Maak Jou Keuse

2 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Maak Jou Keuse

Johannes 1:6-13

VIDEO OUDIO

Voordat ons ‘n Lister kragopwekker gekry het, was ons toenterjare aangewese op kerse vir lig op ons plaas. In elke kamer was daar een en hulle moes die klipharde donker sag maak. In die eetkamer, daar waar ons saans gesit en gesels het om die tafel en waar alles maar gebeur het, het Ouma egter saans die Aladdin lamp aangesteek. Hierdie lamp het ‘n baie delikate asbes sakkie gehad wat skitter-wit gegloei het en ‘n helder wit lig gegee het wat alles om jou verlig. Daar was nou vir jou ‘n wáre lig!

Johannes skryf van Johannes die Doper. Hy was soos ‘n kersie, nou nie juis die ware lig nie maar sy doel in die lewe was om voorbrand te maak vir die wáre Lig wat op pad was. Hy moes kom getuig en dit het hy met volle oorgawe gedoen, soveel só dat dit hom uiteindelik sy lewe gekos het!

Ek en jy is inderdaad óók kersies. Ons doel is ook om van die ware Lig te getuig. Die vraag is egter wat ons met ons kersliggies maak? Laat ons hulle skyn of steek ons hulle weg?

Maar dit is nie waaroor dit in hierdie gedeelte gaan nie. Hier gaan dit oor die ware Lig, daardie Een wat soos die Aladdin lamp Sy ligglans skitterwit versprei: Jesus!

Ons ou Aladdin lamp het sy lig gegee in die eetkamer waar ons gesin saans saam was. Jy kon op een van twee maniere daarop reageer: Jy kon daar in die glans van die lig bly, of jy kon uit die vertrek stap, die donker in. Die keuse was joune. Die wêreld het ook verskillend gereageer op die ware Lig, Jesus. Sommige het eenvoudig die rug op Hom gedraai en die duisternis ingestap. Ander het weer met vreugde Sy lig aanvaar in die geloof. En daarmee kom ons by een van die belangrikste aspekte van die Evangelie, naamlik dat jy daardeur gedwing word om ‘n keuse te maak. Elkeen wie se pad Jesus s’n gekruis het, móés net eenvoudig ‘n besluit neem. Daarna is jy nooit weer dieselfde nie. Jy kan nooit ‘n neutrale keuse maak nie. Jy kan Hom nie net eenvoudig ignoreer nie. Jy moet besluit vír of téén Hom. Hierdie besluit kan jou totale lewe vir altyd verander.

In vers 10 en 11 vertel Johannes juis van ‘n groep mense wat besluit het téén Jesus. Hulle wou Hom nie as verlosser aanvaar nie. Die tragiese en baie vreemde is dat hierdie mense die eiendom van die Woord is. Hy het hulle geskep, maar skielik wou hulle niks van Hom weet nie. Hulle wou Hom nie erken nie. Erger nog: hulle wou Hom nie eers kén nie. As Johannes sê dat hulle Sy eiendom is, dan is dit nie maar net ‘n lewelose stuk eiendom nie. Die woord dui eintlik iets van familie aan, dus beteken dit eerder dat hulle deel van Sy familie is en dat hulle na Sy beeld geskep is. As jy na ‘n familielid van jou sou stap vir wie jy baie omgee, en die persoon gee jou ‘n vuil kyk, draai sy rug op jou en loop weg - hoe sou jy voel? Beslis baie seergemaak! So moet Jesus seker ook voel oor elkeen wat Hom as Messias verwerp!

Gelukkig het almal egter nie hulle rug op Hom gedraai nie. Johannes noem van diegene wat Hom aangeneem het. Wat beteken dit om Jesus aan te neem? Om te glo in Hom as jou Verlosser. Dit behels ‘n persoonlike verhouding met Jesus waar jy jou totale vertroue op Hom plaas en Hom onvoorwaardelik liefhet. Van Sy kant af reageer Hy deur jou op te neem in Sy familiekring. Jy word ‘n kind van God en dus deel van die intieme gesin van Jesus. Hoe word ‘n mens deel van ‘n gesin? Deur geboorte. Wanneer ‘n baba gebore word, is hy outomaties deel van die gesin. Het hy enige aandeel in hierdie geboorteproses? Nee! Mamma doen al die harde werk. In die gesin van God is dit die Heilige Gees wat jou die wedergeboorte gee. Later, in hoofstuk 3 sal ons sien hoe Jesus vir Nikodemus verduidelik van hierdie wedergeboorte.

“Maar dit maak nie sin nie!”, hoor ek al hoe iemand vir my sê, “Eers sê jy EK moet Jesus aanneem, en dan sê jy weer God doen alles. Watter een is reg?”

Het jy al ooit op ‘n treinspoor gaan staan en die spore goed bekyk? Waar kom hulle bymekaar? Nee, hulle kan nie, want hulle is parallel aan mekaar. Maar die feit is dat hulle in presies dieselfde rigting gaan. Maar ‘n trein kan nie op slegs een spoor ry nie. Hy het altwee nodig. Net so is hierdie twee gedagtes albei waar! Ja, God doen al die werk. En ja, ek moet die besluit neem. Dit is twee paralelle lyne wat albei nodig is vir ‘n mens om ‘n kind van God te kan word. As die een weggelaat word, gaan jou lewenstreintjie verseker ontspoor, want hy kan óók nie op net een spoor loop nie.

Ek weet vanoggend dat die meeste mense wat hierdie dagstukkie lees alreeds deel is van die gesin van God. Ek weet egter ook dat daar vanoggend iemand is wat hierdie lees wat nog nie die besluit gemaak het om deel te word van die gesin nie. As dit jy is, dan wil ek pleit by jou om dit vandag nog te doen. Jou aandeel in die “transaksie” is maar baie klein. Hy doen al die res! Whatsapp my gerus by 082 771 4925.

Gebed:

Here, ek bid vanoggend vir elkeen wat nog nie die besluit geneem het om U te volg nie. Lê asseblief die begeerte in hulle harte om ook U kinders te wil wees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026