Moenie Begeer Nie!

16 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moenie Begeer Nie!

Eksodus 20:15-17

???? VIDEO | ???? OUDIO

Jy mag nie steel nie. Kort en bondig, so lui die agtste gebod! Die vraag wat ek myself vanoggend moet vra is, wat is diefstal dan nou eintlik? Is dit slegs daardie rower wat in die nag kom en my eiendom sonder my toestemming wegdra? Moontlik was dit die enigste betekenis in Moses se tyd, maar in ons moderne samelewing kring dit véél wyer uit. Vergeet nou maar eers die ander mense wat gedurig ons eiendom bedreig. Kom ons kyk na onsself en sien of ons nie dalk iewers besig is om te steel nie!

As jy in jou werk nie jou kant bring nie en nie die werk lewer waarvoor jy betaal word nie, beweeg jy al op gevaarlike terrein. As jy byvoorbeeld sit en speletjies speel op die rekenaar in werktyd, is dit beslis diefstal van jou werknemer se tyd. Deur te kul met jou inkomstebelasting is diefstal. Om by die werk ‘n pen in jou sak te druk sonder toestemming, is diefstal. Diefstal beteken om nie jou medemens se eiendom te respekteer nie - hoe minderwaardig dit okal mag wees. Dit kan tyd wees, geld, selfs intellektuele eiendom soos byvoorbeeld om kopiereg te skend!

Daardie vyf woordjies: “Jy mag nie steel nie” se omvang is vir ons vandag baie groot. Ons moet onthou dat hierdie ‘n baie basiese riglyn is. Wanneer die Tien Gebooie later uitgebrei word met die liefdesgebod: Dat jy die Here sowel as jou naaste moet liefhê, dan begin die tien gebooie eers waarlik bene en spiere kry. As jy waarlik jou naaste liefhet, sal jy respek hê vir sy eiendom. En soos Jesus laat blyk het: Jou vyand is óók jou naaste!

Die negende gebod is ook een wat ‘n baie groter betekenis het as wat daar geskryf staan: “Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.” Soos wat ons dit hier lees, beteken dit bloot dat wanneer ek as getuie in ‘n hof geroep word, dat ek slegs die waarheid sal praat. Maar dit het baie wyer implikasies - dit geld nie net vir die regsproses nie, maar vir die hele lewe. Deur byvoorbeeld die waarheid so effentjies te verdraai, kan jy baie mense bitter seermaak. Om ‘n voorbeeld te noem: daar verskyn ‘n tyd gelede ‘n berig in een van ons koerante met die opskrif: “NG Kerk, Bank Plunder SA Glo.” Die berig het gehandel oor beweerde plundering van die land se staatskas in die apartheidsjare. In die berig word die NG Kerk nêrens verder genoem nie, maar die kerk word verdag gemaak met die opskrif. Met hierdie soort beriggewing kan gróót skade berokken word. Daar was wél nie direk ‘n leuen betrokke nie, maar die stelling is op so ‘n manier gemaak dat dit verdag lyk en dus “vals getuienis” is.

Die tiende gebod sny baie dieper as die ander gebooie, want dit handel oor die innerlike wat ander mense nie kan sien nie - jou begeertes. Sien, die probleem is dat ‘n mens se begeertes dikwels oorgaan tot die dade. Die lysie wat in hierdie gebod genoem word, reflekteer die sosiale en ekonomiese omstandighede van ‘n paar duisend jaar gelede. Vandag is dit natuurlik baie anders, maar die wese van die gebod bly presies dieselfde. Nee, ons begeer nie meer donkies, beeste en slawe nie, maar daar is ander dinge wat van jou hart ‘n moordkuil kan maak.

‘n Eenvoudige begeerte soos byvoorbeeld om ryk te wees, kan ‘n hele kettingreaksie by ‘n mens ontketen. Dit kan baie onskuldig begin deur jouself te dryf om baie hard te werk om die hoogste sport te bereik. Al jou tyd word aan jou werk bestee, en jou gesin word afgeskeep en so ook jou geesteslewe. Later word hierdie obsessie so groot dat jy nie omgee om op ander mense te trap nie, solank jy net kry wat jy wil hê. Hoe verder jy vorder, hoe meer intens raak jou begeerte en dit kan nooit werklik bevredig word nie. Jy is uiteindelik bereid om enigiets te doen vir geld - selfs steel en mense bedrieg.

Presies dieselfde geld vir die begeerte na mag. Mense se magsbeheptheid het al tot die dood van miljoene onskuldige mense gelei!

‘n Baie algemene begeerte, is die een vir ‘n ander persoon. As man sien jy eers net haar aanloklike bates raak, maar dan begin dit groei in jou hart totdat daar ‘n “onskuldige” flirtasie begin, en later ‘n skelm verhouding wat uiteindelik lei tot die verbrokkeling van jou huwelik en bittere pyn vir baie mense.

Die vraag is: hoe beheer ek my begeertes? Deur genoeg plek in jou lewe te gee vir die Heilige Gees om jou lewe te beheer. Hoe nader ek aan God leef, hoe minder plek is daar in my lewe vir slegte begeertes. O ja, en daar is ook goeie begeertes soos die begeerte om God te dien!

Ons kan die Tien Gebooie opsom deur te sê dat hierdie ‘n riglyn is vir ons verhouding met God en met ons medemens. Jesus het die Tien Gebooie vir ons lewend kom maak deur te verduidelik dat die diepste wese van die Tien Gebooie liefde is - liefde vir God en liefde vir jou naaste (Matt 22:37-40). In ons samelewing vandag is dit noodsaaklik dat ons hierdie liefde op ‘n praktiese en positiewe manier uitleef - nie as ‘n ry “moenies” nie, maar pro-aktief. As daar byvoorbeeld staan: “Jy mag nie steel nie” moet ons die positiewe doen deur eerder te gee waar daar nood is. Dit kan egter slegs gedoen word as ons ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad het, anders is dit sinneloos. En ons kan slegs hierdie liefde uitleef in die krag wat die Heilige Gees vir ons gee. In ons eie krag sal dit ‘n hopelose situasie wees!

Gebed:

Here, help my asseblief om U liefde positief uit te leef in die wêreld!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026