Met God Versoen

28 June, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Met God Versoen

Kolossense 1:21-23

VIDEO * OUDIO

In drie versies beskryf Paulus hoe die Kolossense was, hoe hulle nou is na Jesus se versoening en hoe hulle verder behoort te wees.

Paulus begin deur hulle te herinner aan wat hulle voorheen was, voordat hulle God geken het. Dit is nie 'n mooi prentjie nie want hulle was vyandiggesind teenoor God. Géén normale mens wil óóit hoor dat hy ‘n vyand van God is nie! Nogtans beweer Paulus dat hulle wél God se vyande was. Inderdaad kan selfs ‘n “goeie” mens, iemand wat ‘n mooi en vreedsame lewe lei, ‘n vyand van God wees. Die feit is dat as jy nie God waarlik aanbid en dien nie, dan is jy outomaties deel van die geledere van die duiwel en ons weet mos dat die duiwel God se grootste teenstander en vyand is!

Een van die groot probleme wat so ‘n vyandskap veroorsaak, is dat dit ‘n muur bou tussen jou en God. Jy word, met ander woorde, verwyder van God. Paulus skryf dan ook vir die Kolossense dat hulle ver van God af was. Een van die groot kenmerke van só ‘n lewe ver van God af, is ‘n sondige lewenswyse. Dit kan een van baie dinge beteken, soos byvoorbeeld ‘n ooglopende sondige lewe waar jy roekeloos God se wet oortree. Dit kan egter ook ‘n geheime sondige lewe wees, waar jou uiterlike vertoon baie mooi is, maar jy vuil van binne is. Of dit kan bloot wees dat jy nie doen wat God van jou vra nie.

As iemand egter bereid is om die volle pad met God te loop en sy volle vertroue op God alleen te plaas, gebeur wonderlike dinge in jou lewe. Die grootste wonderwerk is egter dat ‘n mens wat ‘n totale vyand van God is, uit die vuil, donker poel van verlorenheid geruk word en skoon gewas word deur Jesus se kosbare bloed om sodoende vir God aanvaarbaar te word. Ja, so 'n persoon kan selfs aangeneem word as God se eie kind! Daar is ‘n legio verhale van mense wat hiervan kan getuig, mense wat oorgegaan het van ‘n lewe van sondige vyandskap teenoor God na vrygekoopte, bruikbare en nuttige burgers in die Koninkryk van God.

Paulus skryf hier aan die Kolossense ook van soortgelyke dinge wat met húlle gebeur het. Alhoewel hulle ook eers ver van God af was en in vyandskap met God geleef het, het God versoening bewerkstellig en vrede gemaak met hulle. Hy het Sy Seun, Jesus gegee om te sterf aan die kruis sodat Hy op hierdie manier die straf vir sonde wat húlle eintlik moes kry, op Hom geneem het en só die volle prys betaal het sodat húlle vergifnis kon kry. Die wonderlike is dat God die sonde waarin hulle voortgeploeter het totaal vergewe het en hulle “sonder smet en onberispelik” gemaak het.

Maar dit is nie nét die mense van Kolosse wat daarby baat nie. Ek en jy baat presies op dieselfde wyse vandag daarby. Ons kan daardie selfde versoening kry as ons maar net in Jesus glo as Verlosser.

God vra egter ook nou van die Kolossense om ‘n teenprestasie te lewer. Hulle kan mos nie nou maar net gaan sit en niks doen nie! Hulle moet in die geloof bly vasstaan, “stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring.” (v.23). Met ander woorde, soos ‘n paal wat stewig geplant is! Natuurlik geld hierdie dinge ook vandag vir jou en my.

Ons moet egter baie mooi verstaan dat hierdie “teenprestasie” wat ons lewer, absoluut niks te doen het met ons redding nie. Met ons héél beste pogings kan ons nie ons eie redding bewerkstellig, of God se guns daarmee koop nie. Dit is suiwer uit genade dat ons gered is. Jesus het absoluut alles gedoen wat nodig is vir ons redding. Ons doen hierdie dinge slegs om een enkele rede, om dankie te sê vir wat God alreeds vir ons gedoen het.

Paulus vermaan die Kolossense om vas en sterk in die geloof te bly staan en hulle nie te laat losruk van die geloof nie. Die vraag is, hoe doen jy dit? Een van die grootste redes waarom mense begin wankel en losgeruk word van hulle geloof, is wanneer hulle begin lou raak en nie meer die gemeenskap met ander gelowiges beoefen nie. “Ek kyk kerk op TV” is ‘n baie algemene verskoning om weg te bly van eredienste af. Niks verkeerd om kerk te kyk op TV nie, maar dit mag nooit vir jou ‘n plaasvervanger wees vir ‘n lewendige byeenkoms nie, tensy dit nie anders kan nie. Een van die hoof funksies van ‘n erediens en ander byeenkomste is juis sodat gelowiges mekaar kan versterk en ondersteun. Die boodskap is wel baie belangrik, maar dit is slegs maar één van die elemente van ‘n erediens. As jy slegs na die boodskap op die TV kyk, mis jy uit op al die ander.

As ons nie vasstaan in ons geloof nie, sal ons losgeruk en verswelg word deur die vyand. Kom ons doen alles wat nodig is om vas te staan.

Gebed:

Here, dankie vir mense soos Paulus wat vir ons ‘n voorbeeld van arbeidsaamheid in U Koninkryk kon stel. Help my om lewendig en diensbaar te wees vir U, en om altyd vas te staan in die geloof wat U my gegee het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026