Medewerkers in die Koninkryk

10 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Medewerkers in die Koninkryk

Filemon 1:1-3

VIDEO * OUDIO

Om mure af te breek, is nie heeltemal so eenvoudig nie! Ek besluit mos nie sommer net een mooi dag dat ek nou ‘n muur gaan afbreek, en dan klim ek in met die voorhamer nie? Nee, sulke breekwerk verg in die eerste plek ‘n deeglike motivering. Ek moet besluit waarom dit nodig is om die muur af te breek. En dan, nog belangriker, breek ek mos nie sommer ‘n muur af omdat ek kwaad is vir hom nie. Ek doen dit omdat dit absoluut nodig is. Verder moet ek doodseker maak dat dit nie elders gaan skade aanrig nie!

Ek het eenmaal gaan kyk hoedat ‘n tienverdieping gebou in Durban gesloop word. Daar was maande se deeglike berekeninge en beplanning gedoen deur ingenieurs en plofstofdeskundiges. Toe die dag aanbreek dat die gebou moes val, was daar slegs ‘n klein ontploffing, en toe sak die hele massiewe gebou saggies inmekaar sonder om eers ‘n enkele venster te breek van die omliggende geboue! Die afbreekproses moet met groot omsigtigheid gedoen word.

Presies só was dit ook vir Paulus met Filemon. Hy het sékerlik lank beplan voordat hy hierdie brief geskryf het, want dit moes mure afbreek - geestelike mure, en dit was ‘n uiters sensitiewe saak! Hy moes baie versigtig te werk gaan sodat hy nie skade aanrig in die proses nie. Die Man aan wie hy skryf, was ‘n groot aanwins vir die Koninkryk van God, en Paulus wou dit so bewaar.

Paulus was op daardie stadium in die tronk, maar hy het nie alleen gewerk nie. In die brief-aanhef skryf hy dat Timoteus sy mede-outeur is. Hy was ook mede-outeur van die twee Tessalonisensebriewe, 2 Korintiërs, Filippense en Kolossense. Hy het ‘n baie groot rol in Paulus se lewe gespeel.

Maar waarom gebruik Paulus dan juis vir Timoteus? Wat het van hom so ’n besonderse mens gemaak, dat Paulus hom gebruik het as mede-outeur van sy briewe?

Paulus het hom op sy tweede sendingreis leer ken, en dadelik gesien dat hierdie jongman groot potensiaal gehad het. Hy was van gemengde herkoms - sy ma was Joods en sy pa ’n Griek. Paulus het Timoteus tot só ‘n mate vertrou dat hy hom gestuur het om die gemeente in Tessalonika namens hom te gaan besoek. Later was daar groot probleme in Korinte, en weereens was dit Timoteus wat moes gaan vure doodslaan. Uiteindelik het Paulus vir Timoteus in Efese agtergelaat om daardie jong gemeente te bedien en op te bou as leraar.

Is dit nie wonderlik as iemand oor jou pad gestuur word wat jy ten volle kan vertrou nie? Iemand aan wie jy selfs jou grootste probleme kan toevertrou! Wat ‘n wonderlike voorreg is dit, as ek en jy daardie persoon vir iemand kan wees en dat daar van ons gesê kan word dat ons sovéél kan beteken vir iemand wat in die bediening staan. Dit maak die verkondiging van die Evangelie vir hom maklik, en al is jy nie eers iemand wat die Woord verkondig nie, het jy steeds dan direk deel aan die uitdra van die Evangelie.

Hierdie brief van Paulus gaan egter nie oor Timoteus nie, maar wel oor iemand anders wat nét so ‘n groot voorslag was in sy gemeente: Filemon. Hy het deur Paulus se bediening in Kolosse tot bekering gekom. As ons tussen die lyne deur lees, dan lyk dit asof hy ‘n welaf man was, ‘n Griekse grondeienaar. In daardie jare was daar nog nie kerkgeboue nie, en die gemeentes was dus genoodsaak om by huise bymekaar te kom, maar ook uit vrees vir vervolging. Ons kan aanneem dat Filemon ‘n baie groot huis gehad het, en dat hy nie suinig was om sy huis beskikbaar te stel vir die gemeente nie. Hulle het dus gereeld daar bymekaar gekom om kerk te hou. Paulus het groot agting gehad vir Filemon en vir wat hy bereid was om vir die gemeente te doen. Hy meld ook in sy brief dat hy gereeld vir Filemon bid, en dat hy baie dankbaar is teenoor die Here vir Filemon.

Paulus noem Filemon sy vriend en “medewerker”. Ons weet nie of Filemon die Woord verkondig het nie, maar slegs deur sy huis beskikbaar te stel vir mense om daar kerk te hou, is hy alreeds ‘n medewerker.

Die vraag is, tot watter mate is ons “medewerkers” in die Koninkryk van God? Lees ons maar net die Bybel en ‘n dagstukkie, bid en gaan kerk toe? Of is ons aktief betrokke op die een of ander wyse?

Drie mense waarvan ons vanoggend gelees het, het Jesus se liefde prakties uitgeleef: Paulus, Timoteus en Filemon. Ek wil vanoggend ‘n beroep op jou doen om dieselfde te doen. Wees kreatief en soek maniere waarop jy liefde kan uitleef.

Gebed:

Here, maak asseblief my oë oop en wys my hoe ek U wonderbare liefde prakties kan uitstraal na die wêreld daar buite!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026