1 Samuel 18:17-30
Saul begin besef dat hy 'n fout gemaak het om vir Merab weg te gee aan daardie Megolatiet. Hiermee het hy sy kanse verbrou om vir Dawid om te koop om te gaan oorlog maak. Maar Saul ontdek dan sy troefkaart - Mikal sy jonger dogter! Sy het so terloops laat val dat sy beenaf is op Dawid. Saul kom hiervan te hore, en sy eerste reaksie is een van woede, want hoe kan sy eie dogter dan op sy grootste vyand gaan staan en verlief raak?! Wanneer Saul die manne uitvra hieroor, vertel hulle hom dat Dawid sélf ook maar met sulke verliefde ogies na Mikal kyk. Skielik val alles vir Saul in plek. “Nou sal ek my strategie baie mooi moet beplan!” En só begin Saul slinkse plannetjies maak!
Saul se verwarde verstand werk oortyd - al wat hy wil hê is dat Dawid moet sneuwel. Maar die mannetjie is so glad soos 'n paling, hy wen net eenvoudig elke veldslag! “Nee, daar moet 'n ander manier wees.....” Saul is bereid om sy eie mooi dogter se geluk op die spel te plaas om van Dawid ontslae te raak. Die een vyand waarmee Dawid nog nie te doene gekry het sedert Goliat nie, is die Filistyne. Hulle is 'n gedugte klomp en Saul is baie seker dat Dawid tweedebeste daarvan gaan afkom as hy in hulle slaai moet gaan krap. “Ek sal vir Mikal as lokaas gebruik om Dawid in die strik te laat trap. Jy speel nie met die Filistyne nie!”
Saul is skelm, haatdraend en slinks, en hy is beslis ook nie dom nie! Hy weet sommer dat Dawid nie weer gaan val vir sy aanbod nie, dus sê hy sy amptenare aan om Dawid te gaan sagmaak. Hulle moet hom in die oor gaan fluister van hoe baie die koning in werklikheid van Dawid hou en hoe vreeslik jammer hy is oor sy verskriklike flater, en dat hy steeds vir Dawid wil hê as sy skoonseun. Dawid vertrou egter gladnie die vrede nie. Met geveinste beskeidenheid laat val hy: “Ek is arm en 'n nikswerd - ek kan tog nie die koning se skoonseun word nie?”
Wanneer Saul dit hoor, sien hy hoe sy plannetjie sink. Hy besluit om aas uit te gooi wat Dawid nie durf ignoreer nie! “Luister mooi,” sê hy vir sy amptenare, “sorg dat dit baie subtiel by Dawid uitkom dat ek wil wraak neem op die Filistyne. Fluister dit in sy oor dat julle toevallig gehoor het dat ek sê dat ek bereid is om Mikal vir hom as vrou te gee as hy maar net vir my 100 Filistyne doodmaak. Ek wil natuurlik die bewys sien - hy moet hulle voorhuide afsny en dit vir my bring.” As hy aan hierdie een byt, sal hy sékerlik nie oorleef nie - die Filistyne sal hom beslis afslag! Saul lag in sy baard vir sy slim set.....
Die amptenare maak soos die koning beveel en daar word in Dawid se oor gefluister “wat ons so heel toevallig gehoor het.....” Dawid luister aandagtig. “Maar jy sal jou seker nie aan só 'n ding steur nie?” gooi een kêrel die aas nog aanlokliker.
“Inderdáád gaan ek my daaraan steur, as die koning miskien dink dat ek 'n bangbroek is, dan maak hy 'n groot fout!” Hy roep dadelik sy manskappe bymekaar: “Kom manne, ons het nie tyd om te verspeel nie, daar wag vir ons 'n oes van voorhuide!” En daarmee vertrek hulle.
Die Filistyne word onverhoeds betrap, en Dawid en sy manne tree weereens as oorwinnaars uit die stryd. Nie 100 nie, maar 200 Filistyne byt in die stof, en Dawid keer terug na Saul met sy grusame oes van 200 Filistynse voorhuide. Saul se mond hang onbeskaamd oop van verbasing as hy Dawid daar glimlaggend sien staan. “Dan het hy dit sowaar oorleef!” dink hy grimmig. “Maar sy dag sal kom, daarvoor sal ek toesien!”
Dawid is in die wolke want Saul is verplig om hom sy bruid te gee, die mooiste in die ganse Israel! En Mikal val oor haar eie voete van pure verliefdheid.
En Saul? Die donker wolk oor sy gemoed het nou pikswart geword! Aan die een kant was hy bitter bang vir Dawid, want hy kon duidelik sien dat die Here by Dawid was in alles wat hy gedoen het. Aan die ander kant wou haat, nyd en afguns teenoor Dawid hom opvreet. Dawid het nou sy vyand nommer een geword!
Vir die Filistyne was hierdie natuurlik óók 'n bitter pil om te sluk! Hulle was woedend want dit was ‘n vernederende nederlaag wat Dawid hulle toegedien het. Keer op keer het hulle teen die Israeliete opgetrek om weerwraak te neem, maar elke keer was dit maar net weer daardie jong soldaat, Dawid wat in hulle pad gestaan en hulle net maar net nóg 'n keer verneder het. Dawid het baie groot aansien gekry onder al die soldate én onder die hele volk - net nie by Saul nie!
Ons wil die Ou Testament dikwels sien as wreed en bloeddorstig. Dis egter soos almal daardie tyd geleef het. As jy nie daarby kon aanpas nie, sou jy beslis nie kon oorleef nie. Kom ons kyk eerder verby die geweld en sien die Here se wonderlike sorg en liefde raak! Ons sien ook hoedat Hy ten spyte van al die gruwelike dinge, steeds in beheer was en steeds Sy wonderlike raadsplan laat uitwerk het tot heil van diegene wat in Hom geglo het. Hy is vandag steeds presies dieselfde, en ons kan steeds, ten spyte van die wêreld se geweld, sonde, korrupsie, oorloë en Goddeloosheid, Sy liefde, sorg en genade sien in die lewens van húlle wat glo!
Gebed:
Here, hou my asseblief staande wanneer ek al die geweld en Goddeloosheid om my aanskou!