Maria Magdalena

3 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Maria Magdalena

Johannes 20:1-18

Video

Audio

Daardie Sabbat was sekerlik die langste een in die ganse lewe van die dissipels. Hulle het elke oomblik daarvan omgewens. Die Sondagoggend was nog pikdonker, toe is Maria Magdalena al op pad na Jesus se graf. Wat sy so vroeg daar wou gaan doen, sou net sy weet. Dalk wou sy maar net naby haar Meester wees, al was Hy dan ook dood. Die nag was te lank, en sy het troos nodig gehad. Ek kan die prentjie sien van die huilende vrou wat in die donker aansukkel, bedroef omdat sy in haar geliefde Meester se donkerste uur, Hom nie eers kon bystaan nie. Sy kon maar net toekyk hoe die lewe uit Hom sypel daar aan die kruis.

Maria Magdalena is ’n belangrike vrou in die Nuwe Testament. Lukas vertel dat sy van sewe duiwels besete was. Ná haar genesing het sy saam met ‘n klompie ander vroue vir Jesus en sy twaalf dissipels gesorg. In ‘n volgende dagstukkie vertel ek meer hieroor.

Magdalena was nie haar tweede naam of van, soos meeste mense dink nie. Dit was ‘n bynaam wat sy gekry het omdat sy van Magdala afkomstig was. Sy was een van die bittereinder vroue wat dit gewaag het om naby Jesus te bly tydens Sy kruisiging, en sy het ook gehelp met Sy begrafnis. Maria Magdalena was dus baie geheg aan Jesus, en het Hom enduit gevolg.

In die skemerdonker kom Maria by die graf aan. En dan die verskriklike skok: die klip is weggerol! Met ‘n hart wat in haar keel klop, hardloop sy al die pad terug na waar die bedroefde dissipels bymekaar is. Sy skud Petrus wakker om hom die skokkende nuus te vertel: “Iemand het Jesus se lyk gesteel!”

Ek kan my voorstel die skok en afgryse op arme ou Petrus se gesig. Hy en Johannes spring op en hardloop so vinnig hulle kan om te gaan kyk wat aangaan. “Hoe kón hulle!” maal dit deur hulle koppe. Met hygende asem kom Johannes eerste by die graf aan. Hy kyk in, en dan sien hy iets baie snaaks: Ja, die graf is leeg, maar die doeke wat om Jesus se lyk gedraai was, lê steeds daar. Dan kom Petrus daar aan, en al hygende kruip hy in die graf in. Wat hy daar vind, plaas ‘n reuse vraagteken op sy gesig. Hy verstaan dit nie! Géén dief sou ‘n liggaam steel en eers die doodsdoeke afhaal nie! Selfs die doek wat om Jesus se kop gedraai was, lê daar eenkant, netjies opgevou. Iets is baie, baie snaaks hier! En hy verstaan dit gladnie! Dit maak net eenvoudig nie sin nie. Ek sou wát wou gee om die gesprek te kon hoor tussen die twee bekommerde manne toe hulle huistoe stap!

Intussen kom Maria Magdalena weer by die graf aan, al snikkende, haar hart is verskeur! Nou is haar Meester nie alleen dood nie, maar Sy lyk is boonop gesteel ook! Wat ‘n droewige situasie! Vol verwagting loer sy by die graf in. Het sy dalk ‘n wonderwerk verwag? Het sy gehoop dat Jesus nog daar sou lê? En dan, die skok as sy twee baie vreemde manne met spierwit klere in die graf sien sit. Dit was eers baie later wat sy besef het dat hulle engele was. Die hemel het waarlik oopgegaan met Jesus se opstanding, net soos wat Jesus voorspel het in Johannes 1:51. As sy omdraai, sien sy vir Jesus agter haar staan. Deur haar trane herken sy Hom eers gladnie. Hy was die héél laaste Persoon wat sy daar sou verwag. Maar as Jesus haar vol deernis op haar naam aanspreek, “Maria!” is dit asof die skille van haar oë afval. Hy leef! Sy wil Hom vasgryp en nooit ooit weer los nie! Maria Magdalena is oorstelp van vreugde. Dan het alles tóg gebeur soos wat Hy voorspel het!

In my geestesoog kan ek die prentjie voor my sien: Maria wat aan die voete van haar geliefde Rabboenie (Leermeester) neerval en Hom om die bene gryp en vashou en druk van pure blydskap. Sy het sékerlik sy voete onbeheers gesoen en gehuil van vreugde!

Maar dan gee Jesus haar ‘n opdrag: Nee, sy moenie hier aan Hom vasklou nie, maar sy moet eers vir die ander gaan vertel wat sy gesien het. Sy moet ‘n getuie wees van die opgestane Jesus. Later sou Jesus Sélf hierdie getuienis van haar kom bekragtig. Maar nou moet sy eers die ongelooflike nuus gaan oordra.

Maria het nie gras onder haar voete laat groei nie. “Ek het die Here gesien!” borrel dit oor haar lippe wanneer sy by die ander aankom, “Ek het die Here gesien!” As sy tot bedaring kom, vertel sy verder: “Hy het gesê dat Hy na Sy Vader toe gaan opvaar. En Hy het ook gesê dat Sy Vader óns Vader is, en dat Sy God óns God is!” Oor en oor en oor het Maria hierdie wonderlike getuienis vertel aan elkeen wie sy teëgekom het. Sy kon net eenvoudig hieroor nie stilbly nie. Die Here het wáárlik opgestaan!

Is dit nie ironies nie, dat ‘n eenvoudige vrou wat niks beteken in die samelewing nie, een wat op ‘n tyd van sewe duiwels besete was, die eerste kragtige getuie word vir die opgestane Jesus. En dan dink ons terug aan die Samaritaanse vrou by die put, die een met die bitter twyfelagtige karakter. Sy het ‘n hele dorp in beroering gehad met haar getuienis oor Jesus. Dan het ek en jy absoluut géén verskoning om ook ‘n getuie te wees nie. Kom ons maak werk daarvan, en wees getuies van die Jesus wat opgestaan het en wat vandag lewe en regeer.

Gebed:

Here, maak my asseblief ‘n kragtige getuie vir U. Gee my asseblief die vrymoedigheid om vir U te getuig teenoor almal wat ek teëkom.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026