Maak Tog Gou Asseblief!

8 June, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Maak Tog Gou Asseblief!

Matteus 9:18-26

VIDEO | OUDIO

Die arme man is radeloos. By die minuut versleg Jaïrus se dogtertjie se toestand. Die dokters het hande in die lug gegooi. Hy moet hulpeloos toekyk hoe haar lewe besig is om weg te glip! Die feit dat hy ‘n geëerde raadslid van die sinagoge is, help net mooi niks! Stadig begin ‘n gedagte by hom posvat: daardie Jesus waarvan hy die berigte gehoor het, Hy is mos glo ‘n Wondergeneser...... Maar dan wil hy die gedagte uit sy kop skuif. Wat gaan sy kollegas daarvan sê as hy nou hierdie Man se hulp inroep? Elkeen van die raadslede wil slange vang as jy net Jesus se Naam noem! Hoe gaan dit nou lyk as hy vir Jesus om hulp gaan vra? Die ander ringkoppe gaan hom beslis braai! Maar Jaïrus is radeloos! Sy lieflingdogtertjie is belangriker as die opinies van die “wyse” manne. Daar is géén ander opsie nie.

Dit voel vir Jaïrus soos ‘n nimmereindigende pad na Nasaret. Sy asem jaag want hy kan nie bekostig om een oomblik te rus nie. As hy maar net betyds is! Dit neem nie lank om uit te vind waar Jesus Hom bevind nie. Gerugte oor Jesus is op almal se lippe. “My dogtertjie het seker alreeds gesterf,” maal dit die hele tyd deur sy gedagtes, “Jesus is my enigste hoop om haar nog te kan red!” Hy hardloop so vinnig as wat sy twee voete hom kan dra. Sy asem brand in sy longe. Wanneer Jaïrus in Nasaret aankom gee sy oorwerkte hart so ’n ekstra sprong want van ver af sien hy al die skare mense, en hy weet dat redding in sig is. Hy bars deur die skare en val voor Jesus se voete neer. Dan snik hy dit uit: “Here, my dogtertjie het pas gesterf, maar kom lê u hand op haar, en sy sal leef.”

Jesus besef dadelik hoe dringend hierdie saak is en Hy staan op waar Hy besig was om vir die skare te preek. “Kom, ons gaan kyk na jou dogtertjie,” troos Hy vir Jaïrus. Haastig begin hulle na Jaïrus se huis stap.

Maar dan kom daar ‘n wrede onderbreking. ‘n Vrou beur deur die skare. Sy het ‘n probleem: sy ly aan “bloedvloeiing” vir baie jare al, en sy is moedeloos. Sy word as “onrein” beskou, en sy mag dus gladnie eers met mense in aanraking kom nie. As sy tog net aan Jesus se klere kan raak………..

Joodse mans het ‘n gebedsmantel oftewel ‘n talit gedra. Aan die vier hoeke van hierdie talit is tosseltjies vasgewerk. Hulle word tzitzit genoem en hulle moes jou herinner aan God se gebooie (Numeri 15:38-41). Sommige mense het geglo dat daar ‘n krag uitstraal van hierdie tzitzit tosseltjies, omdat dit indirek die simbool van God is. Hierdie vrou wou waarskynlik net raak aan daardie magiese tosseltjies aan Jesus se mantel sodat sy daardeur die krag van God sou kon ervaar. Jesus is immers ‘n “Profeet” en dus kon die krag uit Sy tzitzit-tosseltjies vir haar genesing bring.

Jesus draai om, Hy wil weet wie aan sy klere geraak het. Die dissipels is vererg, want almal stamp en beur om by Jesus uit te kom. Nou wil Hy weet wie aan Hom geraak het? Almal raak aan Hom! Maar Jesus wil eers weet, en dan bieg die vrou en vertel sy haar verhaal.

‘n Mens voel lus om vir Jesus te sê: “Die dogtertjie! Dis dringend! Die vrou kan mos maar ‘n bietjie wag, Here! Sy loop in elkgeval al vir twaalf jaar lank met hierdie kwaal rond! Haar probleem gaan beslis nie vererger nie, en nog ‘n uur of twee sal sékerlik nie verskil maak nie!”

Jesus wil egter éérs na haar behoeftes omsien, want vir Hom is dit belangrik. Terwyl ek en jy en die dissipels op en af spring van ongeduld omdat Jesus so talm met hierdie dringende saak van die sterwende dogtertjie, gesels Jesus eers rustig met die vrou. Hy vertel vir haar dat haar geloof haar gered het. Vir hierdie vrou het haar genesing vir haar die wêreld oopgemaak, want vir die eerste keer in baie jare is sy weer waarlik mens!

Eers dán wy Jesus weer sy volle aandag aan die raadslid en sy dogtertjie, wat intussen sékerlik al dood is!

By Jaïrus se huis aangekom, draal die droewige, klaende klanke van doodsfluite en roubeklaers se jammerlike gekerm. “Gaan weg!” verwilder Jesus hulle tot groot ontsteltenis van die familie. “Sy is nie dood nie - sy slaap net!” Hulle lag Hom uit: hoe kan Hy so ‘n belaglike ding kwytraak? Almal het tog gesien dat die kind dood is! Sy is al yskoud!

Dan loop Jesus die huis in. Dosyne nuuskierige oë volg Hom. Gaan Hy vandag die totaal onmoontlike regkry? Nee, beslis nie sommer nie! Mense wat dood is raak verséker nie weer lewendig nie! En as Hy gedink het dat die kind net slaap - hulle hét mos gesien wat hulle gesien het! Vandag gaan Hy sékerlik tweedebeste hiervan afkom.

Jesus neem die kind se hand liefderik in Sy hande. “Talita, koem!” hoor hulle die woorde uitgesweef kom, “Dogtertjie, staan op!” (Markus 5:41). En dan, voor die verbaasde oë van die skeptiese mense sit sy regop - springlewendig en blakend gesond.

Binne minute is daar nie ‘n enkele mens in die dorp wat nie weet van die asemrowende wonderwerk wat in Jaïrus se huis gebeur het nie!

Gebed:

Here Jesus, slegs U kan lewe gee - U is die enigste Weg tot die ewige lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026