God praat, en hy weet maar al te goed dat hierdie beslis nie ‘n onbewoonde land is nie. Nou herinner God hom ook aan al die verskillende volke wat daar woon of wat ‘n aandeel in die land het. Ja, nie alleen is daar die Semitiese volke wat al vir baie jare die land bewoon nie, maar daar is ook volke soos die magtige Hetiete van Klein-Asië wat daar ‘n aandeel het.

En dan skrik Moses hom yskoud as hy God hoor sê: “Daarom stuur ek JOU na die Farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

Moses voel sy knieë knak: “Ek Here? Nee dit kan tog nie wees nie! Wie is ek dan nou? Ek kan dit nie eers waag om naby die Farao te kom nie!” Skielik doem die prentjie voor Moses op, van driemiljoen weerbarstige Israeliete aan die een kant, en ‘n woedende Farao aan die ander kant wat van sy dwangarbeiders beroof word. Hierdie is moeilikheid soek!

“Ek sal by jou wees.” verseker God vir Moses, as Hy sien hoe bang Moses skielik geword het.

Dan besef Moses dat hy nie eers weet Wie hierdie God is nie. Al wat hy weet is dat dit die God van sy voorvaders is. Maar Wie is Hy? “Wat moet ek vir die volk sê - wie is dit wat my gestuur het? Ek weet nie eers wat U Naam is nie!”

Toe antwoord God vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is. Sê vir die Israeliete, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ” Moses moet vir die Israeliete verduidelik dat Hy die God is van hulle voorvaders, van Abraham, Isak en Jakob - hulle sal wél verstaan! Hy moet ook vir hulle sê dat God hulle nog nooit vergeet het nie, en dat Hy baie deeglik bewus is van wat die Egiptenare aan hulle doen, en dat Hy besluit het dat Hy hulle gaan laat wegtrek uit daardie ellende na die wonderlike land van melk en heuning. “Die leiers van Israel sal na jou luister,” verseker God vir Moses.

Om die Israeliete te oortuig, is slegs die eerste deel. Maar dan kom die groot taak - om die Egiptiese Farao te oortuig! God berei dan ook vir Moses voor, dat die Farao beslis gaan weier! Maar Moses moenie bekommerd wees nie, want God is in beheer, en Hy sal sorg dat die Farao hulle uiteindelik sal laat gaan.

Vir Moses moes hierdie opdrag van God aan hom baie groter gelyk het as die berg Horeb hier voor hom. Kom ek en jy nie ook dikwels te staan voor sulke “onmoontlike” opdragte van God nie? Dan wil ons probeer kop uittrek, want ons sal dit nóóit kan regkry nie!

God het wonderlik voorsien! Ons ken almal die verhaal van die Farao se weiering, die tien plae en die uittog. Ten spyte van Moses se onwilligheid en sy spraakgebrek, het God hom een van die grootste leiers óóit gemaak! Hy het geleer om God ten volle te vertrou, selfs toe hulle teen die Rietsee vasgekeer was, en dit gelyk het asof daar géén uitkoms was nie! God se genade vir Moses asook die volk Israel was onmeetlik groot, ten spyte van hulle weerbarstigheid en gedurige gemor.

En wat van die opdrag wat God vir jou gegee het? Staan jy steeds en verskonings uitdink om daar uit te kom? Het jy dalk nie gehoor toe God vir jou gesê het dat Hy vir jou die wysheid en krag daarvoor sal voorsien nie? Wees vandag verseker dat God se onmeetlike genade steeds vir jou daar is in oorvloed!

Gebed:

Here, maak my asseblief gewillig om te doen wat U van my vra. Ek besef vanoggend weereens dat U my nie alleen los nie, maar dat U my deur U taak sal dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026