Openbaring 3:14-22
Die brief aan die gemeente in Laodisea is die laaste van sewe briewe. Laodisea was die rykste stad in Frigië. Die stad was veral beroemd vir sy florerende tekstielnywerheid, sy banksentrum en sy mediese skool wat wêreldberoemd was vir sy oog- en oorsalf. Sommige van die gemeentelede het skatryk geword in hierdie bruisende stad.
Wat was hierdie welvarende gemeente se reaksie toe hulle hierdie brief ontvang? Ek weet wat mý reaksie sou wees! Een van totale misnoë! Want anders as Filadelfia, waarvan daar net mooi dinge gesê is, is daar geen lof vir hierdie gemeente nie. Hulle word hard oor die vingers getik, want hulle is lou - nie koud nie, ook nie warm nie, lou!
My eerste vroeë koppie stomende boeretroos elke oggend, is ‘n groot lekkerte. Daardie heerlike warm kôfetjie laat my hele liggaam eintlik gloei van lekkerkry. Heerlik! Maar uit my kindertyd was daar ‘n ander gróót lekkerte wat totaal die teenoorgestelde was as stomende koffie, die fontein op ons plaas! Menigmaal het ek plat op my maag gaan lê by die fontein, en die heerlike soet, yskoue water wat daar onder die reuse ou granietrotse uitborrel opgeslurp totdat ek trommeldik gedrink was. Ek kon net eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie.
Maar het jy al ooit louwarm water probeer drink? Dis jiggie! En veral as dit nog so ‘n vrot-eier klankie daaraan het. By die oog van Badplaas het ek jare gelede met ‘n blikemmertjie water geskep en sommer vir die aardigheid gedrink. Buiten nou vir die aaklige reuk, het die water boonop ook goor gesmaak, deels omdat dit louwarm was.
Wat maak Laodisea se mense so jiggie-louwarm? Dalk was dit hierdie skatryk mense se rykdom wat hulle selftevrede gemaak het. “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie!” - dit was die mense se oortuiging. Hulle het begin dink dat hulle totaal selfversorgend en onafhanklik was, en hulle het nooit besef dat hulle in werklikheid ellendig, beklaenswaardig, arm, blind, kaal was nie! Hulle het begin vergeet van hulle totale afhanklikheid van Jesus, en vanwaar hulle rykdom werklik vandaan gekom het.
Nee, dis nie verkeerd om ryk te wees nie. Ek ken skatryk mense wat baie naby aan die Here leef, en steeds hulle afhanklikheid van Hom, die Gewer van alle dinge besef, en boonop hulle rykdom vir Koninkrykswerk aanwend. Dit is egter so maklik, wanneer jy ryk is, om van Jesus te vergeet. ‘n Ryk mens moet dus dubbel so hard werk aan sy geloof om brandend vir Christus te bly.
Johannes skryf dat Jesus sê dat hulle die regte dinge met hulle rykdom moet koop: goud wat deur vuur gelouter is, wit klere, en oogsalf. Die goud wat Christus louter of suiwer is geestelike geloofsrykdom wat deur die waarheid gelouter is. Die mense van Laodisea weet alles van die tekstielbedryf af, dus kon Johannes nie veel vir hulle sê as hy praat van wit klere nie. Hierdie klere is egter anders, want wit klere simboliseer reinheid en suiwerheid, en daarsonder kan hulle nie voor God verskyn nie.
Hulle verstaan ook waarvan gepraat word as Jesus sê dat hulle oogsalf moet koop, want is dit dan nie wat hulle stad wêreldberoemd gemaak het nie? Maar hierdie oogsalf waarvan Jesus praat is baie anders, in dié sin dat dit hulle nie fisies laat sien nie, maar geestelik. Sonder Jesus se oogsalf sal hulle geestelik blind wees.
Om te koop beteken ook nie dat hulle met hulle fisiese rykdom hierdie dinge kan bekom nie, maar hulle moet alleen in geloof die geestelike voordele aanvaar wat Jesus reeds verdien, en baie duur gekoop het.
Jesus het hard met hierdie gemeente gepraat, en seer getrap op ‘n hele paar liddorings. Dit beteken egter nie dat Hy hulle afgeskryf het of verstoot het nie, al het hulle Hom bitter teleurgestel. Inteendeel, Hy het hulle steeds lief, en Hy tug hulle juis om hulle terug te wen. Hy staan gereed met ‘n heerlike feesmaal vir die dag wanneer hierdie afvalliges gehoor gee aan Sy pleidooi om vir Hom oop te maak.
Jesus praat deur hierdie brief, nie alleen met die gemeente van Laodisea nie, maar met elkeen wat lou geword het, diegene wie se geloof afgekoel het. Hy wil hê dat jy weer warm gloei en vol geesdrif jou geloof uitleef. Dié wat oorwin, sal saam met Jesus heers op die troon.
Die sewe briewe wat Johannes opgeteken het, is gedikteer deur Jesus persoonlik Sélf! Hulle moet elke gelowige dwing tot selfondersoek en ‘n bekering tot die verheerlikte Jesus Christus. Hulle het my met splinternuwe oë na Openbaring laat kyk. En jy, wat van jou?
Gebed:
Dankie Here Jesus vir hierdie briewe wat spesiaal aan my gerig is. Help my asseblief om die dinge wat U daarin van my vra, uit te leef met my hele hart.