Matteus 8:1-17
Tydens Jesus se preek op die berg, het almal baie gou agtergekom met watter groot gesag Hy gepraat het. Hy het die skares stom gelaat, en duisende mense het behóórlik aan Sy lippe gehang. Mooi woorde beteken egter niks as dit nie met dade bevestig kan word nie. Hierdie waarheid sien ons dikwels by die manne en vroue in hoë politieke kringe. Daar word keer op keer die mooiste inspirerende toesprake gehou en die wonderlikste beloftes gemaak. En dan kom daar gewoonlik dadels van. Die man op straat raak woedend omdat die beloftes leeg bly. Ons sien daagliks hoedat mense woedend in opstand kom omdat daar net leë beloftes is van huise en dienslewering, maar daar kom absoluut niks van nie. Vullis en rommel lê die dorpe vol en die rioolstelsels werk nie meer nie. Ons riviere en damme word vergiftig omdat dit net by praat bly en die woorde nie in dade oorgaan nie.
Matteus wys vir ons dat Jesus soveel anders is. Hy is op pad van die berg af na Kapernaum, waar Hy en die twaalf bly. Skielik is daar konsternasie as ‘n melaatse man deur die skare beur om by Jesus hulp te vra. As melaatse is hy ‘n uitgeworpene uit die samelewing. Almal vermy hom. Die wet verbied hom enige kontak met mense, want melaatsheid is dodelik aansteeklik. Hy kan swaar gestraf word as hy tussen ander mense instap. Hierdie desperate man waag dus baie deur na Jesus te gaan en boonop tussen die skare deur te loop. Jy mag nie ‘n melaatse aanraak nie, want dan is jy óók onrein. Jesus skroom egter nie om aan die melaatse te vat nie. Hy plaas Sy eie reputasie op die spel en wys so dat liefde dus van jou meer vra as wat gewoonlik verwag word.
Jesus-hulle het skaars in Kapernaum aangekom, of ‘n Romeinse offisier kom na Jesus. Hy is iemand wat die Jode met haat vervul by die blote noem van sy naam. Alhoewel hy ‘n man van aansien is, en ‘n goeie posisie in die weermag beklee, is hy nie ‘n Jood nie, en die Jode minag hom met ‘n passie. Hy is immers deel van hulle vyand, hulle onderdrukkers, die Romeine. Hoe durf hy, wat absoluut géén deel het aan die Jode en hulle geloof nie, by Jesus, die Seun van Dawid, kom aanklop om hulp? Maar die situasie is nog veel erger: dit is nie vir homself of sy familie nie, maar vir ‘n stuk nikswerd eiendom, ‘n slaaf! Hierdie offisier kom verneder homself om vir ‘n Jood om hulp te kom vra vir ‘n slaaf!
Ek sien hier ‘n man wat werklik omgee, want ‘n slaaf was in daardie dae die absolute laagste klas mens, en hulle is dikwels soos diere behandel. Nogtans het hierdie geharde Romein die deernis in sy hart gehad om om te gee vir daardie slaaf.
Jesus sien sy deernis en sy geloof raak, en sy slaaf word oombliklik genees. Hiermee wys Jesus dat Hy nie alleen mooi dinge kan sê nie, maar dit prakties uitleef. As Hy sê dat jy jou vyand moet liefhê, wys Hy hoe jy daardie liefde in die praktyk moet toepas.
By Petrus se huis in Kapernaum, tref hulle nóg ‘n uitgeworpene aan in nood, Petrus se skoonma. As vrou is sy maar net ‘n stuk eiendom in die Joodse kultuur. Boonop is sy ‘n skoonma! Daar lê sy met ‘n hoë koors, en sy vra nie eers vir hulp nie, want sy weet dat sy nie hulp werd is nie. As vrou is sy wél minder belangrik, maar vir Jesus is sy van die uiterste belang, want sy is ‘n mens! Sonder dat sy daarvoor vra, vat Jesus aan haar hand, en skielik is die koors weg, en sy is sprankelend gesond.
Matteus skryf dat daar daardie nag nog talle mense na Jesus gekom het, en Hy het al die siekes gesond gemaak en bose geeste uitgedryf.
Ek het aan die begin gesê dat woorde sonder dade betekenisloos is. Jesus het hier gedemonstreer hoe ons die dinge waarvan Hy gepraat het kan en moet uitleef. Vir ‘n gelowige om bloot maar te sê: “Ek glo in Jesus!” is betekenisloos as die dinge wat jy doen nie wys wat daardie geloof beteken nie. In die vorige gedeeltes het ons duidelik gesien dat jou dade ‘n stempel is op dít wat jy bely. Vandag demonstreer Jesus prakties dat dit nie alleen maar genoeg is om te sê dat jy lief is vir jou naaste nie, maar dat jy moet uitspring en iets daadwerklik doen om sy nood te verlig. Maar Hy gaan veel verder, en Hy demonstreer dat dit nie noodwendig die mense in jou vriendekring of jou familiekring is wat jou praktiese liefde moet ontvang nie, maar ook die mense daar buite. Die uitgeworpenes uit die samelewing het dikwels jou praktiese liefde baie nodiger as die mense wat vir jou maklik is om lief te hê. Die vuil, stinkende boemelaar, die bedelaar, die buurman wat jou so baie moeilikheid gee, die omgesukkelde baas wat almal haat, hulle is almal mense en ook God se kinders!
Kom ons maak ‘n punt daarvan om vandag ons liefde prakties uit te leef aan elkeen wat oor ons pad kom!
Gebed:
Here, ek moet vanoggend bely dat my geloof dikwels net teoreties is, en dat die praktiese ontbreek. Help my asseblief om my liefde waarlik uit te leef.