Miga van Moreset

6 January, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Miga van Moreset

Miga 1:1

Video - Oudio

Is dit ooit belangrik om die eerste paar lyntjies van ‘n Bybelboek te lees? Dis gewoonlik mos maar net ‘n groet of iets! Niks belangrik nie…...

Dikwels is daar baie meer opgesluit in so ‘n inleiding as wat dit op die oog af lyk. ‘n Enkele paar woorde kan dikwels ‘n groot klomp inligting bevat, wat dalk baie belangrik kan wees. Dit kan jou inligting gee oor die skrywer, die tyd waarin die boek geskryf is, aan wie dit gerig is, en selfs waaroor die boek gaan.

So lees ons net so terloops sommer verby die inleiding van Miga se brief, en dink nie eers verder daaraan nie. Maar kom ons gaan kyk ‘n bietjie in diepte wat in hierdie eerste niksseggende lyntjies staan en dan besin ons oor die implikasies van hierdie inleiding.

Die héél eerste ding wat my opval is die eerste vier woorde: “Die Woord van die Here....” Miga maak doodseker dat hy nie met allerhande tierlantyntjies begin nie, maar dat elke leser wat hierdie boek optel reg van die eerste woorde af sal weet dat dit nie die profeet Miga is wat hierdie dinge kwytraak nie. Dit is nie maar ‘n paar gedagtetjies wat hy gehad het oor die lewe nie. Inteendeel: Wat in hierdie boek staan is die Woord van die Here wat hom gedring het om alles op te teken. Die Heilige Gees het dus hierdie dinge vir Miga op die hart gelê. Wanneer ons dus lees van veroordelings en teregwysings, mag ons dit nie ligtelik opneem nie, want dit is God se Woord wat tot die leser spreek. En ons mag dit ook nie afmaak as iets wat Miga vir Samaria en Jerusalem alleen geskryf het nie, want God se Woord is tydloos en ewig, en die blote feit dat hierdie profetiese werk as deel van die Bybel opgeneem is, sê vandag vir ons dat ons deeglik kennis moet neem van wat hier geskryf is, en dat ons ook ons eie lewens daaraan moet gaan toets.

Eerstens is dit seker belangrik dat ons darem moet weet wie Miga nou eintlik was. Al wat hierdie profeet van homself sê, is dat hy Miga van Moreset is. Dit beteken natuurlik nie dat hy in Moreset was toe hy die boek geskryf het nie, maar dit beteken dat hy van Moreset afkomstig was. Ons sien dit dikwels in die Bybel, byvoorbeeld Simon van Serene. Daar was ‘n paar manne met die naam Simon (onder andere Simon Petrus), en deur sy naam te koppel aan die dorp van sy herkoms, onderskei hy hom van ander mense met dieselfde naam. Miga het sy uitsprake gemaak in Jerusalem. Die naam Miga beteken: “Wie is soos die Here?” Moreset was ‘n dorpie sowat veertig kilometer suidwes van Jerusalem.

Van die profeet self weet ons eintlik niks nie. Hy skryf nie oor homself nie, en elders in die Bybel word daar maar min oor hom geskryf. Daar is slegs enkele aanhalings uit sy boek, soos byvoorbeeld Matteus 2:6, waar van sy profetiese woorde oor Jesus aangehaal word. Dan is daar ook ‘n verwysing na Miga deur Jeremia (Jeremia 26:18) waar hy sê dat Miga voorspel het dat Sion soos ‘n land omgeploeg sou word en dat Jerusalem ‘n puinhoop sou word.

Dit gaan met ander woorde in hierdie boek gladnie oor Miga nie, maar oor wat God aan hom openbaar het. Dikwels lees ons in ‘n boek se voorwoord hoe die skrywer opgehemel word. Hier is dit baie beslis nie die geval nie. Miga bly totaal op die agtergrond, dit is die saak wat vir hom voorop staan.

As ons verder na die inleiding van die boek kyk, sien ons dat Miga dit wat hy geskryf het, koppel aan ‘n spesifieke tydperk in die geskiedenis. Daar was spesifieke konings wat in daardie tyd regeer het, naamlik Jotam, Agas en Hiskia. En dit gaan oor spesifieke plekke soos Samaria en Jerusalem. Dit was nie sommer profesieë wat in die lug gehang het nie, dit was werklikheid - historiese situasies. God se Woord is nie iets wat in die lug hang, ver verwyder van ons mense af nie. Sy Woord is konkreet, vir spesifieke mense en spesifieke omstandighede.

Verder moet ons ook besef dat God se Woord tydloos is, net soos God Self, en daarom het dit ook net soveel betrekking op ons eie spesifieke omstandighede vandag, 2700 jaar later. Wanneer ons dus hierdie boek lees, sal dit beslis vandag vir my en jou iets sê oor ons eie lewens en omstandighede.

Verder kan ons ook uit hierdie inleiding sien dat die boek ‘n spesifieke gerigtheid het. Dit gaan oor die hoofstede van die Noordryk (Samaria) en Judea (Jerusalem). Wanneer die hoofstad van ‘n land aangespreek word, dan het dit betrekking op die hele land, want die land word beheer vanuit die hoofstad. Miga spreek met ander woorde die twee koninkryke aan wat onder die regering staan van die Israeliete.

En omdat hierdie ‘n tydlose profesie is, spreek dit vandag ook vir Suid-Afrika aan, en almal wat in hierdie land woon. So ook Australië en Brittanje, of waar jy ookal mag woon.

Kom ons neem die Woord van God ter harte en luister wat Miga, die woordvoerder van die Heilige God vir ons wil sê.

Gebed:

Here, dankie vir U heilige Woord wat tydloos is. Maak asseblief my hart oop om ontvanklik te wees vir U Woord.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026